Moses 1 vers 3: Hoe bly ek in Kanaän, of anders gestel, kan ek my saligheid verloor?

Print Friendly

Wat sal die HERE alles doen om te verseker dat ek nie Kanaän verloor nie? Jy kan dalk selfs wonder hoekom jy so swaarkry te midde van die wete dat jy as Christen in oorwinning moet lewe. Ek weet dit is ‘n moeilike vraag om altyd die korrekte antwoord op te gee, want amper elke kerkverband het ‘n ander siening oor die saak. So hoe gaan ek dit reg kry om ‘n definitiewe antwoord daarop te verskaf?

Ek en Hettie het vanoggend so gesit en gesels na aanleiding van ‘n geval waarin ons moes raad gee, en een van die punte wat vir my uitgestaan het was dat mense vashou aan ‘n tyd toe hulle die HERE gedien het, en nie weer hulle lewe wil verander om in te pas by dit wat die Bybel vir ons verklaar nie.

Waarvan praat ek? Ek het al vroeër in die boek uitgelig dat ons ‘n lewe as oorwinnaars moet lewe, om enigsins aanspraak te kan maak op die beloftes wat in Openbaring vir ons van vertel word. Wat gebeur nou met ons as ons nie dit doen nie?

Die Geskiedenis van Israel.

Ek wil hê ons moet maar weer kyk na Israel se geskiedenis, en hoe die HERE met hulle gehandel het. Onthou net dat die HERE slegs Israel gekies het as Sy uitverkore volk, en dat ons as nie-Jode moet kies om deel te word van Sy volk. Daaroor moet ons na Israel se geskiedenis kyk sodat ons daaruit kan leer wat en hoe die HERE vandag teenoor ons sal optree. Toe Israel in Kanaän inkom, het hulle onder die leiding van Josua gestaan. Onder Josua het die volk die HERE gedien, en het hulle in geregtigheid gewandel. Dit is wat die HERE van hulle verwag het. Josua waarsku hulle wel net voor sy sterfte dat hulle, dit is nou Israel, nie moet wegdraai van die HERE nie, en word ‘n klipstapel opgerig wat die volk moet herinner aan hulle gelofte dat hulle die HERE altyd sal dien.

Na Josua se dood is die volk onder leiding van die oudstes wat ook nog deur die woestyn gekom het, en dwaal die volk nie af nie. Hierdie tydperk en die tydperk wat daarop volg staan bekend as die tyd van die Rigters. Die term rigter beteken nie juis vir ons vandag iets nie, maar die engelse naam, “Judges”, gee vir ons meer lig op wat in die tydperk aan die gang was. Die HERE het elke keer as een van die volke om Israel hulle wou inval, iemand opgerig wat Sy reg en oordeel oor die buurvolke volbring het. So ken ons die verhale van Gideon, Jefta, Deborah en Simson as van die rigters. Maar hoekom het die HERE toegelaat dat hulle in die tyd aangeval word?

In die tweede hoofstuk van Rigters lees ons dat die HERE ‘n Engel stuur om oordeel oor Israel uit te spreek omdat hulle nie al die mense wat hulle aangeval het, gedood het nie. Die Israeliete het besluit dat hulle van die Kanaäniete en Aseriete en van al die ander volke laat bly leef het. Hier verklaar die HERE dat Hy nie verder die ander volke voor Israel uit sal verdryf nie, en dat die volke Israel sal bly teister en aanval. Wat sê die Skrif: “1 ¶ Toe trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ‘n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; 2 maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? 3 So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode ‘n strik vir julle. 4 En terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween; 5 en hulle het dié plek Bogim genoem en daar aan die HERE geoffer.”

Na jare kom die volk na Samuel wat alle ampte, rigter en hoë priester en profeet volstaan het, en verklaar dat hulle wil nou soos al die ander volke ‘n koning hê. Die HERE waarsku hulle teen dit en verklaar aan Samuel dat die volk nie vir Samuel nie, maar vir Hom verwerp het. Nou verklaar die HERE dat die konings hard oor die volk sal regeer, en allerhande goed van hulle eis, hulle kinders, hulle tiendes sal hy eis vir homself, en hulle sal vir die koning moet werk. Nogtans verkies die volk dit want hulle wil nie meer direk verantwoordelik wees aan die HERE nie.

