Moses 1 vers 4: Wat nou van my kinders?

Print Friendly

Wat nou van my kinders, of anders gestel, hoe word my kinders deel van God se volk? Dit is regtig ‘n vraag wat my onkant gevang het so ‘n rukkie gelede. Ek was so oortuig dat alles wat ek geskryf het oor die afgelope jare meeste van die vrae wat persone het, sou beantwoord, maar het nooit aan diè kwessie as ‘n aparte onderwerp gedink nie.

Die vraag kan afhangende van jou agtergrond, ook ‘n paar lelike verrassings inhou as jy nie oppas nie. Indien jy in ‘n tipiese Rooms/Luthers/Calvinistiese agtergrond kom, dink jy dat net solank die baba of kind gedoop word binne die eerste paar maande van hulle lewe, almal nou rustig kan wees aangesien die kind nou aan die HERE behoort. Wat nou van kinders wat binne die eerste paar uur sterf? Wat word van hulle? Dan wil ons soos die Roomse Kerk dooie mense doop net sodat hulle gered kan word. Dalk glo jy dat indien die kind sterf voordat die doop bedien is dat die kind nou aan die duiwel behoort want Jesus het nou geen gesag oor die baba nie. Jesus kan nou nie die baba vir Hom toeëien nie want die kind behoort nog nie aan Hom nie. Dit is die standpunt wat daartoe gely het dat die Roomsekerk dooies gedoop het.

Indien jy uit ‘n Pinkster agtergrond kom leer jy dat die kind eers moet glo en Jesus aanneem en dan gedoop word. Die kind is mos ingeseën as baba en daarom sal Jesus nie die kind verlaat nie, al sterf die kind voor doop. Sodra die kind groot genoeg is, so van elf/twaalf jaar oud, sal meeste Pinkster/charismatiese kerke die kind doop.

Maar waar word al hierdie vrae vir ons in die Bybel beantwoord? Na my ondervinding het ek die HERE genader vir antwoorde, aangesien ek nie geweet het hoe om die vraagstuk te hanteer nie. Indien ons na Israel as voorbeeld kyk is die kinders dan saam met hulle ouers deur die Rooisee en het die Egiptenare (hulle sondige begeertes) mos daar alreeds verdrink. Hulle is dus mos saam met hulle ouers gedoop en is dus deel van Sy koningryk. Hoe nou gemaak?

Ek wil dat ons na ‘n paar stukke in die Bybel sal kyk voordat ons verder gaan. Die eerste stuk kom uit Galasiërs. Gal 4:1-2 “Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal”. Hierdie gedeelte bevestig vir ons dat kinders altyd onder die gesag van ‘n ouer of voog staan, totdat die tyd aanbreek dat die kind self verantwoordelikheid vir sy dade sal moet aanvaar. Indien die kind nie die vermoë het om self die besluit te neem nie, sal die ouer of voog in die bres staan vir die kind, al is die kind 60 jaar oud.

Rom 5:1-2 “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; (2) deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.” Hierdie gedeelte bevestig weer vir ons dat ons uit geloof gered word, en nie uit werke nie. Dit wil dus vir my leer dat die doop, wat werke is aangesien ek iets moet doen, my nie sal red nie, maar dat my geloof my red. Hierdie is ‘n ontsettende belangrike punt aangesien ons almal hardloop na wat Petrus sê dat dit die doop is wat jou red, maar die Bybel verklaar male sonder tal in veral Romeine en Galasiërs dat ons uit geloof gered word. Ek moet glo dat die redding wat Jesus bring, al is wat my van die verderf kan red. As ons Petrus reg verstaan verklaar die gedeelte dat geloof en doop so nou saamhang dat dit amper onmoontlik is om te glo sonder om gedoop te word. Daarom stel hy dit dat dit die doop is wat jou red. Onthou net Noag moes eers glo dat daar ‘n groot reën sou kom voordat hy kon begin om die ark te bou. Die gedeeltes bevestig dat dit wel geloof is wat bepaal of jy kind van God is of nie.

Hierdie gedeeltes bevestig ook vir ons ‘n hele paar ander gedeeltes in die Bybel. Beide boeke, Galasiërs en Romeine, volg ‘n sekere volgorde, naamlik bekering, geloof, doop. Die volgende verse spel dit vir ons ook uit. Hebreërs 6:1-2 “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, (2) van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.” Markus gee dieselfde volgorde: Mar 16:15-16 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. (16) Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” As ons hierna kyk sien ons dat die persone nie veroordeel sal word omdat hulle nie gedoop is nie, maar omdat hulle nie geglo het nie.

Al hierdie gedeeltes gee vir ons ‘n volgorde. Hierdie volgorde is alreeds in Eksodus vir ons gegee. Israel moes eers roep vir verlossing, (bekering), hulle moes toe glo dat die HERE hulle uit sou lei na Kanaän, en hulle moes die verbondsmaal hou. Hulle het daarna deur die Rooisee getrek, en is by Mara met die Heilige Gees gedoop.

