Moses 3 vers 8: Sonde of demoon, watter een is watter een?

Print Friendly

Dit is, afhangende van jou geloofstandpunt, moeilik om uitsluitsel te gee oor wat is wat. Aan die een kant kry ons die wat glo dat daar geen demone is nie, en aan die ander kant die wat glo dat hulle ‘n groot rol in die lewe van elke persoon kan speel.

Maar wie is nou reg?

As ons na die geskiedenis in die Bybel kyk, is dit nogal opvallend dat voor die ballingskap van Israel, alles, beide goed en kwaad, van die HERE afkomstig was. Eers na die ballingskap vind ons in die Bybel dat sekere skrywers goed, altyd aan die HERE toegeskryf het, en sleg altyd aan die duiwel toegeskryf het.

Hoe bewys ek dit?

Wat leer ons in Esegiël ? “Hoofstuk 5 vers 7  Daarom, so sê die HERE HERE: Omdat julle opstandiger is as die nasies wat rondom julle is, in my insettinge nie gewandel en my verordeninge nie betrag het nie–selfs na die verordeninge van die nasies wat rondom julle is, nie gehandel het nie; 8  daarom, so sê die HERE HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, ja, Ek! En Ek sal strafgerigte in jou midde oefen, voor die oë van die nasies; 9  en om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie. 10  Daarom sal die vaders die kinders opeet in jou midde, en die kinders sal hulle vaders opeet; en Ek sal strafgerigte oefen in jou midde en sal al wat van jou oorbly, na al die windstreke verstrooi. 11  Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, gewis, omdat jy my heiligdom verontreinig het met al jou verfoeisels en met al jou gruwels, sal Ék My ook onttrek; my oog sal nie verskoon nie, en Ék sal ook nie spaar nie. 12  ‘n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ‘n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ‘n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ‘n swaard agter hulle uittrek. 13  So sal dan my toorn uitwoed, en Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen hulle en aan My voldoening verskaf; en hulle sal weet dat Ek, die HERE, in my ywer gespreek het as Ek my grimmigheid teen hulle laat uitwoed.”

Hierdie gedeelte klink nie vir my soos goeie woorde nie. Maar tog is dit van die HERE afkomstig. Ek kan al klaar sien hoe sommige persone van vandag, indien hulle in dié tyd geleef het, al wat demoon is bestraf oor hierdie slegte goed wat oor Israel gekom het.

Maar hoe bewys ek dit in die Bybel dat die skrywers na die ballingskap verander het? Daar is een gedeelte wat dit direk vir ons uitlig. Die boeke van Samuel is geskryf voor die ballingskap, en die boeke van die Kronieke is na die ballingskap geskryf. Kom ons vergelyk dieselfde gebeurtenis.

2 Samuel 24 vers 1: “En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda.”

1 Kronieke 21 vers 1: “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.”

Maak dit jou deurmekaar? Dit maak my verseker deurmekaar. Hoekom het dit gebeur? Die skrywer van Samuel het dit wat gebeur het in die lewe, altyd aan die HERE toegeskryf, beide goed en sleg, terwyl die skrywer van die Kronieke boeke, nie kon glo dat die HERE mense kan laat sondig nie, en sodoende dit aan Satan toegeskryf. Dit is maar hoe ons ook optree. Wanneer ek weet dat ek verkeerd opgetree het, en ek nie die blaam wil dra nie, skryf ek dit aan demoniese werke toe. Hoekom? Want ek is mos oraait. Ek kan mos nie sondig nie. Wie ek? Nooit, ek is dan so ‘n voorbeeldige persoon. Kyk maar net na my aansien in die gemeenskap en in die Kerk. Ek kan mos nie meer sondig nie. Dit moet demonies wees.

