Moses 2 vers 6 – Hoe verkry ek die Krag van God?

Psalm 34:18  (34:19) “Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.”

Psalm 51:17 “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”

Die basiese behoefte van ‘n dissipel van Jesus Christus is nie meer krag nie, maar meer gebrokenheid. Die meerderheid Christene vandag is nie veel anders as die oorspronklike twaalf dissipels van Jesus nie. Ons sien dat die twaalf stry oor wie die grootste is, wie aan sy regter of linkerkant gaan sit, ‘n versoek dat Hy vuur uit die hemel sal laat afkom om Sy teenstanders mee te verdelg. Dan weier hulle om mekaar se voete te was, protesteer dat dit nie nodig is vir Jesus om deur die kruisdood te gaan, en gebruik selfs ‘n swaard om Hom te verdedig.

Mag ons sien dat die dissipels nie met Krag van bo beklee was nie voordat hulle saam in een plek, in volle eenheid van gedagtes en denke gewees het na die kruisiging en opstanding van die HERE Jesus Christus. Dit is waar dat hulle ‘n sekere mate van Krag besit het tydens Jesus se bediening op aarde, maar ons sien ook hoe dit hulle hoogmoedig gemaak het. Jesus het hulle uitgestuur en mag oor demone gegee, en op hulle terugkeer was hulle woorde skielik dat hulle verklaar dat selfs die demone na hulle luister in Jesus se naam. Selfs hierdie klein gebeurtenis maak dat hulle hulle self verhoog en prys. Ons vind dat hulle ander persone aanspreek oor hulle demone in Jesus se naam uitdryf, want die persone was nie een van hulle nie. Jesus moet hulle toe eers vertel dat hulle dit nie moet doen nie, want die wat nie teen ons is nie, is vir ons. Hier sien ons hoe vinnig hoogmoed posgevat het.

Dink net wat ‘n tragedie dit sou wees om die Heilige Gees in Sy volheid op die dissipels uit te stort in so ‘n toestand. Hulle was totaal onbevoeg en onvoorbereid om die Krag te ontvang. Nie omdat hulle onsensitief was nie. Onthou hulle het alles agtergelaat en Jesus gevolg. Nie teenstaande dié feit, was hulle nog nie gebroke nie. Dit beteken dat hulle vir Jesus gevolg het en van die bonatuurlike krag geproe het, maar hulle het nog nie hulle kruis opgeneem nie. Oor en oor het Christus hulle aangesê om hulle kruis op te neem, maar hulle het nie verstaan wat dit Hy bedoel het nie. Hulle het selfs probeer om Hom te keer om Sy kruis op te neem. Hulle kon nog nie met soveel Krag toevertrou word nie, want hulle was nog nie dood genoeg aan hulself nie. Die geringste oorwinning wat hulle behaal het, het aanleiding gegee tot self verheerliking en argumente oor wie die grootste onder hulle is. Daarom is hulle aangesê om in Jerusalem te gaan wag totdat hulle met Krag van bo toegerus is. As trotsaards het hulle gedurig gestry, maar as gebroke persone was hulle uiteindelik in eenstemmigheid en eensgesindheid. Toe het die Heilige Gees gekom, en saam met dit, die volmaakte Krag.

Die oproep vandag is tot Kerk eenheid, nie net in Suid Afrika nie, maar reg oor die wêreld. Eenheid word nie verkry deur persone op te roep tot eenheid nie. Eenheid word verkry wanneer ons ons Kruis opneem en sterf aan ons eie opinies en ons kleinlike argumente los, en daarmee saam ook ons vooropgestelde idees. Dan en alleen dan, kan ons eensgesind wees. ‘n Gebroke gees, is ‘n vredemakende gees, en is bereid om  saam met ander te stem. Kontensieuse, ongebroke, hardkoppige persone kan nooit eensgesind wees nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!

Meer van die HERE, of minder van myself.

