Moses 2 vers 14: Wat is liefde?

Print Friendly

Die vraag kan ons lelik onkant vang as ons nie oppas nie. Daar is sovele betekenisse wat aan die woord gegee word dat dit moeilik is om werklik ‘n betekenis daaraan te heg wat almal sal tevrede stel. Ek wil graag gaan kers opsteek by Johannes, die dissipel vir wie Jesus baie liefgehad het, en ook bekend staan in die Bybel as die dissipel van liefde.

Die Bybel is baie reguit deurdat die verhouding tussen die HERE en die mens altyd as ‘n liefdesverhouding uitgebeeld word. Jesus self het male sonder tal daarna verwys as ‘n huwelik, terwyl, indien ons die boek van Hooglied met die tipe verhouding as agtergrond lees, ‘n heeltemal nuwe wêreld vir ons sal oopgaan. Ons word so baie keer geleer dat Jesus ons liefhet en dat ons Hom en ons naaste moet liefhê, maar tog vind ons byna in elke gemeente en tussen elke groep Christene ‘n mate van onverdraagsaamheid. Maar dit is nie net daar nie. In verhoudings tussen man en vrou vind ons ook dat daar vele male nie werklike liefde is nie, maar dat die paar net saam woon want hulle weet nie hoe om uitmekaar te gaan nie, of dalk sien hulle nie kans daarvoor nie.

Johannes beskryf vir ons in 1 Johannes 4 vanaf vers 7 wat die eienskappe van liefde is. “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” So Johannes se eerste eienskap wat hy vir ons van die liefde gee is dat ons slegs ware liefhê kan ervaar as ons kinders van God is. Indien ek nie ‘n kind van die HERE is nie, kan ek nie liefhê nie, want Hy is liefde. Wat nou van al die mense wat nie Christene is nie? Hulle sal altyd vir jou probeer om hulle interpretasie te gee, maar ons weet uit die vers dat hulle definisies nie die liefde gaan beskryf wat ons in die Bybel vind nie.

Die volgende twee verse gee vir ons nog ‘n eienskap. “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” Nou verklaar Johannes dat ons op ‘n sekere manier sal optree wanneer ons Sy liefde ontvang. Soos Hy gemaak het, moet ons maak. Dit beteken dat die Vader Sy Seun Jesus gestuur het om ons plek in te neem, te sterf vir ons sondes, sodat ons kan lewe. Met ander woorde, die Vader het ons bedien met ‘n onverdiende gawe. En dit was dié beste gawe wat Hy, die Vader, vir ons kon gee. Hy het nie afskeep gawes gegee nie, maar Sy enigste, alles wat Hy kon gee het Hy gedoen. Dit is liefde. Om vir iemand iets te doen en te gee, sonder dat hy of sy dit verdien. So ek sal ook nie aan myself dink nie, maar aan die een wat ek my liefde aan wil bewys, en dit sal ek doen sonder dat ek gevra word, en ook sonder dat die ander persoon dit verdien.

Die volgende punt wat Johannes uitlig, is dat ek liefde aan die Vader bewys deur my naaste lief te hê. Hoe stel hy dit? “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” Hoe doen ek dit? Deur te doen wat die Vader vir ons gedoen het. Ek moet my naaste, die persoon wat oor my pad kom elke dag, bedien met my gawe, of dit voedsel, geld of wat ook al is. Dit wat ek het en hy nie het nie, moet ek dit met die persoon deel. Gaan dit enigsins help? Jesus het die volgende gesê in Mattheus 25. “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Mat 25:34-40)

Maar, hoe kry ek dit reg om in liefde te beweeg? Dit gebeur sodra ek in verbond met die HERE staan, wat beteken dat ek nie hoef bang te wees vir die ewige oordeel nie. Johannes beskryf dit as volg: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.” (1 Joh 4:17-18) Ek moet besef dat ek slegs deur die liefde wat aan my bewys is, die reg het om kind van God genoem te word.

Daar is sovele persone en gemeentes wat hulle mense leer dat hulle net ‘n besluit moet neem om die HERE te dien, en hulle dan as kind van God verklaar. In die susterskerke moet die persoon net met ‘n besluit om die HERE te dien, belydenis van sy geloof aflê en dan is hy kind van God. In die vernuwingsgemeentes moet die persoon net ‘n gebed kom aflê saam met die persoon wat die uitnodiging gemaak het, en dan is hy kind van God. Al hierdie maniere los die liefde van die HERE buite, en veroorsaak dit dat dit onmoontlik is om dan in liefde te lewe.