Ons as mens wil altyd dit wat skeiding maak tussen my en die HERE, aan die Satan toeskryf. Ongelukkig is dit nie wat die Bybel leer nie. Kom ons kyk na Jesaja 8. “Vers 11  Want so het die HERE met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde: 12  Julle mag nie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. 13  Die HERE van die leërskare–Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! 14  Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem. 15  En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word. 16 ¶ Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge. 17  En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop. 18  Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het–tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon. 19  En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel–moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? 20  Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”

Hierdie skrifgedeelte leer ons heelwat oor wat reg en verkeerd is. Die eerste punt wat ons hieruit kan leer is om nie altyd te glo wat elke persoon vir jou vertel nie. Nee, moenie bang wees vir wat hulle voor bang is nie. Waarvoor moet ons wel vrees? Vir die HERE. Dit is wat daar staan. “en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees”.

Maar hoekom moet ons Hom vrees? Ons word dan geleer Hy is liefde. Is dit dalk hoe jy die HERE ken? Ja, maar Hy is ook die een wat lewend en dood kan maak. In vandag se lewe vergeet ons hoe geweldig die HERE werklik is. Ons lewe so asof Hy ons speelmaat is. So asof ons Hom kan nader trek en wegstoot net soos ons wil, net wanneer ons Hom nodig het. As ons Hom nie nodig het nie, dan kan ons Hom maar weer op die rak sit tot wanneer ons Hom weer nodig het.

Hoekom moet ons Hom vrees? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde in die Bybel. “Numeri 16 vers 43  En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom, 44  het die HERE met Moses gespreek en gesê: 45  Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in ‘n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig, 46  en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin! 47  Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk. 48  En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou. 49  En die wat deur die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.”

Wanneer ons verkeerd optree, of soos die Bybel dit noem, sondig, moet dit vergeld word of vergifnis voor gevra word. Die Bybel leer ons dat bloed moet vloei vir die versoening van sondes. Dit het Jesus kom doen, en daarom moet ek vergifnis vra vir sonde in die Naam van Jesus, sodat Sy bloed gereken kan word as betaling van die sonde. Dit is wat hier gebeur het toe Aäron tussen die volk ingehardloop het. Daar het vergifnis gekom, maar nogtans is daar veertien duisend sewehonderd mense dood. Hulle het betaal vir hulle sonde met hulle lewe.

Nog ‘n voorbeeld kom uit Josua 7. Vers 19: “Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie. 20  Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen.”

Wat was die reaksie? “24  Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring. 25  En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.”

Dit is wat gebeur as ons sondig. Miskien is dit die rede dat ons dit aan die duiwel wil toereken. Miskien is ek te bang om die wraak van die HERE te dra. Maar, ongelukkig as dit lyk soos sonde, ruik soos sonde, voel soos sonde, of smaak soos sonde, is die kanse baie groot, so om en by 100%, dat dit sonde is, tensy ek dit op ‘n demoon kan blameer. Daaroor is daar demone met name soos rebellie, hebsug, vrees, en wat ook al. Want, ek wil nie erken dat ek sondig is nie.

“Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel”. Dit is waarvan Jesus gepraat het toe Hy ons beveel het om ons kruis op te neem en Hom te volg. Ek moet weet dat ek elke dag, elke oomblik van my lewe voor ‘n keuse gestel kan word om of te sondig of om nie te sondig nie. Gaan ek kies om te sondig, of gaan ek kies om nie te sondig nie? Jy moet besluit.

Ons leer almal so mooi om te kies om Jesus as verlosser aan te neem, maar daarna kan ons maar sondig. Dit is nie wat die HERE wil nie. Hy wil dat ons sal wegdraai van die sonde, en nie meer onder die beheer van sonde staan nie. Wat sê Jesaja: “Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge”. Hy wil dat ons sal leer om soos getuies van Jesus op te tree. Maar dan moet ek Sy wet in my hart ontvang.

Wat moet ons dan leer? “Jesaja 8 vers 20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” As ons nie sonde sonde noem nie, en nie lewe tot ‘n getuienis van Jesus Christus nie, dan is ons ‘n volk wat nie weet wat aangaan nie. Dit is wat die HERE deur Jesaja verklaar het. Ons wil so graag sonde iets anders noem, maar die Bybel gee ons nie die reg nie. Nee, ons moet sonde sonde noem. Dan kan ons vergifnis ontvang, en in oorwinning die HERE dien.

