Moses 3 vers 7: Wat nou van my finansies en tiendes?

Print Friendly

Ek kan al klaar sien dat ‘n paar mense se nekhare regop staan want hier gaan hy nou ook af oor geld. Ongelukkig gaan jy dalk baie teleurgesteld wees oor wat ek gaan sê, maar weet verseker dat dit nie jou staande Maleagi 3 vers 8 tot 10 preek is nie. Ek sal aan die einde van die hoofstuk Maleagi hanteer. Tydens die eerste sinode sitting van die Kerk in Handelinge 15, is daar besluit dat slegs enkele voorskrifte nog van toepassing is op ons as heidene wat tot die Christelike geloof gekom het. Wat sê die gedeelte: “28  Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: 29  dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!”

Waar begin ons?

So kom ons begin by die begin, met ander woorde by die Ou Testament of ou verbond se voorskrifte. Wat jy gaan lees, gaan jou dalk skok, maar dit is wat daar staan.

Die wetlike voorskrifte

Sodat daar geen misverstand kan wees nie, wil ek graag elke teks gedeelte volledig aanhaal, en vra ek dat u dit sorgvuldig sal deurlees. Waar vind ons die voorskrifte vir tiendes? Deut 14: “22 ¶ Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad–wat jaar vir jaar uit die land uitspruit–vertien. 23  En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. 24  En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën, 25  dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies. 26  Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis. 27  Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie. 28  Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit; 29  dan moet die Leviet kom–omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie–en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.” Het jy geweet dat vir twee jaar moes die Israeliete hulle tiendes, wat bestaan het uit hulle eerste vrugte, self eet en slegs die derde jaar se tiende moes hulle deel met die Leviet, die weduwee en die wese? As jy ‘n skaap of beesboer was, moes jy slegs dit wat die moederskoot open, offer aan die HERE deur dit te eet. So, as jy 100 skape gehad het en daar was 6 ooie wat dié jaar eerstelinge gehad het, en daar was geen tweelinge nie, was jou tiende die eerstelinge van die ooie, met ander woorde ses lammers. Maar hoekom moes die Israeliete dit eet? Sodat hulle kos gehad het. Hulle kon nie al hulle oeste vir handel gebruik en dan sonder kos gesit het nie. Nee, die HERE wou dat hulle eerste kos in hulle huise gehad het, en dan moes hulle sorg vir die uitbouing van hulle kuddes. Oor die derde jaar se tiende was daar ook spesiale reëlings voor. Deut 26: “12 ¶ As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word. 13  En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie. 14  Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as ‘n onreine niks weggebring en daarvan aan ‘n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van die HERE my God geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het. 15  Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ‘n eed beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” Weereens word dit beklemtoon dat die Leviet slegs ‘n gedeelte van die derde jaar se tiende moes kry. So, as ons dit oor drie jaar indeel, moes die Israeliete twee derdes van hulle tiende gebruik om fees mee te hou waar hulle hulleself mee kon geniet, en slegs ‘n gedeelte van ‘n derde moes vir die Leviet gaan.  Die res van die derde jaar se tiende moes gaan vir barmhartigheidsdienste. Ons moet ook onthou dat die Leviete was nie net die priesters wat geoffer het nie. Al die musikante, die helpers, almal wat in die tempel diens gedoen het, was Leviete. Hulle almal moes uit die stam van Levi kom. Ons lees ook in Numeri 18 dat die Leviete ‘n tiende van wat hulle ontvang het, aan die hoëpriester en die priesters wat by die tempel gewerk het moes bring. Numeri 18:  26 “Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende. 27  En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip. 28  Só moet julle ook ‘n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee. 29  Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan. 30  Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip. 31  En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ‘n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms. 32  En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.” Een ding wat ons kan leer uit die gedeelte in Deuteronomium oor die instelling van tiendes is dat dit my verpligting is om te verseker dat die wat nie grond besit het nie, so in ons tyd wat nie die vermoë besit om inkomste te genereer nie, genoeg het om te eet en van te lewe. So, om saam te vat. Die Israeliete moes vir twee jaar hulle eerste vrugte en hulle tiendes van hulle graan neem na die plek wat die HERE vir hulle uitgewys het, en daar moes hulle dit eet. As dit te veel was, kon hulle dit oorsit in geld en hulle self bederf deur te koop net wat hulle harte begeer het. Die derde jaar se tiende moes die Leviet, die weduwee, wees en vreemdeling gaan haal en daarvan leef vir drie jaar.

