Getuienis van Louwrens Erasmus

Print Friendly

Ek het op ‘n dag voor die televisie gesit en wou graag uitvind watter programme die middag vertoon sou word aangesien dit ‘n vakansiedag was en ek nie seker was of die normale programme vertoon sou word nie. Dit was so net voor een in die middag net na middagete, en ek wou gou seker maak dat ek nie dalk ‘n goeie program mis voordat ek die middag se skottelgoed gaan was het nie. U sien in ons huishouding is daar niemand wat uitsluitlik sekere pligte het nie, en spring ons elkeen in om die ander persoon te help.

Daar was ‘n advertensie op vir ‘n Indiese program wat die volgende Sondag vertoon sou word, en daarna het hulle ‘n persoon gewys geklee met sy mooi rondekraag hemp met boortjie en al en in sy Sondagpak geklee met ‘n Bybel op die tafel voor hom. Hy het toe ‘n dame langs hom voorgestel en gevra dat sy haar getuienis vir die kykers sou gee, en het sy met die bekende woorde van “Voor ek Jesus geken het was my lewe heeltemal deurmekaar” haar getuienis begin. Hierdie woorde het my dadelik aangegryp en het ek toe die televisie onmiddelik afgesit en kombuis toe gegaan om my belofte aan my vrou na te kom. So tussen die skottelgoed was het ek skielik aan my eie getuienis en die van baie Bybelse figure begin dink.

Kom ek begin met ‘n getuienis waarvan ek die meeste weet, my eie. Ek is gebore uit ouers wat my elke Sondag na die plaaslike gemeente se diens toe gevat het, ek het katkisasie toe gegaan, op sestien belydenis van my geloof voor die gemeente afgelê, en op negentien diaken geword. Al die tekens was daar dat ek ‘n baie voorbeeldige lewe gely het. Tussen die jongmense was ek al op dertien penningmeester van ons gemeente se tak van die Jongeliede Vereeniging, en het ek die HERE gedien. So my lewe was verseker nie deurmekaar of ek uit die bose nie.

Ek en Hettie is getroud, op vier en twintig is ons seun gebore, en was ek maar soos gewoonlik deel van die diakonie in die gemeente. Dit was die patroon van ons lewe dat waar ons ons ookal bevind het, ons albei altyd ons deel gedoen het in die plaaslike gemeente. By een gemeente vroeg in ons lewe waar daar ‘n jong predikantspaar was, het ons elke Vrydagaand saam gekuier en vlugbal gespeel, aangesien ons en hulle kinders van dieselfde ouderdom gehad het.

So het die lewe maar aangegaan oor die jare. Op vyf en dertige jarige leeftyd het ek op ‘n dag uitgevind na ‘n ondersoek in die hospitaal dat ek kanker gehad het. Gelukkig kon die geneesheer alles verwyder het, maar het dit my baie gepla aangesien ek nie gedink het dat mense wat werklik vir die HERE lewe ook probleme kon kry nie. Ek het so by die HERE gesmeek dat ek net my kinders graag groot wou sien, aangesien ons jongste dogter toe maar net vier jaar oud was. Almal wat ek gedurende die tyd van geweet het wat kanker gehad het was toe alreeds dood, of op sterwe.

Gedurende die tyd en in die jare daarna, het ek al hoe meer probeer uitvind wie die HERE nou eintlik is, en of ek Hom regtig dien. So het ek en Hettie altyd ingeskakel by elke gemeente waar ons gekom het, (ons het so elke tweede jaar verhuis na ‘n ander plek), en was die predikant by die een gemeente so verbaas toe ons onsself kom aanmeld het aangesien hy gewoont was dat mense van ons ouderdom gesoek moes word indien hulle van gemeente verwissel het. By die gemeente het ek toe ook my eerste “Christelike kamp” bygewoon saam met vriende wat ons daar ontmoet het. Die kamp het verseker ‘n invloed op my lewe gehad, maar die invloed was dat ek net al hoe meer vrae gehad het.

