Moses 3 vers 9: Hoe oorwin ek verwerping, swak selfbeeld, rebellie en die tipes emosies?

Print Friendly

Waarmee sukkel jy in jou lewe? Ek weet nie, maar ek weet dalk waarvan jy praat as jy sê dat die mense nie juis van jou hou nie. Ek dink elkeen van ons het maar iewers in ons lewens ‘n voorval gehad wat ons seergemaak het. Dis nou te sê as jy nie so dikvellig is dat jy dit nie eers wil erken nie.

Waar kom hierdie gevoelens vandaan? Dalk het jy maar soos meeste mense probeer om iets voor te stel en is jou idee heeltemal verwerp as ‘n nie logiese oplossing, of dalk het iemand met hulle woorde jou gekrenk. Baie van ons weet nie hoekom nie, maar jy was nou nie juis een wat enigiemand in belanggestel het nie. Jy weet nie hoekom nie, maar vandat jy kan onthou is jy maar die swart skaap van die familie. Miskien is jy maar net aanhoudend afgeknou van jou kindsdae af.

Jy is miskien in rebellie omdat jy ervaar dat niemand ooit aandag aan jou skenk nie. Miskien is jou ouers geskei en het jy in die proses seergekry, of is jy dalk afgeknou deur een van die stief ouers, of dalk jou eie ouers. Miskien is die probleem dat jou eggenoot jou verwerp.

Maar, eintlik wil ek praat oor hoe hanteer en oorwin ek hierdie gevoele.

Die eerste wat ons moet doen is om by die wortel van die gevoel te kom. Wat is die wortel waarvan ek nou praat? Dit is die eerste keer wat jy bewus geword het van die gevoel. Daardie eerste keer toe jou pa van die kantlyn afgeskreeu het dat jy nou nie weer die bal moet mis vang nie. Die eerste keer toe jy gevoel het jy is nie meer welkom hier nie. Ek weet nie wat jou omstandighede was nie. Miskien is dit dat jou ouers gedink het dat hulle nie nou al ‘n baba wou hê nie. Jy was dalk nog nie eers gebore nie. Dit is die eerste stap. Dit gaan dalk kos dat jy sal moet diep dink en grou, miskien sal jy ook ou wonde oopgrou in jou soeke. Gelukkig as die wonde oop is, kan daar salf aangesmeer word en kan daar heeling plaasvind.

Die tweede stap in die proses is om vergifnis uit te spreek en vergifnis te ontvang. Jy mag dalk sê maar hoe is dit moontlik om vergifnis uit te spreek teenoor iemand wat my as kind gemolesteer het. Die Bybel verklaar dat ek 7 maal 70 keer moet vergewe, sodat ek vergifnis kan ontvang vir my oortredinge. Die gebed wat Jesus vir ons geleer het, bevat ‘n gedeelte waarin ek vra dat die HERE my sal vergewe soos ek die vergewe wat teen my gesondig het. As ek nie kan vergewe nie, kan die HERE my nie vergewe nie.

Hettie, my vrou, het vir baie jare berading gedoen as ‘n voltydse bediening. Sy het die mense geleer om ‘n pen en papier te vat en dan moes die persoon die persoon teken wat die oorsaak was van die spesifieke gevoel. Dan kon die persoon begin om die prentjie maar sleg te sê en al die opgekropte woede uithaal op die prentjie. Wat sy gevind het is dat byna al die persone na so ‘n sessie, die persoon werklik kon vergewe. Ek praat nie daarvan dat die persoon skielik jou beste vriend word nie, maar dat die gevoel van haat verdwyn het.

Nog ‘n manier wat ek self van kan getuig dat dit werk is om die omstandighede wat ek wil verwerk sodat ek vergifnis kan uitspreek, toe te laat om na die oppervlak van my emosies te kom. Ek het al jare ‘n gewoonte om as ek alleen met die HERE wil praat, ek vir ‘n stap gaan. Dit kan enigiets van ‘n twintig minute tot ‘n drieuur lange stap wees. Ek stap dan maar na ‘n kerkgebou wat ‘n kruis op sy perseel het, of soos ek eersdaags sal doen sodra ons in ons nuwe huisie intrek, my eie kruis in die tuin, en gaan lê die omstandighede en die gevoele by die kruis neer. Jesus het mos vir ons gesê ons moet al ons probleme by Hom los. So doen ek dit fisies. Ek haal uit my hart dit wat ek weet nie van Jesus is nie, en plaas dit aan die voet van die kruis. Daarna vra ek dat ek Jesus se vergifnis kan ontvang en neem ek dit weer fisies van die kruis en plaas dit in my binneste. Dit mag dalk vir u snaaks klink, maar dit werk vir my. Ek weet dat mense partymaal dink ek is mal as ek op my aangesig voor ‘n kruis op ‘n grasperk lê, maar ek weet ek kry vergifnis.

As ons na Moses se tabernakel kyk is dit presies wat dit voorgestel het. Die hoëpriester moes eers vir sy eie sondes op die koperaltaar ‘n offer bring, daarna moes hy homself gaan was by die koperbak met die bloed van ‘n lam voordat hy dit kon waag om in die teenwoordigheid van die HERE in die allerheiligste te verskyn. Dit is wat ons ook moet doen. Ons moet eers vir onsself vergifnis kry en dit kan ek slegs kry wanneer ek die wat teen my gesondig het, vergewe.

Dit help nie ek lewe met ‘n onvergewensgesindheid nie, want ek bind myself. Ek moet vergewe sodat ek kan vrykom. Die persoon wat dalk die oorsaak van jou situasie is, is dalk al lankal begrawe. Dit sal jou niks kos nie, behalwe om jou knie te buig, maar jy sal los kom van al die negatiewe gevoele waarmee jy sukkel.