Maar wat was die taak van die Leviete?

Het u al ooit gewonder hoekom die Leviete nooit ‘n erfdeel in Kanaän gekry het nie? Ek gaan probeer om die gedeeltes kortliks saam te vat. As u die gedeeltes in die Bybel wil lees, kan u dit vind in Numeri 15, 16 en 17. In hoofstuk 15 gee die HERE sekere wette tot betrekking met offerandes. Hier lees ons dat enige persoon vir die HERE kon offer. In Hoofstuk 16 vind ons dat Korag, Datan en Abiram oproer maak teen Moses en Aäron. Omdat die HERE elkeen toelaat om self te offer, sê die drie saam met 250 van die vernaamste manne van Israel dat Moses en Aäron nie hulle self moet aanstel hoër as die res van die volk nie, want almal is heilig. Moses tree toe in en vra die HERE dat Hy sal uitwys wie reg of verkeerd is. Hulle moes toe koper vuurpanne neem en vir die HERE offer. Toe hulle offer, het die heerlikheid van die HERE aan die hele volk verskyn. Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê om hulle af te sonder sodat die HERE die hele volk kan verteer.  Moses het toe ingetree vir die volk en het die HERE slegs die drie, saam met hulle families en die 250 gesiene persone gedood. Die HERE het toe beveel dat die koper panne platgeslaan moes word en oor die altaar gesit moes word, want hulle was heilig. Die volk het toe weer teen Moses en Aäron gekom, en die keer moes Aäron met die vuurpanne tussen die volk in hardloop om versoening vir die volk te doen. Teen die tyd dat dit gebeur, was daar alreeds 14,700 Israeliete dood. Nou volg die wonderlike verhaal van Aäron se staf wat die HERE laat groei het oornag dat dit selfs vrugte gedra het, om aan te wys watter stam die HERE gekies het om vir Hom offers te bring. Hier het die HERE eers besluit dat omdat die volk nie na Hom luister nie, Hy een stam kies om offers vir die volk te doen, en dit is die stam van Levi. Dan volg die gedeelte wat vroeër aangehaal is oor wat die Leviete moes doen met hulle tiende. Weereens moes dit geëet word. Die keer net deur die priesters. Wanneer ons kyk na die gedeeltes in die Bybel oor hoeveel Leviete daar was, en waaroor alles gaan, vind ons dat die HERE vir Moses bevel gee dat elke eersgeborene seun aan die HERE behoort. Wanneer Israel reg is om in Kanaän te gaan en die volk getel word, vind ons dat die HERE die balans tussen eersgeborenes en Leviete gehou het. Ons vind dat op ongeveer driehonderd na, en dit op 22000 in totaal, daar dieselfde hoeveelheid Leviete is as wat daar eersgeborene seuns was. Dus het elke gesin ‘n Leviet gehad wat hulle die wet moes leer en vir hulle offers moes bring. Onthou ook dat die Leviete geen grondgebied in Kanaän gekry het nie, en dus van die volk afhanklik was om te kon bestaan. Daaroor is daar ‘n gedeelte van die derde jaar se tiendes aan die Leviet gegee. Omdat die HERE die volk nie meer toegelaat het om vir Hom offers te bring nie, moes elke huisgesin sy eie Leviet gehad het wat die offers namens hom moes doen. Een punt wat ek net weer wil beklemtoon is dat slegs die derde jaar se tiendes deur die Leviete en weduwees en wese gedeel is. Nooit moes die volk hulle hele tiende van elke jaar aan die Leviete gee nie. Dit dan die agtergrond oor tiendes, die geskiedenis van die Leviete, en wat Moses se wet daaroor te sê het.