Soos die HERE ons terug roep na die kruis om Sy dissipels te word, wil Hy ons eers laat neerbuig voordat Hy ons verhoog en bekragtig. Dit is nie ‘n kwessie van hoeveel Lewe ons het nie want dit word nie gemeet in hoeveelhede nie. Dit is of daar of nie daar nie. Die Lewe in die HERE is ‘n ryk lewe, en dit vul die gelowige met alle volheid van God. Ons kan van ‘n persoon sê dat hulle die HERE in ‘n kragtige manier ken, of dat hulle vol van die Lewe is of dat hulle ‘n groot salwing het. Natuurlik het ons nie almal dieselfde bedienings en gawes nie, want die Gees deel uit sonder inagneming van die persoon. Maar ons moet nie die spreekwyse gebruik dat iemand meer van die HERE het as iemand anders nie. Volgens Efesiërs 1 vers 3 “Geseënd is die God en Vader van onse HERE Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” en Kolossense 2 vers 9 en 10 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag” en Romeine 8 vers 32  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Ons is gesalf met elke geestelike seëning, gevul  met die goedheid van Christus, en het alles vrylik van Hom ontvang. So nie een gelowige het ‘n groter gawe ontvang of het meer Krag as die ander nie.

Kom ons kyk wat ons dus geestelik kortkom. Vertel my hoeveel is alles. Ek het gehoor van ‘n persoon wat ‘n studie gaan doen het oor die word alles. Ek het nie sy resultate geglo nie en het self ook ‘n studie gaan maak. Alles beteken alles, niks is uitgesluit nie. Hoe vol is vol? Hoe volledig is volledig? As daar dus iets in ons lewe kortkom is die fout nie by die HERE nie, maar by ons. Ons kan ook nie sê dat ons minderwaardig is teenoor die meer kragtige Christene nie. Die vraag is dus nie oor hoe om meer van die HERE te kry, maar hoe om die Krag wat in ons is, vry te stel. Maar hoe stel ons dit vry? Deur ons vlees af te breek, om meer van die HERE te laat uitsteek en minder van ons. Met ander woorde, ons moet afgebreek word.

Christene vandag word aangemoedig om meer krag, groter salwing, en meer gawes te soek. Ek was teenwoordig en het self deelgeneem en persone aangepor om meer van die HERE te soek. Hoeveel keer het ek saam gesing “More love, more power, more of You in my life”. Die Kerk is so honger om die teenwoordigheid van die HERE te ervaar dat honderde en duisende vorentoe stroom om meer van die HERE te ontvang. Hulle kom om ‘n nuwe uitstorting van krag of salwing te ervaar. Ek het saam met almal, en was verskeie kere die voorbok in die soeke na meer Krag sodat ek my sondes kon oorwin, om vir die HERE te werk, en ‘n kragtige bediening wat duisende aanraak te hê. Maar daar het ‘n dag in my lewe gekom toe ek vir die eerste maal Christus in my en ek in Christus ervaar het. Kan ek sê dat dit was soos van een vertrek na ‘n ander te stap en die deur agter my toe te maak. Van daardie dag af het ek geweet dat ek volledig in Christus was, gevul met alles wat God vir my bestem het, alles wat Hy is. Van daardie dag af het ek die probleem nie meer gesien as om meer van die HERE te ontvang nie, maar om Hom toe te laat om af te breek wat my verhoed om Hom te volg. Toe kon ek Hom toelaat om af te breek alle eiewysheid, trots, ligaamlike liste, en my verdeelde hart. Ek het nodig om minder te word en Hy meer. Soos ek dan minder word, kry Hy meer gestalte in my lewe. Wanneer ek dus ‘n klein bietjie minder van myself word, word sy gestalte in proporsie groter. Met minder van myself, moet daar dus meer van Hom wees.

Die najaag van krag.

Ek wil dit weer stel. Die meeste Christene soek ernstig, soms selfs gulsig (in eie hebsug) na die Krag van God, Sy Salwing, maar hulle weerstaan enige een wat vra dat hulle minder van hulself, meer ootmoot, of dergelike dinge vra. Hulle verwag die Krag, sonder die nederigheid. Anders gestel, hulle almal soek die sonskyn, die singende voëls, die ligte bries, maar hulle vervloek die donker nag wanneer die wolwe huil en dit reën. Wanneer God soos verwag optree is alles reg, maar wanneer Hy nie so optree nie, dan word die nag donker, en die siel onstuimig en gaan ons in depressie.