Maar, Jesus het dan verklaar dat ons duiwels sal uitdryf in Sy naam? Verseker sal ons dit doen. Maar ek moet weet hoe om te onderskei tussen demone en sonde. Kom ons kyk weer na ‘n voorbeeld in die Bybel.

“Markus 5 vers 2  En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ‘n man met ‘n onreine gees, 3  wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; 4  want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie. 5  En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.” Dit klink vir my die ou het nogal ‘n probleem gehad. Maar, Jesus het hom bevry. Dit is ongelukkig een van die min voorbeelde wat ons in die Bybel kry van iemand wat deur ‘n demoon of duiwel beset was, en hoe hy opgetree het. Die ander gevalle word net genoem dat Jesus en die dissipels demone uitgedryf het.

Hoe het hulle in die Bybelse tyd geweet of dit demonies was of nie? Seker maar soos ons vandag ook sal weet. Ons het die gawe van onderskeiding van geeste nodig. As iemand skielik teen ‘n muur oploop of ander ‘wonders’ doen soos waterwys of goeters wat glad nie daarop dui dat ek iemand anders daarmee bedien nie, is die oorsprong van die wonders demonies, en moet so ‘n persoon bevryding ontvang. So is alle vorms van waarsê, fortuin vertelling, waterwys, Oosterse gevegskunste en godsdienste, breinkragte en al die soortgelyke goed duiwels. Indien jy daarmee betrokke was of is, moet jy vergifnis vra daarvoor, en het jy moontlik bevryding nodig.

Wat dan van oorerflike siektes of bindinge? Indien daar aanhoudend in jou familie iemand aan een of ander siekte ly, of dalk net altyd in armoede is, is dit moontlik dat die oorsaak daarvoor of ‘n oorerflike vloek of oorerflike sonde is. Kom ons neem ‘n voorbeeld. Jan ly aan asma, en so het sy pa en sy oupa en sy grootoupa en so het die nog voor hom ook daaraan gely. Wanneer ons kyk na die oorerwing, is dit siekte. Siekte weet ons is die gevolg van sonde. So, wat moet ons doen? Ek moet in die bres gaan staan vir die voorgeslagte en vergifnis vra vir die sonde. Indien ek nie weet wat die sonde was nie kan ek die HERE vra dat Hy deur die Heilige Gees my sal wys wat die sonde was. Hy sal dit vir jou wys, en dan kan vergifnis ontvang word. So sal die siekte se mag oor Jan en sy nageslag gebreek wees.

Wat nou van iets soos armoede? Dit is heel moontlik te danke aan ‘n vloek wat iemand oor die persoon of familie uitgespreek het. Indien dit oor geslagte al kom, moet die vloek gebreek word en die woorde van die een wat dit uitgespreek het, nietig verklaar word. Dit kan ook wees dat die persoon nie die nuwe verbond verstaan nie. Volgens die nuwe verbond moet elke persoon wat in verbond staan met die HERE, genoeg hê om te eet, klere hê om aan te trek, en ‘n dak oor sy kop hê. Indien dit nie die geval is nie, vra die HERE en Hy sal dit as minimum voorsien. Maar, dan moet jy gehoorsaam wees aan die HERE en sy verbond.

Hoe maak ek nou as persone net demone uit my wil jaag? Vra hulle eers of jy vergifnis kan vra vir die sonde wat die oorsaak is van die huidige stand van sake. As hulle aanhou, vra hulle om hulle knie voor Jesus te buig, en Hom te verkondig, en nie Satan nie. Dit klink dalk hard, maar ongelukkig is daar persone wat alles, tot jou persoonlikheid, wil verander, want alles is vir hulle duiwels en demonies. Vir hulle het die volgende skrif waar geword: 2 Petrus 2 vers 19  “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.”

So, om saam te vat. Daar is sonde en daar is demone of duiwels. Maar ons het die gawe van onderskeiding van geeste nodig om te weet wat is wat.