Moses 3 vers 4: Hoe moet ek my kinders groot maak?

Print Friendly

In vandag se lewe, met al ons sosiale vooruitgang, wonder ons baie maal of ons ons kinders nog reg groot maak. Ons leer so dat ons die kinders se regte moet beskerm, dat ons nie lyfstraf mag toepas nie, dat ons hulle moet toelaat om die lewe self te ontdek, dat ons nie twee kinders dieselfde kan grootmaak nie, en sommer nog ‘n klomp ander maniere van kinders grootmaak.

Maar iewers langs die pad is alles nie pluis nie. Kinders wil hulle nie meer aan gesag onderwerp nie, misdaad syfers onder kinders skiet die hoogte in, en so word die een geslag net erger as die vorige geslag. Maar dit is nie iets nuut nie. Ons kan nogal baie uit die Bybel leer oor hoe om kinders groot te maak. Daar is nie net duidelike riglyne nie, maar ook goeie voorbeelde wat ons kan gebruik om vir ons riglyne daar te stel oor hoe ons die taak moet hanteer.

Ek wil graag begin deur ‘n paar voorbeelde uit te lig in die Bybel. Gedurende die konings tydperk in Israel, het dit ook maar gegaan soos dit vandag by ons gaan. Ons sien dat elke geslag net verder en verder in afgodery as die vorige geslag verval het, totdat die HERE ‘n einde daaraan gemaak het en hulle weggevoer het na Babel. Maar weet u reeds voor die tyd was daar ‘n voorbeeld vir ons in die Bybel. Ek wil graag die verhaal van Eli en sy twee seuns gebruik.

Eli was hoë priester vir Israel en het die HERE gedien. Maar, daar het ‘n dag gekom wat die HERE met Eli gepraat het deur ‘n onbekende persoon wat net genoem word dat hy ‘n man van God was, oor wat met Eli en sy seuns sal gebeur. Ons almal ken die verhaal van wat later gebeur het dat Eli en sy twee seuns op een dag gesterf het.

Maar, waarom was die HERE kwaad? Dit is hoe die Bybel dit stel. “Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie.”

Dit is vir my verbasend dat die Bybel kan verklaar dat iemand wat in die tempel groot geword het, nie die HERE geken het nie. As ons vandag nog na die ortodokse Jode kyk, sal ons weet dat indien ‘n seun as rabbi wil optree, moet hy op vyfjarige ouderdom die wet, vir ons die eerste vyf boeke van die Bybel, uit sy kop uit ken. Teen dertigjarige ouderdom, moet hy die hele Tora ken. Eli se seuns is grootgemaak om hom op te volg as hoëpriester, so hulle moes die wet en al die gebruike geleer het as kinders. Hulle was immers priesters.

Wat was hulle probleem? Hulle wou nie onder gesag staan nie. Dit is wat verder in die verhaal staan. “Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem. As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer–dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.”

Klink dit dalk bekend? Is dit nie wat baie kinders vandag doen nie? Hulle het geen ontsag meer vir enige persoon nie. Maar hoekom gebeur dit? Ons as ouers het soos Eli geword. Ons laat ons kinders toe om te doen dit wat verkeerd is. Ons leer hulle nie meer om hulle aan gesag te onderwerp nie. Hoe het Eli opgetree teenoor sy kinders? “en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,  dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor? Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.” Hoeveel keer het ek dit beleef dat daar van kinders gesê word dat hulle maar net op hierdie en daardie stadium is. Want u sien, hulle het nooit geleer om hulle te gedra nie. Daar is maar net elke keer toegegee aan hulle eise, en nooit is daar straf uitgedeel vir verkeerde optrede nie.

Ongelukkig is daar geen stadiums wat kinders moet deurwerk nie, maar is dit ons as ouers se plig om hulle nie net inligting te verskaf nie, maar ‘n opleiding te gee, want dan sal dit nie nodig wees vir stadiums nie. Dit is wat Eli se fout was. Hy het hulle slegs ingelig dat hulle verkeerd optree. Daar was geen opleiding nie.