Dan is daar nog die kwessie van baie “gees vervulde Christene” wat baie geestelik voorkom by die dienste, maar nie hulle tong kan beheer of hulle kritiese gees in bedwang kan hou nie. Hulle krag laat hulle net toe om voor ander Christene geestelik op te tree en aanvaarbaar voor hulle te wees. Maar onthou een ding, enige Krag wat so ‘n persoon ontvang sonder om homself te verneder gaan sy lewe verwoes. Ons moet nooit die Krag van Pinkster soek sonder om eers by die kruis uit te kom nie. Die Kruis is Krag verbloem as Nederigheid. Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Absolute krag verwoes absoluut. Dieselfde geld vir krag wat nie van die kruis afkom nie. Dit is waarom Christus ons en die dissipels eers moes vat na Golgota, voor die dag in die bo vertrek met Pinkster. Ons kan nie waag om eers by Pinkster uit te kom voordat ons by die Kruis was nie.

Nieteenstaande hierdie geestelike waarheid, kan ons oplet hoe min aandag gegee word aan gebrokenheid deur die wat graag oor die Krag van God praat. Ons moet op ons hoede wees as iemand praat van die Krag van God sonder om eers te praat van die noodsaaklikheid van gebrokenheid. Krag so ontvang, sal vinnig die gees besmet, en hoogmoed sal intree. Gebrokenheid, nederigheid, geringheid, lyding, smart, kruis opneem – hierdie taal blyk nie te bestaan in soekers na krag nie. Hoe tragies is dit nie.

Die seisoene van die Gees.

Verseker, die HERE in ons is vol van mag en gesag, maar nogtans sal Hy nie inbreek doen of ons oorheers nie. Daar is tye wat ons hoop dat Hy dit sal doen. Maar dit is nie Sy manier nie. Hy wil graag hê dat ons saam moet werk met Sy Gees. Wanneer ons na Hom toe gaan en ons as instrumente aanmeld om deur Hom gebruik te word, begin Hy om ons voor te berei as aanvaarbare instrumente. As ons die proses as ‘n eenmalige gebeurtenis aansien, dan onderskat ons hoe groot hierdie proses sal wees. Dit oorspan baie jare en word gekenmerk deur beide berge en dale, tuine en woestyne, sonskyn en bewolktheid, warmte en koue, soete oomblikke maar ook bitter tye. By die uitset mag ons dalk dink dat ons gelukkig, lig en sorgeloos gaan wees noudat ons van die HERE se Krag geproe het. Ons sal baljaar vir die seisoen, en dan sal die son gaan sak en nag sal intree. Alles wat ons gehad het sal dan blyk verlore te wees. Die soete oomblikke is dan verby. Alles word ‘n opoffering. Wanneer die seisoen weer verby is, volg daar weer tye wanneer die son weer opgaan, en ons as Christene weer die geluk smaak van verlossing. Die beloftes word weer hernu, en jou gees klim weer op. Gebed en lof  stort nou weer uit ons mond soos ‘n fontein van water. Alles is sonder inspanning en spontaan. Maar dan sak die son en die seisoen eindig weer. Hoekom? Die HERE leer ons om apart van ons omstandighede te lewe. Eindelik sal ons leer om bokant ons omstandighede te lewe in geloof, en nie deur sig nie.

Ek het ook al in die verlede so ‘n aanraking van die HERE gehad dat ek gedink het nooit sal ek weer in sonde kan verval nie. Ek het dan so ‘n ontmoeting met die HERE gehad dat alles nou agter my is en dat ek presies weet wat ek moet doen, wat my bediening is en dat dit onmoontlik is om die HERE teleur te stel. Hoe wanhopig het ek weer gevoel toe ek uitvind dat binne ‘n week ek weer in dieselfde sonde verval het. Heeltemal oorbluf, het ek van Sondag na Sondag gelewe net om weer versterk te word deur ‘n gebed, of ‘n woord van bemoediging, of ‘n preek. Weereens het ek gevoel ek is in die troonkamer van die Allerhoogste, net om weer later te besef ek het maar weer gefaal.