Wanneer ons dus na ons kinders kyk, vind ons dat selfs in Israel se tyd is nie van kinders verwag om te glo dat die HERE hulle in Kanaän sou inbring. Hulle was onder die gesag van hulle ouers. Dieselfde geld vandag. Die HERE verwag van my om in verhouding met Hom te staan en hou my verantwoordelik vir hoe my kinders hulle lewens as kinders deurbring. Maar dit is waar die probleem is. Ons as ouers wil ons verantwoordelikheid op ons kinders afdwing deur te veg dat hulle gedoop moet word. Nee, die HERE verwag van jou om vir hulle as voog in te tree. Hy hou jou verantwoordelik vir hoe hulle as kinders optree, en sal hulle as kinders oordeel op grond van hoe jy optree. Daarom verklaar Moses ook in Deuteronomium dat die ouers met hulle kinders moet praat waar hulle ook al is, of hulle staan, sit of op reis is, die kinders moet geleer word wat die HERE van ons as Christene verwag. Deut 6:5-7 “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. (6) En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; (7) en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

Hoe seker is ek? Toe Israel die eerste maal by die Jordaan staan om in Kanaän in te gaan, is Israel se verweer hoekom hulle nie wil ingaan nie, dat hulle bang is hulle kinders en vroue sal om kom. Num 14:3 “En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?” U sien hulle het nie gesê hulle wil nie ingaan nie, nee, hulle hou hulle kinders en vroue as verskoning voor. Ons doen presies dieselfde. Ek wil dat dit nie oor my gaan nie, maar oor my kinders. Die HERE gee vir ons die antwoord ook in die gedeelte. Num 14:28-29 “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.” U sien die HERE wil dat ek sal hou by dit wat ek my oor moet bekommer, en dit is oor myself, nie oor my kinders nie. Indien ek gedoop is as gelowige, sal Hy nie my kinders na die verderf stuur nie, maar hulle geleentheid gee om self te besluit.

Niemand word in Kanaän gebore nie. Alle mense word in Egipte gebore, en moet besluit of hulle na Kanaän wil gaan. Niemand word dus sonder ‘n sondige natuur gebore nie, almal moet besluit om saam met Israel te trek. Indien hulle nooit besluit om te trek nie, sal hulle as sondaars sterf en die ewige verdoemenis beërf. Hulle moet self besluit om die HERE te dien. Esegiël stel dit as volg:18:20 “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees. 18:30 Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ‘n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.” Ek is bewus dat dit redelik harde is, maar dit help nie om doekies om te draai nie. Ek as vader of voog is verantwoordelik vir my kind totdat hulle twintig word, eers daarna sal die HERE hulle oordeel volgens hulle dade. Dit is wat Hy met Israel gedoen het, en dit is wat Hy met ons sal doen.

‘n Ander gedeelte wat ook tydens my soeke vir my skielik ontsluit is, handel oor die Nagmaal. Wanneer ons glo dat die bloed van Jesus ons kan red, moet ons die Nagmaal vier. Die Nagmaal weereens is ingestel vir gelowiges. Dit beteken vir die wat alreeds gedoop is as teken van hulle geloof. Ek kan nie maar my kinders ook daaraan laat deel nie want dan het hulle geen iets om na uit te sien om Sy kinders te word nie. Die Nagmaal moet vir ons weer ‘n werklike gedenkmaal word soos dit voor ingestel is. Dit moet ons herinner aan ons lewe in Egipte en dat die eerste keer wat ons dit gebruik het, die doodsengel ons nie kon aanraak nie. Nou kan ek as volwassene voor die Vader verskyn in volle geregtigheid, sonder om bang te wees dat ek dalk veroordeel sal word. Dit is dus ook hier waar die Lutherse- Calvinistiese- en Roomsekerke vas hak. Hulle weier om te trek uit Egipte. Dit veroorsaak dan dat hulle elke dag moet veg teen die aanslae van Egipte, en kom hulle nooit vry van hulle sondige begeertes nie, want dit sterf in die Rooisee.

Die laaste gedeelte waarmee ek ook wil afsluit is dit: Jesus was beide Lam en Eersgeborene. Hy moes as eersgeborene sterf om ook die tiende plaag tot niet te verklaar. Hy kon nie onder die bloed van die Lam kom nie, want Hy is ook die Lam. Daaroor hoef ek nie myself te bekommer oor die dood van die eersgeborenes nie. Jesus is eersgeborene in die Koninkryk van God en het gesterf om die prys te betaal. Al wat ek moet verseker is dat ek my kinders leer dat hulle eendag self sal moet kies of hulle Hom wil volg. Eers dan sal die doop vir hulle werklik iets kan beteken. Ek moet ook oppas dat hulle nie te vroeg die besluit neem nie. Hulle moet die volle impak verstaan naamlik dat hulle nou kies om Hom te dien, wat hulle deel van die verbond maak, dat hulle dan deur die doopwater moet gaan, en dat hulle hulle nooit van die weg kan afkeer nie, anders gebeur dit met hulle wat in Hebreërs 6 vir ons uitgespel word: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb 6:4-6) Ons as ouers moet verstaan wat die impak van die besluit is en kan nie toelaat dat ‘n kind wat nog deur die puberteits en tienerjare moet gaan, al kan besluit hoe hulle die res van hulle lewe sal lei nie. Eers wanneer hulle daar deur is, moet hulle die besluit neem.

Paulus deel ook met ons oor hoe die HERE oor Israel gevoel het omdat hulle Hom nie vertrou het nie. “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.” (1Co 10:1-6)