Ons kinders is grootgemaak met Bybelstudie in die oggende sesuur by ma en pa op die bed, of onder die komberse in die winter, waar ek vir ons ‘n gedeelte sou lees, ‘n kort gedagte daaroor sou uitspreek, en ons ‘n paar liedere saam gesing het.

So het ons lewe maar aangegaan en het ons toe later na Pretoria verhuis waar ons weer nuwe mense ontmoet het, en saam met hulle het ons geleer hoe om die Jesusfilm te wys vir maksimum impak, hoe om ‘n goeie getuienis op te stel, hoe om Jesus met mense te deel, en het ons ook gevind dat ons ons eerste kerkverband “uitgegroei” het. Dieselfde tyd het ek ‘n rugoperasie gehad en moes ek vir veertien weke by die huis wees. Gedurende die tyd het ek gevind dat mense wat jy vroeër mee saam gedien het op die kerkraad, jou heeltemal kan verwerp as jy nie meer soos hulle dink nie.

Na ‘n paar jaar het ons weer verhuis na ‘n ander gedeelte van die stad, en het ek en Hettie albei ingeskryf om ‘n EE3 kurses by te woon, waar ons as werkers opgelei is. Sy het selfs gekwalifiseer as ‘n groepleier, maar tog het dinge in ons lewe nie altyd reg verloop nie. Ek is gedurende die tyd wat ons die kurses bygewoon het hospitaal toe vir ‘n nood blindederm operasie, en moes ek weereens verneem dat ek weer kanker het. ‘n Gewas van so om en by tien sentimeter is aan my dunderm gevind, en moes die dokters noodgedwonge ongeveer ‘n meter van my dunderm verwyder. Ek sou ook moes terug vir nog ‘n opvolg operasie aangesien daar nog kwaadaardige gewasse en kliere was wat hulle nie tydens die eerste operasie kon verwyder nie.

Die chirurg het my meegedeel dat hy en die narkotiseer aan die gesels geraak het tydens die eerste operasie, en hy het toe per abuis op die gewas afgekom. Dit was dan ook die rede vir die opvolg operasie sesweke later. Wat ek wel ondervind het in die tyd, was dat die HERE daar was en my gedra het voor, tydens en na die operasies.

Gedurende die tweede operasie is daar toe ‘n verdere vier en twintig limfkliere, almal kwaadaardig, verwyder, en is ek meegedeel dat daar ‘n gedeelte van die kanker gelos moes word aangesien ek my sou dood bloei as hulle dit ook verwyder, omrede dit aan ‘n bloedvat geheg was. Na die operasie het ek ‘n ondervinding gehad wat ek net as asemrowend kan verklaar. Ek het die oggend na die operasie wakker geword en buitengewone mooi koorsang gehoor. Ek het die ander persone in die saal gevra of hulle radios dalk aangeskakel was, maar almal was afgeskakel. Toe het ek ‘n gesig gesien van mense wat opruk na ‘n bergtop toe, almal in wit geklee, met sandale aan. Ek was in ‘n plek wat my herinner het aan ‘n wildsuitkyk, met twee persone saam met my. Die gesig het voor my afgespeel of ek in die bed was, in die bad of waar ookal. Hettie het selfs besluit die aand dat sy my maar huis toe sal gaan en my toelaat om te kyk na die gesig en te luister na hierdie engelekoor.

Nadat ek huis toe is vyf dae later, het ons predikant vir my gesê ek moet maar vergeet van die gesig en aangaan met my lewe, want hy het nie weet wat dit is nie. Ek het al hoe meer en meer gesoek in die Bybel vir antwoorde, en elke keer het ek net verdere vrae gehad. So het ons toe later besluit om na ‘n pinkstergemeente toe te gaan, en is ons as huisgesin gedoop, en ook met die Heilige Gees gedoop. Dit was vir ons opwindend om al hierdie nuwe waarhede in die Bybel te leer, iets wat ek in vier en veertig jaar nooit geleer is nie.