Miskien is dit ook u ondervinding. Ons moet vroeër of later leer dat dissipelskap is ‘n proses van afbreek en opbou. Ons kan nie verwag dat ‘n enkele bergtop ondervinding met die HERE al die werk gedoen het nie, en dat die werk van die Kruis volbring is in my nie. Wanneer ons in die Nuwe Jerusalem voor Jesus sal staan, dan kan ons ons kruis neerlê. Dan is die werk van die Kruis volbring. Tot dan, moet ek elke dag my kruis opneem, en Hom volg.

So as daar blyk ‘n verkil te wees in die “vlak” van salwing of krag of geestelikheid tussen gelowiges, is dit verseker nie omdat iemand meer van die HERE het as iemand anders nie. Laat dit vir ons ‘n aanmoediging wees. Inderdaad, Christus is nie verdeeld nie, ons deel almal in Sy goedheid. Ons is almal in dieselfde Gees in gedoop. Die verskil is net dat sekere gelowiges meer gebroke is as ander. Party het deur meer seisoene van die HERE gegaan waar daar afgebreek en opgebou is. Party mense weier net om hulle lewens neer te lê. Ander het God se planne raak gesien, en hulle daaraan onderwerp. Die wat genoeg van hulleself afgebreek het en min van hulself manifesteer, manifesteer meer van Christus. God moet lank en hard met ons werk om ons by ‘n plek te kry waar ons meer en meer van Hom manifesteer, maar daar kom ‘n glorieryke dag wanneer ons eindelik ons lewe neerlê en ons totaal aan Hom onderwerp. Wat ‘n vreugde is dit nie om in ons lewe terug te kyk en te sien hoe Hy ons gelei het in beide goeie en slegte tye, om Sy goedheid in Sy handeling met ons te sien nie.

Vier voorbeelde van gebrokenheid.

Eerste voorbeeld: Die brood van die Lewe.

Die Kruis verteenwoordig die beginsel van gebrokenheid in die lewe van die dissipel van ons HERE Jesus. Kom ons kyk na ‘n paar skrifgedeeltes oor gebrokenheid. Die nag wat Jesus verraai is, word ons vertel  “Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.” Lukas 22:19. Jesus het male sonder tal verwys daarna dat Hy die brood van die lewe is. Hy beveel die dissipels om van Hom te eet, en van Sy bloed te drink. Baie van die omstanders het omgedraai en Hom nie meer gevolg hierna nie. Hoe kan ‘n man ons Sy liggaam gee om te eet? Want Hy is die Brood van die Lewe.

Die brood wat ons deesdae by Nagmaal gebruik slaag nie daarin om die Brood van die Lewe te weerspieël nie. Die brood kom na ons meeste van die kere alreeds in stukkies gebreek. Die Kerk is sekerlik ook verdeeld, so miskien is dit ‘n goeie voorstelling. Die brood bring nie vir ons die volledige boodskap oor nie, dat om in die Lewe te kan deel, moet daar ‘n gebrokenheid wees. Daar is slegs een Brood, nie baie brode nie. Jesus was die Brood van die Lewe wat van die hemel af gekom het. Hoe kan ons Hom ontvang? Hy moet vir ons gebreek word. Nadat Hy die brood gebreek het, vertel Hy ons “Dit is My liggaam”. Jesus is die een Brood wat gebreek moet word. Dit is ook ons voorbeeld om gebreek te word.