Maar wat is die verskil tussen die twee begrippe? Om iemand te onderrig, is om kennis mee te deel. Dit is hoe ons skool stelsel werk. Daar word inligting gegee, en dan word die kinders getoets of hulle die inligting kan weergee. Opleiding aan die ander kant, is om gewoonte patrone vas te stel. Dit is soos om iemand te leer om ‘n kragprop te vervang. Indien ek net al die inligting vir hom gee, gaan die persoon dalk nog steeds deur die krag geskok word, want hy weet nie hoe om dit te doen nie. Indien die persoon egter opleiding gekry het oor hoe om dit te doen, kan hy uit voorbeelde wat hy waargeneem het, geleer het, en is die kanse skraal dat hy geskok sal word.

So as ons na kinderopvoeding kyk, is opleiding dus om karakter te vorm, om te onderrig deur oefening, gehoorsaam te maak deur bevele, om in ‘n presiese rigting te wys, om hulle voor te berei vir die stryd. Dit beteken dat die kind moet leer om nie net te hoor nie, maar ook om te gehoorsaam.

Nou mag u dalk sê maar dit is die outydse manier van kinders grootmaak. Ons lewe in ‘n nuwe tyd waar ons die sielkundige manier volg. My vraag aan u is onmiddellik: Hoekom is die resultate tussen die twee maniere dan so verskillend? Vroeër het kinders geweet hoe om hulle te gedra. Baie kinders van vandag het nie ‘n idee van hoe om op te tree nie. Hoe stel Spreuke dit : “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Indien u baie sterk voel oor u manier van kinderopvoeding, dink ek nie dat u van standpunt sal verander nie. U glo dat wat u doen en hoe u dit doen reg is. Maar die gedeelte uit Spreuke bevraagteken juis hierdie gedrag.

Ons lewe in ‘n eeu waar die mens baie eerder die skepsel sal glo as die Skepper. U sien, die HERE is al van die begin van die aarde daar en het almal in die Bybel geleer hoe om kinders groot te maak, vir so om en by 6000 jaar lank. Maar ons is baie vinnig om liewers te luister na iemand wat dalk 4 jaar op universiteit was, en dalk ook ‘n paar jaar praktiese kennis het. Ons maak net soos Eli se kinders wat hulle nie onder die gesag van God wou skaar nie. U sien, ons kan nie net een gedeelte van die Bybel aanvaar nie. Ons kan nie net maar glo dat net Johannes 3:16 vir ons bedoel is nie. Nee, ons moet die totale pakkie wat die HERE vir ons gee in die Bybel, aanvaar. Dit is hoe die HERE dit aan Eli stel :”Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?” U sien, Eli het ook gedink hy voed sy kinders reg op, maar dit is nie wat die HERE gedink het nie.

So wat leer die Bybel dan? Ek wil graag net ‘n paar verse uit Spreuke deurgee, en dan enkele indrukke daaroor gee.

  • Spreuke 14:24  Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.
  • Spreuke 19:18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.
  • Spreuke 23:13-14 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
  • Spreuke 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
  • Spreuke 29:17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.
  • Spreuke 22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.

Onthou net, u optrede sal nie ‘n kind beperk nie. Na alles wil ons graag hê dat ons kinders sonder inhibisies en vry moet groot word. Ons moet besef dat ons nie die kind se gees vernietig nie, maar dat ons die opstandige wil van hom breek wat later hom in groot moeilikheid kan laat beland, as dit nie bedwing word nie. Wanneer die roede in die regte gees en selfbeheersing en in liefde gebruik word, sal dit liefde gee.

‘n Opmerking wat baie gehoor word is dat elke kind anders is en volgens sy reaksie berispe moet word. Dit is seker so dat elke kind sy eie temperament en persoonlikheid het, maar dit verander niks aan die saak dat elke kind met ‘n self gesentreerde sondige natuur gebore is nie. Daarom moet elkeen op die plek gebring word waar hy hom gewillig aan die Godgegewe outoriteit sal onderwerp. Dit moet gedoen word deur God se manier van onderrig te volg, naamlik die roede en tugtiging. Onthou asseblief dat kinders dink jy het ‘n gunsteling as hulle nie almal dieselfde behandel word nie. Dit vereis geloof aan jou kant. Glo en pas toe wat in die Woord staan en laat die res aan God oor. Hy weet hoe om Sy Woord te laat werk.