Tog was ons lewe nie soos mense vir ons probeer oortuig het dit moes wees nie. Volgens almal wat ons daar en vroeër in ons lewe ontmoet het, moes ‘n Christen se lewe ‘n lewe van vreugde en vrede en oorvloed wees, iets wat ons verseker nie ervaar het nie. Gedurende die tyd het ons finansies ‘n duik gevat as gevolg van die uitgawes om die kanker te bestry en moes ek noodgedwonge maar ons huis vir die bank teruggee, en moes ons maar weer van vooraf begin. Gedurende die tyd is ons oor na ‘n vernuwingsgemeente waar ons weereens ontsaglik baie geleer het. Maar soos tevore, was daar maar aanhoudend goed wat verkeerd geloop het, en het ons nooit hierdie vreugde en vrede ervaar nie.

’n Paar jaar later is ons Port Elizabeth toe nadat die firma waar ek werksaam was ‘n derde van hulle werknemers ontslae van moes raak, en moes ek as een van die ouer en duurder werknemers, maar gaan. Weereens het ons finansies in duie gestort, maar ons het aangegaan. Daar het ons by ‘n gemeente ‘n Bybelskool begin, ek het in die tussen tyd gestudeer en is as ‘n pastoor georden, maar weereens was dit nie sonder probleme nie. Ons is toe selfs deur van die gemeentelede gevra om ‘n nuwe gemeente te begin, maar voordat ons werklik aan die gang kon kom, moes ons verneem dat die groep uitmekaar gaan en dat ons maar weer alleen moes aangaan. Daar het ek ook begin skrywe aan ‘n boek wat ek die opdrag jare gelede voor van die HERE gekry het. Vandag is daar ‘n hele paar boeke wat min of meer my vrae wat ek gehad het, beantwoord, asook die vrae van ander persone. Hierdie boeke word teen so gemiddeld 160 afskrifte per maand van ons webtuiste afgelaai.

‘n Jaar later is ons terug na Pretoria, en na nog ‘n jaar van sukkel, het ons, ek en my seun, se besigheid aan die gang gekom en het ons gedink dat ons lot uiteindelik nou sou verander na dit wat ons soveel kere gehoor het van hoe ‘n Christen se lewe moes wees. ‘n Jaar later was dit terug na die vorige situasie toe alles wat ons aan gewerk het die vorige jaar in duie gestort het as gevolg van de feit dat ons kliënte ook hulle aankope en dienste van swart bemagtigings maatskappy moes verkry. Ons het ‘n heenkome by my jongste dogter gevind, en daar gebly vir byna ‘n jaar voordat ons weer op ons eie kon bly. Ek het weer ‘n werk gehad, en het ek besluit dat ek weereens my eie besigheid sou vestig, maar net die keer is dit deur goeie mense onder my uit gesteel.

Na die episode het ek ‘n aanbod aanvaar om weer in die rekenaarbedryf te werk. Weereens is ek deur Christene in die rug gesteek deurdat dit wat op skrif gestel is en dit wat werklik gebeur het, twee werelde uitmekaar was. So het ek uiteindelik die eindomsmark betree, en het dit redelik goed gegaan. Ons is op die ou einde na Sedgefield waar ons, ek en Hettie, sou begin het om weer ‘n nuwe lewe te lei. Na vier maande is ek weereens in die steek gelaat deur die eienaar wat net die tak toegemaak het sonder enige betalings of verduidelikings, en moes ons by vriende gaan bly om te verhoed dat ons as boemelaars of soos Hettie verkies, huisloses, op die pad sou eindig. Na ‘n paar weke is ons terug Pretoria toe en het ek ‘n betrekking aanvaar by ‘n finansiële dienste maatskappy wat afgetredenes met hul pensioen en beleggings help, en het ek gevind ek dat op hierdie gevorderde ouderdom ek weereens moet studeer aan die universiteit om my werk te kan behou.