Hebreërs siening

Wat leer Hebreërs ons? Hoofstuk 7 vanaf vers 5 “Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; 6  maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën. 7  Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën. 8  En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe. 9  En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; 10  want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het. 11 ¶ As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was–want met die oog daarop het die volk die wet ontvang–waarom was dit nog nodig dat ‘n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? 12  Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet; 13  omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan ‘n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie. 14  Want dit is volkome duidelik dat onse HERE uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie.” As ons die hele gedeelte van Hebreërs 6 vers 10 tot aan die einde van hoofstuk 13 lees, behandel die skrywer hier uitsluitlik die nuwe verbond. (Ek sal voorstel dat jy dit sorgvuldig drie of vier keer deur lees). Dit gaan daaroor dat ons moet glo dat Jesus die volkome offer was vir sonde, dat Hy vir ons aanhoudend intree. Ons het dus nie meer nodig het om Leviete te betaal om vir ons offers te bring nie, want Christus is ons offer en sit aan die regterhand van God. Hier leer ons dat Jesus was beide offer en Hoëpriester. Hy het die hele tempel nietig verklaar. Onthou u dat Jesus gesê het dat Hy die tempel sal afbreek en in drie dae weer opbou? Dit is was Hy gedoen het. Hy het ‘n nuwe tempel daar gestel vir ons, en dit is ons liggame, want Jesus se Gees, die Heilige Gees, kom woon in ons met wedergeboorte. Daarom moet ons ons liggame skoon hou van alle sondes. Nou leer vers 12 ons dat met verandering van priesterskap kom daar verandering van wet, omdat Jesus die wet van Moses vervul het, en van ons verwag om God bo alles lief te hê, en ons naaste soos onsself. Die Hebreërs skrywer behandel die hele boek deur dat Jesus gekom het volgens die priesterskap van Melgisédek. U sien voor die Levitiese priesterskap was daar ‘n ander priesterskap, deurdat die HERE priesters aangestel het. In hoofstuk 7 in die aanhaling hierbo, verklaar die skrywer dat in die priesterskap daar nie voorskrifte van die wet was nie, maar nogtans het Abraham vir Melgisédek ‘n tiende gegee van dit wat hy gewen het in die oorlog. U sien daar was nie voorskrifte nie, maar nogtans het Abraham vir hom gegee omdat hy geweet het dat die persoon deur die HERE aangestel is. Jesus het weer as priester, en dit dan as Hoëpriester ‘n nuwe orde kom vestig waar geen voorskrifte meer van toepassing is nie, en die Levitiese priesterskap wat met voorskrifte en wasse gepaard gegaan het, nietig verklaar. So dit help nie dat ek na die Ou Testament gaan kyk hoe ek my offers moet hanteer nie, want dit wat Moses vir Israel voorgeskryf het, het Jesus kom vervul, en ‘n Nuwe Verbond kom vestig. Hoofstuk 13 behandel juis wat die voorskrifte is vir die nuwe verbond, hoe ons dus moet optree omdat die wet van die Leviete verval het. So, vir ons as Christene is dit vandag hoe ons moet optree. “1 ¶ Die broederliefde moet bly. 2  Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg. 3  Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ‘n liggaam het. 4  Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. 5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. 6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die HERE is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen? 7  Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. 8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. 10  Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; 11  want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word–hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12  Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. 13  Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. 14  Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. 15  Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. 16  Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers. 17  Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie”. Wat vers 10 en 11 vir ons verduidelik, is dat die offers wat deur die priesters in die Ou Testament gebring is, is die vleis van geëet, maar die diere wie se bloed deur die hoëpriester gebruik is om in die allerheiligste mee in te gaan, is buite die laer verbrand. Dit is dus die offer wat Jesus vir ons bewerkstellig het volgens vers 12. So ek en jy moet uitgaan na die kruis en gaan vergifnis vra vir ons oortredinge en die offer wat Jesus vir ons gedoen het aanvaar, sodat ons deur Hom vrye toegang kan hê na God die Vader toe. Dan word ek deel van die nuwe verbond. Ek het dus nie meer nodig om tiendes aan die Leviete te betaal om namens my offers te bring nie, want Jesus het die volmaakte offer geword en is deur God aanvaar. Jesus was ook die eersgeborene van die nuwe verbond en het Homself as offer aangebied. Hy was dus ons eerste vrugte. Daaroor is die Nagmaal ingestel en moet ons van Hom, ons offer eet en van Sy bloed, die drinkbeker drink, want dit is ons offer wat eenmaal gedoen is en as volmaak aanvaar is.