Wat bedoel ek nou eintlik? Ek kan net die liefde van die HERE ervaar as ek weet dat ek as gevolg van sonde en my sondige natuur, ‘n verlosser benodig. Ek moet weet dat ek sondig is, en dat slegs deur dit wat Jesus kom doen het, ek weer in die regte verhouding met die Vader kan staan. Dan sal ek nie meer bang wees vir die oordeelsdag nie, maar sal dit my aanspoor om in Sy liefde te beweeg. Dan sal die gedeelte wat Jesus gespreek het dat ek my naaste soos myself moet liefhê, sin maak. Dan sal ek nie dink dat ek beter as iemand anders is nie, aangesien ons almal die dood verdien, en slegs deur dit wat Jesus gedoen het, die ewige lewe verkry het.

Wie is my naaste naaste? My naaste naaste is my huweliksmaat. Dit is die een persoon wat ek die meeste liefde aan moet bewys. Maar ek dag dan dit is ‘n verskillende tipe liefde van die liefde wat ek aan my naaste moet bewys? Nee, die beginsel is presies dieselfde. Ek moet my lewensmaat so behandel dat ek altyd diensbaar moet wees vir hom of haar. Indien ek as man die rol van priester van die huishouding wil volstaan, moet ek weet dat die rol nie is om baas te speel nie, maar om te dien. Dit was die plig van die priester in Israel se tyd. Hy moes die offer slag, gaarmaak en bedien aan die persoon wat die offer aan die HERE wou bring. So dit is wat ek as priester moet doen. Ek moet my maat se belange hoër ag as my eie. Ek moet my maat respekteer, en verwag dat ek my maat sal bedien.

Ek het dit al hoeveel maal gesien en ervaar dat mans hulle rol as priester van die huis aanvaar, en dan sukkel die liefdeslewe van die paartjie aangesien die man dan nou kwansuis alles moet goedkeur. Die vrou wil nie beweeg voordat die man nie ‘n besluit geneem het nie, en die man hou nie daarvan dat hy nou al die verantwoordelikheid moet aanvaar nie. Of die man dink nou dat hy die baas is en vroulief moet nou net rondspring as meneer sy vingers klap. Of erger nog, hy hoef nie te luister na haar nie, want hy is mos baas. Indien sy nog iets vra, kan hy haar ignoreer, want hy luister mos al jare nie na haar nie. Andersins domineer hy haar so, dat sy of nie meer met voorstelle vorendag kom nie, of as sy nog iets sou voorstel, hy die teenoorgestelde sal doen. Maar soos ek hierbo gesê het, die man moet die vrou bedien, dit is liefde. Net so moet die vrou die man bedien, en nie baasspeel oor hom nie. Hoeveel verhoudings is daar wat sukkel omdat die vrou soos wie weet watter korporaal net bevele kan uitskreeu, en manlief en die kinders moet maar net doen. Dit is nie liefde nie. Liefde beteken dat ek moet my lewensmaat so bedien dat daar eintlik ‘n wedywering moet wees oor wie die meeste bedien, sonder om telling te hou. Ek moet my lewenswyse, my belange ondergeskik stel aan die van my maat.

As ons na die huwelik kyk, is dit deur God ingestel as ‘n ewige verbond tussen man en vrou. “Daarom sal die man sy ouerhuis verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees word.” Hierin is daar ook ‘n geheimenis soos Paulus dit beskryf dat wie of wat die ander persoon is, so is ek ook vir die HERE, want ons is een. Dit is ook die rede dat mense verander na hul huwelik, want die Bybel verklaar dat hulle een word. Hierdie een wording geskiet wanneer daar gemeenskap plaasvind, en so ontstaan ‘n verbond dan tussen die man en vrou. Dit is die rede, en die enigste aanvaarde rede in die Bybel, dat die huwelik beëindig kan word wanneer een persoon buite die huwelik gemeenskap met ‘n ander persoon het want die persoon wat dit doen, het dan reeds ‘n verbond met ‘n ander persoon gesluit en sy of haar huweliksverbond verbreek.