Tweede voorbeeld: Koringkorrel Johannes 12:23-25

Kom ons kyk na woorde van Jesus kort voor Sy dood. “Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.  Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” Hoe merkwaardig is die woorde van Jesus nie hier nie. Hy begin deur te sê dat die tyd daar is dat Hy verheerlik moet word. Wanneer ons dink aan verheerliking, dink ons aan die tyd toe Hy gedoop is en die Heilige Gees op Hom gekom het, en die stem uit die hemel gekom het om te verklaar dat dit Sy geliefde Seun is. Of die keer toe Hy op die berg van verheerliking gestaan het in volle glorie voor Petrus, Johannes en Jakobus. Hoe snaaks klink dit nie dat Jesus sê dat Hy moet sterf aan die kruis as verheerliking. Dit klink teenstrydig met ons denke. Maar kom ons kyk hoe Jesus dit verklaar.

Toe Jesus hom verlaag het en na die aarde gekom het as ‘n mens, moes Hy die beperkinge van ‘n menslike liggaam aanvaar. Hy kon slegs in een plek wees op ‘n slag. Vir al die persone wat Hy genees het, was daar duisende wat siek gebly het. As ‘n mens kon Hy nie op al die plekke op dieselfde tyd wees nie. Hy was ingeperk in tyd en ruimte. Daar is ‘n geleentheid waar Hy self gefrustreerd voorkom as gevolg van hierdie beperking. Luk 12:49-50. Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!  Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! Sien hoe Jesus wens om uiting te gee aan Homself. Hy is soos ‘n saad wat omhul is met ‘n uiterlike dop.

Wanneer ons na ‘n saad kyk, wat sien ons? ‘n Saad, of ‘n koringaar vol saad, of ‘n land vol koring? Jesus vertel ons hoe die koninkryk van God is in Markus 4:26-28 “En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi;  en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot–hoe, weet hy self nie.  Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.” Is dit nie fantasties nie. Ons hoef niks te doen nie. Ons moet net die saad in die grond plaas en dit vergeet. Want vanself bring die aarde vrug voort. God bring die vrug voort as ons net die saad wil begrawe. Wil jy vrugtevol wees. Verneder jouself. Gooi jouself in die grond in laat toe dat jy gebreek kan word sodat jy vrug kan dra.

Jesus leer ons dat indien die saad nie sterf nie dit net ‘n saad bly. Die potensiaal is daar, maar dit is al. Die saad moet die reg opgee om saad te wees, alleen dan kan dit baie vrug voortbring. Sien, die dop moet gebreek word. Dit gaan nie oor die vermoë om lewe voort te bring nie, maar oor die gebrokenheid van die saad wat die lewe inhou. So, ons het nie meer krag nodig nie, maar meer gebrokenheid. Wanneer ons voldoende afgebreek is, sal ons vind dat die inwonende Christus meer as genoeg is.

Derde voorbeeld: Die albaste fles

En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar ‘n vrou met ‘n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit. Die salf hier verteenwoordig Salwing of Lewe. Dit was baie kosbaar, maar dit was gestoor in ‘n albaste fles. Albaster is ‘n tipe klip wat gebruik is om flesse van te maak. Om die binneste vry te stel, moes die uitwendige gebreek word. Hoeveel van ons hou meer van die fles as van die salf. Kom ons kyk verby die “flesse” en instrumente van God na die salf wat ongehinderd en vryelik voort stroom. Die lewe is in die houer, maar die houer moet gebreek word. Indien ons houers van hierdie salwing wil wees, laat ons die HERE vra om ons te breek sodat ons hierdie verborge geur en salf kan voortbring.

Voorbeeld Vier: Die voorhangsel van die Tempel

Markus 15:38  “En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.” Die voorhangsel was ‘n dik gordyn wat die allerheiligste van die res van die tempel geskei het. Dit is waar die teenwoordigheid van God was. Niemand behalwe die hoëpriester, en dan slegs een maal per jaar, kon daar ingaan en bly lewe nie.