Nuwe Testamentiese bepalings.

Maar wat nou? Hoe moet ek nou my offers hanteer? Jesus het al in Mattheus vir ons die antwoord gegee. Mat 23: 23  “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.”  Ons sien hier dat die Fariseërs selfs hulle kruie getel het en tiendes daarvan gegee het omdat hulle nie die wet ongehoorsaam wou wees nie, want hulle godsdiens het gegaan oor voorskrifte en wetsonderhouding. Kan jy jou indink hoe hulle op hulle boude sit en koljander korreltjies tel, terwyl Jesus buite siekes genees. Hier vertel Jesus vir die Fariseërs wat die belangrikste is, die reg, met ander woorde dat elke persoon dieselfde gemaak is deur die HERE en dat ons nie ‘n persoon moet oordeel deur op sy aansien in die gemeenskap te let nie, die barmhartigheid, met ander woorde dat ons moet help waar ons iemand sien wat tekort het, en die trou, die absolute vertroue wat ons in mekaar moet hê. Hierdie gedeelte in Mattheus word ook deur baie kerke gebruik om nou te verklaar dat Jesus tiendes goedkeur. Verkeerd. Ongelukkig kon Jesus nog nie hier vir hulle vertel dat tiendes afgestel word nie, want Hy het nog gelewe. Hy moes nog geoffer word op Golgota. Ons moet onthou dat Jesus onder die eerste verbond gebore is, dat Hy self besny is, en dat die nuwe verbond eers in werking getree het nadat Hy opgestaan het uit die dode. En dit is eers in die nuwe verbond waar tiendes nie meer van toepassing is nie, want die Leviete is nie meer nodig nie. Ons is nou self priesters. Jesus het ook later vir ons riglyne gegee. Mat 25 :34  “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 35  Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 36  Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 37  Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: HERE, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38  En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39  En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Hieruit sien ons wat liefde vir ons naaste beteken, en dit is wat Jesus verwag. Die gedeelte is ‘n bevestiging van Jeremia 7 vers 5. “Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; 6  vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie–7  dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.”  Die Woord van God wil ons hier leer dat ons moet doen wat die HERE verwag, en nie dink dat ek Hom kan omkoop met my bydrae of offers nie. Hy kyk na die hart, die ingesteldheid van die persoon. Paulus gee ons ook ‘n riglyn in 2 Korintiërs 8 “12  Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. 13  Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, 14  maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees”. Die HERE verwag nie van jou om te gee as jy nie het nie, maar dat daar gelykheid tussen mense moet wees. As jy vandag baie het is dit jou plig om te sorg vir die wat nie het nie, sodat indien jy eendag weer tekort het, hulle na jou sal omsien. Hoe het die eerste Kerk dit gedoen? Handelinge 2 vanaf vers 44:”En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45  En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. 46  En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 47  terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die HERE het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Na aanleiding van die voorafgaande gedeeltes, wil ek graag net deel oor hoe ons as Nuwe Testamentiese Kerk moet optree. Het u al ooit gewonder hoekom ons party slim mense kry, en dan weer ander wat moet sukkel om te leer. Dan kry ons mense wat goed kan besigheid doen en geld maak, en dan weer ander wat net bestaan, en ander wat ‘n sukkel bestaan maak. Paulus het vir ons die riglyn gegee. As ek baie het, is dit my plig om vir die te help wat nie genoeg het om van te lewe. En dit geld nie net vir finansies nie. Hoekom moet ek my geld met ander deel? Eerstens is dit wat die eerste Kerk gedoen het. Die HERE se wet soos deur Jesus vir ons gegee is: Jy moet die HERE jou God liefhê bo alles, en jou naaste soos jouself. As ek nou alles wat ek van die HERE ontvang vir myself hou, doen ek mos nie die tweede gedeelte nie, want ek vat alles vir myself. Dit is die een rede. ‘n Ander rede is dat dit die manier is om die Evangelie uit te dra. Wanneer ek betrokke raak by mense en hulle ken soos hulle elke dag is, weet ek wat hulle tekorte is. So kan ek dan deur die HERE gebruik word om hulle nood te verlig. Nou begin ek die Evangelie te doen, en kan die HERE my seën sodat ek ander kan seën. So kan ons die Boodskap van Jesus uitdra. Ek kan nie ‘n verskil maak as ek alles vir myself vat en my medemens eenkant toe stoot nie.