Die Bybel leer ons dat tydens die konings tydperk dit beide goed en sleg met die volk gegaan het. Indien die koning die HERE gedien het, soos Dawid, was Israel voorspoedig en het dit met hulle as volk goed gegaan. Wanneer die koning afgedwaal het soos Agab, dan het dit sleg gegaan met die volk. Maar die HERE het nooit opgegee nie. Hy het aanhoudend profete na die konings gestuur en vir die volk gewaarsku dat hulle hul moet bekeer, anders het Hy geen opsie as om hulle te verwerp nie. Van die profete is dood gemaak soos Jesaja, ander weer is opgesluit, soos Jeremia. In die tyd het Israel afgedwaal en het basies net Juda oorgebly. Na die inval deur die Chaldeërs en die wegvoer na Babel, besluit die wat agtergebly het in Jerusalem om terug te gaan na Egipte omdat hulle nie kans gesien het om soos die res van Juda na Babel weggevoer te word nie. Hulle het vir Jeremia saam geneem en nie geluister na hom nie. Die wat na Egipte is, het toe nooit weer uit Egipte terug gekom nie. Maar meer nog, hoor wat die HERE met hulle spreek deur Jeremia: 44 :26-27 “26 Daarom, hoor die woord van die HERE, o hele Juda wat in Egipteland woon! Kyk, Ek sweer by my grote Naam, sê die HERE: Nooit sal my Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda in die hele Egipteland nie, met die woorde: So waar as die HERE HERE leef! 27 Kyk, Ek is wakker oor hulle ten kwade en nie ten goede nie; en al die manne van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en die hongersnood omkom, totdat dit met hulle gedaan is.” Nie een van die wat die oorsaak was van die trek na Egipte, het weer teruggekom in Jerusalem nie.

Met die terugkeer na Jerusalem uit Babel was die oorblyfsel van Juda onder die jurisdiksie van ander volke, en het hulle nooit weer hulle self geregeer nie. Hulle was toe die hele tyd, tot selfs in Jesus se tyd, onder heidense heerskappy. Jesus se taak weet ons, was om weer ‘n nuwe Israel te kom oprig, ‘n volk wat sou kies om Hom te dien. Dit is ook die rede dat die Jode nie glo dat Jesus die Christus is nie, omdat hulle verwag dat hulle verlosser weer ‘n fisiese koninkryk moet kom oprig. Hulle verwag dat iemand uit die stam van Dawid moet kom om weer ‘n fisiese koning te wees. Dit is ook hoekom die mense vir Jesus so ‘n groot ontvangs gereël het met Sy intog in Jerusalem. Hulle wou Hom koning salf, maar toe het Hy gekom om te sterf. Nie iets wat die Jode verwag het nie.

Iets wat ook nogal interessant is uit die geskiedenis, is dat die HERE vir Dawid laat salf het as koning, die laaste koning wat die HERE aangewys het. Al die konings daarna is self aangestel. Nie een is weer soos Dawid deur die HERE aangewys nie.

Die geskiedenis toegepas vir vandag.

Maar hoe raak hierdie geskiedenis van Israel vir my as Christen, en hoe beïnvloed dit my as Christen?

Wanneer ons kom om Kanaän in besit te neem, moet ons doen wat die HERE van ons verwag. Wanneer Hy vir my iets wys wat nie reg in my lewe is nie, moet ek dit vernietig. Ek mag nie verklaar dat ek weet dit is ‘n probleem nie en niks skade aanrig in my verhouding met die HERE nie. Nee, ek moet totaal en al daarmee breek en dit vernietig. Anders gaan die HERE nie meer al die ander vestings in jou lewe vir jou verwoes nie. Nee, hulle sal daar bly en jy sal aanhoudend teen dit moet veg. Maar, gelukkig weet ons dat met die HERE, ons daaroor sal oorwin. Oorspronklik sou Hy dit vernietig het, maar nou gaan jy net vir ‘n tyd daarvan ontslae wees, en gaan die sonde jou pla totdat jy geheel en al daarmee breek.