Hoe pas ons die metode van die Bybel toe? Die eerste beginsel wat geleer moet word is dissipline. Wat is dissipline? Dissipline is die vermoë om jou wil te beheer en om jouself te onderwerp aan opgestelde vereistes, en dit word geleer deur die roede te gebruik. Die pyn wat deur die roede veroorsaak word reinig die innerlike van ‘n kind. Dit boesem ‘n gedetermineerdheid in om te doen wat reg is. Dit forseer die kind om te dink voordat hy doen. Om ‘n voorbeeld te gebruik. Ek weet van ‘n dame wat drie seuns in die huis gehad het, en indien sy hulle iets vra, moes sy so by die derde keer baie hard praat, eintlik skreeu, voordat hulle haar sou gehoorsaam. Sy het besluit om te doen wat die Bybel verklaar, en na die eerste keer na hulle kamers gestap en die roede gebruik. Die seuns was baie verbaas, want hulle was gewoond om te wag vir die derde keer se skreeu voordat hulle hoef op te tree. Hulle het daarna op die eerste bevel gereageer.

Wat daar gebeur het, en dit bring my by die tweede punt, is dat daar grense gestel is. Die seuns het geweet dat wanneer ma iets vra, moet dit onmiddellik gedoen word, anders volg die roede. So is dit met alles in die kind se lewe. Indien daar nie grense gestel word nie, heers daar onsekerheid en weet die kind nie hoe om op te tree nie. Indien daar wel grense gestel word, is daar veiligheid vir beide die ouer en kind. Dan sal die kind weet tot waar hy kan gaan, en die ouer sal weet wanneer om op te tree. Natuurlik sal die kind probeer om die grense te toets, maar die ouer moet nie ingee nie. Dit verg dus dissipline aan beide die ouer en die kind se kant. ‘n Voorbeeld wat ek wil gebruik is die bevindinge van ‘n toets wat met kleuters in die VSA gedoen is. Hulle het ‘n kinderspeelterrein in die middel van ‘n besige snelweg ingerig. Die eerste dag was die terrein met dik tydelike mure toegemaak, en het hulle gevind dat die kinders tot teen die mure gespeel het, terwyl motors teen 80 kilometer per uur slegs enkele meters van hulle af verby gesnel het. Die volgende dag het hulle die mure verwyder, en het die kinders angsbevange in die middel saamgedrom en glad nie eers probeer om te speel nie. Hoekom nie? Want hulle grense was verwyder. Dit is ook hoe dit met ons en ons kinders gaan. Indien ons weet waar die grense is, weet ons hoe om op te tree, maar wanneer ons nie grense het nie, weet ons nie hoe om op te tree nie.

Hoe gaan die kind probeer om die grense te toets? Deur nukkerigheid en woede aanvalle. Wat is die oplossing? Gebruik die roede, dit is die enigste manier om die selfsugtige wil van die kind te breek. Onthou net, opleiding sal nie ‘n kind se gees skade aan doen nie, dit sal net sy eie wil breek en verantwoordelike keuse en besluite vestig. Die Woord van God bewys dat ‘n kind se persoonlikheid en karakter op die manier ten volle ontwikkel word. So volgende keer as die kinders weer met ‘n gesanik na jou toe kom of ‘n “tantrum” in die winkel gooi, moenie ingee nie, gebruik die roede. Laat hulle weet dat hulle ongehoorsaam is.

‘n Paar punte waarmee ek wil afsluit is as volg:

  • Indien ‘n kind se wil nie gebreek word nie, hoe gaan die kind homself onderwerp aan die Woord van God? Hoe gaan hy besluit om die heerskappy van die HERE in sy lewe te aanvaar? Dit kan slegs geleer word wanneer daar onderdanigheid geleer word as kind.
  • Bid altyd vir jou kinders. Moet nooit dink gebed is nie nodig vir jou kinders nie. Onthou net die Bybel leer ons dat Jesus ook vir ons sonder versugtinge intree by die Vader.

Ek vertrou dat u die Woord sal ondersoek en besluit om u kind op die Bybelse manier op te voed.