En die gemeente se inkomste?

Maar waar kry die plaaslike gemeente dan sy inkomste vandaan om te voorsien in die behoeftes van die predikant of pastoor? Paulus het vir ons spesifieke opdragte daarvoor gegee. 1 Kor 9 vers 9 tot 11 “9  Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? 10  Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11  As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?”  Verder ook in vers 14 “So het die HERE ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” Galasiërs 6 vers 6 “ Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.” Wat nou van ‘n gebou om saam mee te vergader? Dit moet julle as gemeente self oor besluit. As almal saamstem dat daar ‘n gebou nodig is, moet almal betaal daarvoor. Dit is hoe die Israeliete die tempel herstel het. Elkeen het volgens sy vermoë bygedra vir die bouwerk. Gaan kyk maar in Nehemia. Dit is nie met tiendes gedoen nie.

Samevatting

So, om saam te vat. Tiendes is ingestel sodat die Israeliete moes sorg vir die stam van Levi wat nie grondgebied gekry het in Kanaän nie. Verder moes dit voorsiening maak vir die versorging van weduwees, wees en vreemdeling. Alles is in die vorm van ‘n offer gegee. Dit het beteken dat dit kos was om voorsiening te maak vir die daaglikse behoeftes van mense, maar dieselfde tyd geoffer is aan die HERE, vir vergifnis van sondes. Hebreërs leer ons dat Jesus ‘n volmaakte offer gebring het. Ek het dus nie meer nodig om iemand te betaal om namens my offers te bring vir sonde vergifnis nie. Wat moet ek dan doen? Eerstens moet ek sorg dat ek die wat kortkom help sodat hulle kos en klere het, “maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul”. Tweedens moet ek sorg dat die persoon wat my leer uit die Woord, nie ‘n tekort het nie.Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee”. Die laaste vraag nou, is hoeveel moet ek gee? Sodat daar gelykheid in die gemeente kan wees. Sodat niemand, die leraar(s) inkluis, ‘n tekort het nie. Dit is wat die nuwe verbond verwag. Dan hoef ek ook nie te vra of ek my gedeelte moet uitwerk voor of na belasting, of saam met byvoordele of wat ookal nie. Ek moet gee waar ek ‘n behoefte sien, sodat almal kan sê dat die HERE vir hulle sorg. Hy gebruik wel vir my en jou as hande en voete.