Hierdie omstandighede het ons ook in die vroeë Kerk aangetref. Almal het goed geleef en gedoen soos wat die apostels hulle geleer het. Geen wonder dat daar op een dag 3000 siele bygevoeg is tot die Kerk nie. Hier het hulle elke dag van huis tot huis die HERE geloof en prys, en saam geëet. Die vroeëre Kerk het geleef soos wat Israel geleef het in Josua se tyd en die tyd direk daarna. Maar ons lees hoevele kere in die Nuwe Testament hoe Paulus, Johannes, Petrus en Judas die mense waarsku om nie afvallig te word nie. Dit verwys na die tyd van Abimèleg wat homself vereer en aangestel het oor Israel.

Maar, ons weet dat in die tydperk 300 tot 400 na Christus mense opgestaan het en hulle self as hoofde oor die Kerk aangestel het. Konstantyn het selfs mense betaal om hulle te laat doop, en heidense priesters en katedrale is omskep en Christelik gemaak. Dit was die aanbreek van die konings tydperk in die Kerk. Dit is ook wat in my lewe gebeur as ek nie met alle sonde breek nie.

Wat is die gevolg van my optrede? Nou voel ek dat ek soos die ander godsdienste op aarde nie meer aan die HERE self verantwoording kan doen nie, en kies ek om onder iemand anders sal inskakel, by ‘n groot gemeente. Ek wil nie meer direk met die HERE onderhandel nie. Hy is ‘n te groot God, en ek wil nie meer direk met Hom in verhouding staan nie. Ek wil eerder aan iemand anders verslag doen as aan die HERE. Ek wil by ‘n gemeente kom waar ek deel van Sy volk kan wees, maar waar die HERE sal handel met my op die voorwaardes soos deur my koning bepaal. In vandag se dae kies ons baie keer nie eers om na ‘n gemeente te gaan nie, maar is dit die gewoonte dat sodra iemand tot bekering kom, om by ‘n gemeente in te skakel. As ons na Israel se aanbreek van die konings tydperk kyk, verklaar die HERE ook hoe my omstandighede sal verander.

Onthou oorspronklik moes elke huisgesin sorg dat die Leviet, die weduwee en wees kos en blyplek gehad het. Dit was wat die volk se tiende voor was. Nou verklaar die HERE as volg: 1 Sam 8: 9-18 : “9 Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer. 10 Samuel het toe al die woorde van die HERE oorgebring aan die volk wat ‘n koning van hom gevra het. 11 En hy het gesê: Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: Julle seuns sal hy neem en hulle vir homself aanstel by sy wa en by sy perde, dat hulle voor sy wa uit hardloop; 12 en om hulle vir homself aan te stel as owerstes oor duisend en owerstes oor vyftig, en om sy land te ploeg en om sy oes in te samel, en om sy oorlogswapens en gereedskap vir sy strydwaens te maak. 13 Ook julle dogters sal hy neem as salfmengsters en as kooksters en baksters. 14 En van julle lande en julle wingerde en julle olyfboorde sal hy die beste neem en aan sy dienaars gee. 15 En van julle saailande en julle wingerde sal hy die tiendes neem en dit aan sy hofdienaars en sy dienaars gee. 16 En julle slawe en slavinne en julle beste jongmanne en julle esels sal hy neem en vir sy werk gebruik. 17 Van julle kleinvee sal hy die tiendes neem, en self sal julle sy slawe wees. 18 En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het, en die HERE sal julle in dié dag nie verhoor nie.”

Nie mooi woorde nie, maar tog het Israel ingestem. Dit wat volgens die wet na die Leviete moes gaan, het die koning op beslag gelê, en het hy besluit oor hoe dit spandeer sou word. Selfs Dawid het besluit hy sal die tempel vir die HERE oprig, wat Salomo toe gedoen het, maar Dawid het self besluit oor waar en hoe die Leviete gebruik sou word. Hy het die gesag geneem en daarmee gemaak soos hy wou. Dit is nie ‘n veroordeling van Dawid nie aangesien hy nie die geskiedenis gekies het nie, maar hy het gehandel volgens die uitspraak van die HERE. Daaroor as die koning die HERE gedien het, het dit goed gegaan met die volk, en as hy dit nie gedoen het nie, het die volk daaronder gely.