Toe Jesus sterf, het hierdie voorhangsel van bo na onder in twee geskeur. Hoekom van bo na onder? Sodat die mense nie kon sê dat die dissipels of iemand dit gedoen het nie, maar dat God dit gedoen het. Wat beteken dit? Dat ons nou na die dood van Christus vrylik na die genadetroon van God kan gaan, sonder dat iemand anders dit vir ons moet doen. Ons het dus nou vrye toegang na God. Dit beteken ook vir ons dat ons vlees in twee geskeur moet word om vrye toegang na God te verkry. Hoeveel keer ontmoet ons ‘n broer of suster en ons weet hoe kosbaar hulle is. Maar ons weet dat daar iets is wat hierdie kosbaarheid blokkeer. Daardie iets is die voorhangsel van hulle vlees wat nog gekruisig moet word. Ons kan net die Vader vra om daardie vlees te breek sodat die lewe kan voortvloei.

Wat volbring hierdie gebrokenheid? Net die kruis kan dit doen.

Ons het nou vier voorbeelde voor ons uit die Skrif  oor wat dit beteken om gebroke te wees, asook waarom dit nodig is. Die brood, die koringkorrel, die albaster fles en die voorhangsel van die tempel. Daar is nog ‘n ander aspek wat sentraal aan al vier dele gekoppel is. In elke deel word na Jesus se kruisiging en opstanding verwys. Die beginsel van die kruis is sentraal in elke voorbeeld.  Hierdie is nie maar net toevallig nie.

Die HERE roep ons aanhoudend op om ons self te kruisig, en hom te volg. Ons kan nie nog wonder wat dit beteken om ons kruis op te neem nie, of wat God hoop om met ons reg te kry nie. In hierdie voorbeelde wys Hy ons wat ons moet doen, en waarom dit noodsaaklik is. Wat sê Hy? Dat ons eers gebreek moet word voordat daar lewe kan voortvloei. Om ons lewe te red, moet ons dit opgee. Ons moet dit by die altaar gaan neerlê, ons moet onsself as ‘n lewende offer vir Hom uitgiet. Slegs dan sal ons werklik vir God lewe. Slegs dan kan ons bruikbare instrumente word waardeer Sy Krag kan vloei.

In Lukas 17:5 vra die dissipels: “Gee ons meer geloof”. Kan u onthou hoe Jesus hulle geantwoord het. Eintlik baie snaaks. Vandag vra ons die HERE vir meer geloof, geduld, liefde, selfbeheersing salwing ens. Snaaks genoeg gaan meeste van die versoeke onbeantwoord. Ons vra nog steeds soos die dissipels vir meer. Hoe antwoord Jesus hulle. Deur vir hulle basies te sê hulle het nie nog meer geloof nodig nie. “En die HERE sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant–en hy sou julle gehoorsaam wees.” Hoe hou u van so ‘n antwoord?

Daar word vertel dat ‘n vrou eendag vir Watchmen Nee gevra het dat hy vir haar moes bid vir meer geduld. Sy antwoord was dat hy vir haar kon bid maar dat hy seker is dat sy gebed nie verhoor sal word nie. Die vrou het sy antwoord bevraagteken. Hy het toe vir haar gesê sy het nie meer geduld nodig nie, maar Christus.

As ons Christus het, het ons elke goeie gawe. So, alles wat ons nodig het is in Christus, en Christus in ons. Ons het nie nodig om te vra vir meer geduld, of geregtigheid of geloof nie. Christus is ons Geloof, Hy is ons Geregtigheid, Hy is ons Geduld. Ons het elke geestelike gawe, maar dit is nog vasgevang in die albaster fles, of graankorrel. Ons kan nie die fles meer lief hê as die salf nie, maar ons kan nie die salf kry sonder om die fles te breek nie.

Liefste leser, is u nog ‘n geslote fles, of ‘n gebreekte een? Is Christus nog in jou hart vasgebind, of is jou hart oop en kan Christus onverhinderd daaruit vloei? Het u al die begeerte uitgespreek om aan uself te sterf sodat u vrug mag voortbring, of is u een van die sade wat weier om te sterf? Is die HERE se glorie al in jou vrygelaat, of moet jou voorhangsel nog geskeur word?

As u wonder hoe om dit te doen, bid saam met Dawid die gebed wat hy vir ons in Psalm 51 gegee het: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. HERE, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar”. Amen.