En nou Maleagi.

Ek het aan die begin gesê ek sal Maleagi aan die einde hanteer. Hoekom gebruik die kerk dan die gedeelte? Na aanleiding van die verduideliking wat ek hierbo gegee het, moet die persone wat die gedeelte gebruik, eerder hulle preke in ‘n Joodse sinagoge gaan hou, want dit is waar dit tuishoort. Die Jode sal hulle in elk geval nie glo nie, want hulle ken ten minste Maleagi in sy geheel. Al glo jy nog stééds dat jy tiendes moet gee, word jy mislei, want dié gedeelte is in elk geval gerig aan die priesters, en nie aan die volk nie. Maleagi 1 vers 1 ” ¶ Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleagi.” Maleagi 2 vers 1 “¶ En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.”  Daar is nie weer ‘n aanhef wat die uitspraak aan wie dit gerig is verander nie. Ek stel voor dat jy Maleagi gaan lees van die begin tot einde, al vier hoofstukke. Dit sal jou slegs 10 tot 20 minute neem. In hoofstuk een bevestig die HERE sy liefde vir Israel, maar kla hulle aan omdat hulle geroofde, siek en blinde diere bring om te offer. Hier kan ons al klaar oplet dat die Leviete saamgestem het dat die volk nie dit wat die HERE verwag offer nie, maar  verminkte diere offer vir die HERE. So die volk se ingesteldheid was verkeerd. In hoofstuk 2 begin die profeet die priesters weer leer dat die HERE spesifiek die Leviete gekies het om die volk te leer. Hoofstuk 2 vers 7 “ Want die lippe van die priester moet die kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ‘n boodskapper van die HERE van die leërskare.” Nou noem die profeet sekere goed wat die priesters (Leviete) doen wat verkeerd is. Hulle handel troueloos met mekaar, die heiligdom van die HERE is ontheilig, en hulle skei van hulle vrouens. Ten spyte van dit alles huil hulle omdat hulle offers nie aanvaar word nie. Verder vermoei hulle die HERE deur te sê dat elkeen wat kwaad doen is goed in die oë van die HERE. Die profeet gaan verder deur te sê dat die HERE sal oordeel oor die wat verkeerd lewe, want Hy het nie verander nie. Die HERE beskuldig ook die priesters dat hulle al lankal van Hom afgedwaal het, en doen Hy ‘n beroep op hulle om hulle te bekeer. Verder beroof hulle, dit is die priesters, die HERE deurdat hulle nie die hele tiende wat hulle aan die priesters moet afstaan, na die HERE bring nie. Onthou in Numeri 18 het u gelees dat die Leviete ook ‘n tiende moes bring aan die priesters? Dit is die tiende wat hier van gepraat word. Dit is ook ‘n bevestiging van Esegiël 34 waar die herders beskuldig word dat hulle dit wat aan die HERE behoort, vir hulle self neem. So hou Maleagi aan om teen die priesters uit te vaar, en noem hy hulle selfs vermetel omdat hulle sê dat dit tevergeefs is om God te dien. Die hele boek van Maleagi handel oor wat fout is by die priesters, en dus ook by die volk. Hulle hart is verkeerd. Hulle wil nie hulle knie buig voor die HERE nie. Hulle wil doen wat hulle wil. Die boek word dan afgesluit met ‘n profesie oor die koms van Jesus Christus, en wat Hy kom doen op aarde. Dat Hy ‘n nuwe orde gaan inlei, en dat ons dan weer die verskil tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie, sal kan sien. Hoekom? Omdat ons sal sien of die mense die Woord gehoorsaam deur nou te doen wat van ons as nuwe verbond kinders verwag word, en deur dit te doen, ‘n verskil in die wêreld te maak. Maleagi het niks te doen daarmee om jou offer vir die kerk te bring nie, tensy jy ‘n Leviet of priester is in die Joodse volk, en nog nie van Jesus gehoor het nie. Dit het ook niks te doen daarmee dat jy jou hele offer na die plaaslike gemeente moet bring nie, want die tiende wat die volk moes gee, het die Leviet kom haal in die stadspoorte, saam met die weduwee en die wese. Volgende keer hoef jy nie skuldig te voel as jy dalk gekonfronteer word oor jou tiende nie, want die persoon wat dit doen, het dan so pas sy onkunde bewys. Wat is die offers wat in beide die ou en nuwe testament beskryf word as aanvaarbaar vir die HERE?

  • Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
  • Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
  • Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

Het u geweet dat offers ingestel is omdat die volk nie na die HERE wou luister nie? Jeremia 7 vers 21 “¶ So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis. 22  Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. 23  Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. 24  Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.” Daar is nog ‘n gedeelte waar die HERE vir ons vertel wat Hy gedoen het. Esegiël 20 verse 25 en 26: “So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie. 26  En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is”. Onthou dat alles wat eerstelinge was, moes die Israeliete offer. So dit moes in die teenwoordigheid van God gaargemaak word, (deur die vuur gaan), en dan geëet word. Hoekom het die HERE vir hulle insettinge gegee wat tot die dood sou lei? Want Hy kyk na die hart van mense. Na die rede hoekom ek sekere goed doen. So, let op jou ingesteldheid oor hoekom jy glo oor hoe jy jou finansies moet hanteer. Op ‘n persoonlike vlak wil ek jou tog vra dat indien jy glo in tiendes en vir my wil sê dat dit werk. Ek weet dit werk, want God het ‘n wet daargestel wat dit laat werk. Maar ek wil jou tog vra, glo eerder in Jesus, en Hom as offer. Laat ons dan liewer luister na wat die HERE van ons verwag om te doen met ons lewe, want dan sal Hy vir ons ‘n God wees, en ons vir Hom ‘n volk. Wat nou van saai en maai beginsel? Die Bybel verklaar nog steeds dat die HERE die vrywillige gewer liefhet. Hierdie paragraaf is ‘n baie lang tyd na die oorspronklike artikel bygesit, nadat ek soos baie ander weer na die onderwerp gekyk het. Wat u in die artikel gelees het, is nog steeds korrek, maar daar is ‘n paar addisionele punte wat bykom. Indien u nie aan ‘n gemeente behoort nie, is u vry om dit wat u wil gee, te gee waar u voel is reg. Onthou net die voorskrifte om vir die armes, die minderbevoorregtes (weduwee en wese), en die vreemdeling (die sonder vaste inkomste) te gee. Indien u wel ‘n lidmaat by ‘n gemeente is, is dit soos wat Samuel aan die volk gesê het dat die koning (u gemeente of groep) beslag daarop sal lê. “En van julle saailande en julle wingerde sal hy die tiendes neem en dit aan sy hofdienaars en sy dienaars gee.” (1Sa 8:15) So u sal maak soos u koning sê, anders is u in rebellie omdat u nie aan die koning gehoor gee nie. U koning sal wel eendag verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy optrede, maar dit is sy saak. Die oordeel oor hom sal wees volgens Esegiël 34. Een laaste paragraaf wat ek as ‘n gebed wil skryf, is as volg: “HERE ons kom na U toe in die Naam van Jesus wat ons vrygekoop het met Sy bloed op Golgota, deur die volmaakte offer vir U te bring. HERE ek vra dat U elke vloek sal breek wat elke leraar oor die leser se finansies uitgespreek het. HERE, meeste van die vloeke is uit onkunde onwetend op die persoon geplaas, maar ek vra nou dat U die werke van Satan sal verbreek, en dat elke seëning wat U vir die persoon beloof het, sal manifesteer in sy of haar lewe. Dankie dat ons weet dat U ‘n beloner is van elkeen wat U soek. Amen.