Nou kan ons vinnig kyk wat die man se pligte is in die huwelik, en daarna na die vrou se pligte. Die eerste plig wat die man het is om vir die vrou lief te hê. So hy moet haar bedien met alles wat die beste is, sonder dat sy hoef te vra daarvoor of dit verdien. Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie. (Kol. 3:19) So jy mag nie telling hou van wat jy al alles vir die vrou gedoen het nie. Hoekom? Want soos Christus ons as gemeente liefhet en daarvoor gesterf het, so moet ons ons eie vroue liefhê. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente”. (Ef. 5:25-29) Dit is die plig van ons as mans. Ons moet ons vrouens so behandel dat ons elke behoefte wat hulle het, bevredig. Dit moet nooit nodig wees vir ‘n vrou om enige behoefte te probeer bevredig buite haar verhouding met haar man nie. Die man moet die verantwoordelikheid aanvaar vir die liefde in die verhouding. Hy mag nooit die woorde uiter dat hy nie meer lief is vir haar nie, want dit is nie ‘n gevoel nie, dit is sy plig. Dit is wat dit beteken om in ‘n huweliksverbond te tree vir ‘n man. Hy moet sy eie vrou liefhê en nooit iemand anders nie. Indien daar ‘n breuk in die verhouding kom, sal die HERE hom verantwoordelik hou daarvoor.

“Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Pet. 3:7) Nogal harde woorde, dat indien ons as mans nie eer bewys aan ons vrouens nie, ons gebede nie verhoor sal word nie.

En nou is dit die vrou se beurt. “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het”. So jy hoef nie na ander mans te luister as dit kom by hoe jy moet lewe nie, maar na jou eie man. Hy sal die besluit neem wat vir hom aanvaarbaar is, en dan sal jy dit gehoorsaam. Daardeur sal jy ‘n verskil in ander mense se lewens kan maak. Maar hoe is ‘n vrou onderdanig? Deur nie aan ‘n man te verander nie. Toe jy vir die man gekies het, het jy nie gedink dat hy ‘n goeie ou sal wees as jy net dit en dat kan verander nie, nee, jy het hom aanvaar soos hy is. Dit is die persoon wat jou aandag getrek het. So, jy moet hom so hou, dit is onderdanigheid aan hom. “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou”. So jy mag nie vir hom leer wat reg en verkeerd is nie, maar deurdat jy aan hom onderdanig en stil is, sal hy jou op sy hande dra.

En nou oor die groot onderwerp. 1 Kor 7. “Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.” So as man moet jy weet wat vir die vrou aanvaarbaar is wat die seksuele aanbetref, en net so ook moet die vrou weet wat die man verwag en aanvaarbaar is vir hom. Paulus leer ons egter dat die vrou die mag het oor die man se liggaam, en die man oor die vrou. Wanneer ons wel in liefde saamleef, sal dit nie nodig wees vir enigeen van die twee om toenadering te soek nie, want die vrou sal haarself vir haar man gee, en die man vir sy vrou.

Dit is wat ons leer uit die Bybel. Dit is nie rocket science nie, maar nederigheid van albei persone wat sal maak of julle huwelik suksesvol sal wees of nie.

Hoekom sien ons dit nie meer vandag nie? Ek glo ons word nie meer vertel wat ware liefde is nie, en die kerk leer nie meer wat liefde is nie. Charles Finney het die volgende in Revival Fire te sê gehad: “I have already intimated that pains enough had not been taken to search the heart and thoroughly detect and expose the sinner’s depravity, so as to make him see the need of the gospel remedy. If I am not mistaken, there has been, in many cases, an error committed in urging sinners to submission before they are prepared to understand what true submission is. They have been urged to repent, before they have really understood the nature and dessert of sin; to believe, before they have understood their need of Christ; to resolve to serve God, before they have at all understood what the service of God is. They have been pressed to make up their minds to enter immediately upon the service of God, and have been taught that they needed only to make a resolution to obey the Lord. Hence their religion, after all, has been only a religion of resolutions, instead of a religion of faith, and love, and of a broken heart. In short, it appears to me that, in many instances, the true idea of what constitutes pure religion has not been developed in the mind, and that consequently spurious conversions have been distressingly numerous. I have been more and more surprised from year to year, to find how very numerous those professors of religion are who manifestly have not the true ideal of pure religion before their minds. It seems that, in many instances, the idea that love is the essence and the whole of religion, is left almost, if not entirely, out of view.”