Dieselfde geld vir ons. Die gemeente se leierskap sal besluit hoe en wat met jou bydrae of tiende sal gebeur. Die grootste gedeelte sal gebruik word om die leierskap se salarisse te dek. (Sien die vers oor finansies.) Jy kan nie self besluit nie, want jy het jouself onder die jurisdiksie van die HERE uitgehaal, en jouself onder die jurisdiksie van ‘n gemeente of kerkverband geplaas. Nou moet jy volgens hulle pype dans, moet jy volgens wat hulle besluit wat reg of verkeerd is, optree. Nou kan jy nie jou hulp aanbied waar daar behoefte is nie, maar moet jy dit by die gemeente aanbied, en hulle help om hulle ondersteuning te doen. Aangesien jy jou persoonlike verantwoordelikheid neergelê het en by ‘n gesamentlike besluitneming ingeskakel het, is dit hoe jou lewe sal wees. Jy het jou persoonlike vryheid, jou persoonlike verhouding prys gegee vir gesamentlike verantwoordelikheid. Ook sal die leier besluit wie in gesagsposisies aangestel sal word. Die HERE sal nie die mense aanstel nie, die leierskap sal, maar dit sal wel van jou seuns en dogters wees. Hulle sal ook nie kan doen wat hulle voel is reg nie, nee, hulle sal vir die koning werk en doen wat hy beveel en na sy pype dans. Ek sê nie dat jou gemeente uit die bose is nie, maar dat hulle optree soos die konings van ouds. Ek verklaar ook nie dat jy nie hemel toe sal gaan as jy daar bly nie. Indien jou leierskap die HERE dien soos in Dawid se tyd sal dit goed gaan met jou gemeente. Maar onthou, die HERE sê dat elkeen sy eie pak sal dra.

In die Kerkgeskiedenis sien ons dat die volgende wat gebeur is dat persone soos Luther en Calvyn opstaan om weer die Kerk op die regte pad te bring. Hulle lewens verwys ook maar na konings en profete soos Dawid, Jesaja, Joël, en Hosea wat weer die volk terug bring na die HERE. Maar uiteindelik kon die Kerk nie bly staan nie, en lees ons in die geskiedenis dat daar ‘n dooie tyd aangebreek het. Mense moes vlug vir hulle Christenskap. Daar was oorlog tussen die konings. Dink maar aan die Franse, hoe hulle uitgemoor is omdat hulle nie onder die Roomse gesag wou staan nie.

Dit is so in ons lewe ook. Hoeveel mense is al net in ons tyd “dood gemaak” in die gees omdat hulle nie die lering van hulle kerk wou aanvaar nie. Dit het met Jesaja en die ander profete nie juis anders gegaan nie. Nou staan jy voor ‘n keuse: Of jy gaan na Babel, of jy gaan terug na Egipte. Hoe weet ek of ek besluit het om na Egipte terug te gaan? Ek het besluit dit help nie om ‘n Christen te wees nie. Of erger nog, ek het besluit om die HERE op my voorwaardes te dien. Die HERE moet maar by my manier en leefwyse inpas, want ek weet wat reg en verkeerd is. Onthou net, nie een van die wat gekies het om Egipte toe te gaan nie, het weer in Jerusalem gekom nie.

Die tyd in die Kerk word uitgebeeld deur sovele kerkvaders soos ‘n Charles Finney, Charles Wesley en vele ander wat weer die Kerk opgeroep het tot bekering. Hulle het weer terugkeer na dit wat die HERE wil hê. Dit is ook hoekom die verskillende kerkgroepe nie ‘n verskil kan maak nie, want as Christenskap ‘n beweging was, sou die HERE konings, of in ons tyd politici of terroriste of kerkgroepe aangestel het om Sy werk te doen. Maar Hy wil soos in Israel van ouds, onder ons kom woon in Kanaän, sonder dat ons deur die vyand aangevat word. Want as jy totaal breek met wat Hy vir jou wys, sal Hy alle vreemde volke voor jou weg dryf.

Maar hoe het dit gebeur dat Israel weggevoer is na Babel? Ons lees die volgende in Jeremia 21 vers 8-9 “8 ¶ En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood: 9 hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n buit wees.” Die HERE vra dat Israel moet wegdraai van hulle koning af en oorstap na die Chaldeërs, sodat hulle hul lewe kan behou. Hoekom? Want die lewe onder die aardse koningskap kan nie verlossing bring nie. Lidmaatskap van ‘n kerkgenootskap beteken nie dat jy die ewige lewe besit nie. Nee, jy moet kies om die HERE in alle opsigte te volg, selfs al sê Hy vir jou jy moet jou kerk los. Vir almal lyk dit of jy nou oorstap in die koningkryk van die duiwel, maar as jy dit nie doen nie, gaan jy sterwe. Dit is wat die HERE aan Israel verklaar. Ons weet dat die wat agter gebly het, vir Jeremia weggevoer het na Egipte omdat hulle nie onder die Chaldeërs wou dien nie, maar hulle het nooit weer in Kanaän gekom nie. So, as jy besluit om maar aan te gaan met jou kerkgenootskap Christenskap, sal jy sterf, en nie die ewige lewe verkry nie. Die opdrag word ook in Openbaring 18 vers 4 bevestig: “En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Oproep vir vandag.

Ek glo dat ons vandag in dié tydvak staan, waar mense weer moet kies om hulle onder die heerskappy van God skaar. As jy nie kies om onder Sy heerskappy te staan nie, sal jy soos die res van Juda omkom. Maar hoe weet ek dit? Daar kom ‘n dag wat jy agterkom dat die boodskap wat jy hoor van jou kerkverband of jou leraar, is nie die boodskap van die Bybel nie. Nee, jy moet maak soos hulle sê. As jy nie saamstem nie, moet jy loop. Een van die boodskappe wat ons vandag hoor is dat professore en kerkleiers redekawel omdat daar vir hulle twyfel bestaan oor Jesus se maagdelike geboorte, oor die feit dat teoloë nie kan glo dat God Sy Seun kon stuur om vir ons te sterf nie. Dat homoseksuele gedrag aanvaarbaar is, self dominees is dan so. Dat Mohammed dalk gestuur is om die Moslems te red. Dat ons ‘n nuwe bybel moet uitbring wat al hierdie “ongelooflike goed”, uitsluit. Dat leraars roem dat hulle deur ‘n persoon gesien het, dat hy maar baie verdag opgetree het, dat sy manier van besigheid doen ‘n bietjie verkeerd was, dat hy nie die HERE dien nie, maar hulle vergeet dat in Esegiël 34 die HERE hulle verantwoordelik hou vir die skape aan hulle toevertrou. Die HERE vra dat jy sal uitkom, en jou by dié skaar wat kies om Hom te volg. Om uit te kom onder die menslike koningskap, en jou te skaar onder Sy Koningskap.

Een van die opofferings wat ons moet maak voordat ons na Babel weggevoer kan word is om alles agter te laat. Jy sal al jou sekerheid wat jy in die lewe gehad het moet agterlaat, en op die HERE vertrou om vir jou te sorg. Jy kan nie meer op jou besittings vertrou om vir jou te sorg nie. Jy kan nie meer net hierdie agterdeur oophou vir ingeval die HERE nie doen soos wat jy verwag nie. Nee, alles wat joune is moet jy oorgee aan Hom, dan sal die HERE vir jou sorg.

Die tyd in Babel is nie ‘n maklike tyd nie. Nee, jy sal moet kies om die HERE te dien, want jy sal gou-gou aangevat word oor jou alleenheid as Christen. Ek weet daar is huidiglik baie persone wat in Babel sit, wat kan sien wat die HERE doen, en dit aan vreemdelinge kan vertel. Soos ‘n Daniël van ouds kan jy drome uitlê, kan jy in die hemel insien wat gebeur, maar, dit is ‘n alleen pad. Maar daar kom ook ‘n ander dag. Ek glo dat ons nader aan die dag beweeg waar, soos Kores Israel genader het en aan hulle die geleentheid gegee het om terug te gaan na Jerusalem, ons weer deur die HERE genader word om weer Jerusalem se tempel te herbou. Orals is persone waarmee ek praat besig om opgerig te word as ‘n Esra of Nehemia, om weer te gaan doen wat reg is. Om weer terug te keer na hoe dit in Israel was voor die tyd van die konings, of in ons tyd, voor die begin van die denominasie kerk.

Ons almal verwag herlewing. Maar, herlewing het nie deur ‘n Israelse koning gekom nie. Nee, dit het deur ‘n vreemdeling gekom. Wat skryf Jesaja oor hoe dit sou kom: Jes 44:24- Jes 45:8 “24 So sê die HERE, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei–wie was met My? — 25 wat die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak; 26 wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig; 27 wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog; 28 wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word. 1 ¶ So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings los gord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: 2 Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. 3 En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel; 4 ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie. 5 ¶ Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. 8 Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskape.”

Vandag staan Jesus met geopende arms en vra dat jy terug na Hom sal kom, weer Jerusalem se tempel en mure, of te wel Sy huis en jou beskerming, te kom opbou, sodat Hy kan neerdaal met die Nuwe Jerusalem. Dit is wat ek begeer, maar ek weet ook dat dit is wat die HERE van elkeen van ons verwag, en dit is om terug te keer na Jerusalem, om weer Sy Tempel en Sy Stad se mure te herbou, sodat Hy kan kom op die wolke. Een gedeelte wat uitstaan in die deel van die geskiedenis, is dat Kores bevel gee dat die Israeliete nie met leë hande moet terugkeer nie. Nee, hulle moet gaan met baie goud en silwer. Dit is ook wat met Israel gebeur het toe hulle uit Egipte uitgetrek het. Hulle moes toe geskenke eis van die Egiptenare. Dit is ook wat met ons gebeur. Sodra jy besluit om terug te keer, sal die HERE vir jou deure oopmaak en jou seën soos nog nooit tevore nie. Hy gee vir jou nie omdat jy gegee het nie, nee, Hy gee sodat almal kan sien dat die hand van die HERE is op jou. Maar, dit kom van die mense wat in die wêreld is.

Nadat die mense teruggekeer het na Jerusalem, het Juda nie weer onder hulle eie koning gestaan nie, en kon die HERE hulle weer toerus om die koms van Jesus te verwag. Nou besef jy dat jy toegelaat het dat die vyand jou mure, jou beskerming verwoes het, en moet jy weer jou mure opbou, en jou deure weer nuut maak. Dit is die weg wat die HERE verkies, want nou kan hy weer woning maak by jou. Onthou net dat jy nie net jou eie lewe herbou nie, soos Juda net hulle eie huise herbou het nie, en die tempel van die HERE agterweë laat nie. In Juda se tyd is die tempel eerste herstel, en daarna eers die mure.

Wat ‘n tydperk om na uit te sien. Maar weet jy dat as ons in die tydvak leef waar Jerusalem se tempel en mure, met ander woorde ons beskerming weer aan ons geleer word, is die wederkoms baie naby. Hoekom? Sodra die tempel van die HERE weer herbou is, sodra ons weer glo soos wat Israel moes om in Kanaän in te gaan, sal Hy kom op die wolke. Maar jy moet eers jou lewe, Sy tempel, weer oprig.

Ek sluit af met Jesaja 59, asook met ‘n gedeelte uit Jesaja 49 verse 8 tot 13.

“1 ¶ Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; 2 maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. 3 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. 4 Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ‘n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil. 5 Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar ‘n adder uit. 6 Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande. 7 Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. 8 Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie. 9 ¶ Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ‘n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid. 10 Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense. 11 Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil–dit bly ver van ons. 12 Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede–ons ken hulle: 13 die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart. 14 So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. 15 Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie. 16 ¶ En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun. 17 En Hy het geregtigheid aangetrek soos ‘n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ‘n mantel. 18 Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde. 19 En hulle sal die Naam van die HERE vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos ‘n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe. 20 Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE. 21 Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.”

Jes 49: “8 So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; 9 om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees. 10 Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water. 11 En Ek sal al my berge tot ‘n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees. 12 Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete. 13 ¶ Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.”