Met die val van die markte aan die einde van 2008 het diè maatskappy se inkomste met vytig persent gekrimp en moes ek maar weer aangaan, want daar was nie genoeg geld om salarisse te betaal nie. Ons het ‘n heenkome in Lady Grey deur vriende gevind, en het ek op sewe-en-vytige jarige leeftyd, begin om as onderwyser te werk, iets wat ek nooit gedink het sou gebeur nie.

‘n Jaar later het ek weer werk as finansieële adviseur gekry en is ons Port Elizabeth toe. Daar het ons so die seën van die HERE ervaar dat my inkomste in my eerste jaar daar sowat 4 keer meer was as wat ek as onderwyser gekry het, en die volgende jaar se belasbare inkomste so amper dubbel die van die vorige jaar se inkomste was. Ons het vroeg in 2012 ook verhuis na Jeffreysbaai om bietjie meer tyd te kan afstaan aan ons liefde vir die natuur, en is my eerste boek in die VSA gepubliseer en is ons nog elke dag verbyster oor die goedheid van die HERE.

Ek het my werk daar so ingerig dat ek nie nodig gaan hê om elke dag nuwe mense te moes sien nie, en toe gebeur dit weer. So tien dae voor my verjaarsdag verlede jaar (2013), het ek weer hierdie verskriklike pyn gekry. Na vele besoeke aan die hospitaal en verskeie toetse, is dit bevestig dat die klein stukkie kanker wat hulle 18 jaar tevore moes los, het gegroei tot ‘n gewas van 61x31x29mm. En dit is nogsteeds onmoontlik om te verwyder of kleiner te maak. Saam met die gewas is daar ook ‘n hele paar limfnodes wat almal kanker draend is. My jongste dogter en haar man het toe ‘n huisie vir ons gekoop op Steynsburg om nader aan hulle te wees. Die tipe kanker wat ek het, carcinoid, is maar baie skaars en die oorsaak is nog onbekend. Gelukkig weet ons wat meeste van die gevolge is, en moet ek erken dit is nie maklik nie. Gelukkig weet ek dat die HERE nogsteeds by my is, en in beheer van my lewe is.

In Oktober 2014 het ek gedink dit is my einde. Ek het so ‘n verskriklike pyn gehad en is op die ou einde in die hospitaal opgeneem, waar hulle uitgevind het dat die gewas beide dun en dikderm blokkeer het. Aangesien ek allergies is vir morfien was dit ‘n redelike moeilike operasie om die derms te omlyn om skoon gedeeltes te kry sodat die kos weer kon deurkom. Ek het dus twee gedeeltes dunderm, een van ongeveer 90 cm wat nie verstop is nie, en die res wat wel verstop is. Ongelukkig is die gedeelte ook waar die hoof bloedvate in die ingewande is en het die gewas dit alles omring en maak dat dit onmoontlik is om die gewas te verwyder. Gedurende die operasie het die dokters ook gevind dat die kanker na die lewer versprei het en het hulle ook ‘n gedeelte van die lewer verwyder. Dit was maar net weer ‘n geval waar die HERE ingegryp het aangesien oorlewing nadat dit na die lewer versprei het in maande gemeet word.

Dit is waar ons huidiglik is. Maar wat het dit met ‘n getuienis te doen? Net dit, dat die HERE ten spyte van al die omstandighede wat ons deurleef het, elke dag daar was vir ons. Dat ons elke dag genoeg kos gehad het om te eet, en ‘n slaapplek gehad het om ons hoofde op neer te lê. Een ding wat ek geleer het oor die jare, is dat ek nou die Bybel ken soos nooit te vore nie. Nie dat ek vir jou verse kan kwoteer nie, maar dat ek verseker weet wat die boodskap van die Bybel is. Dat ek nie nodig het vir iemand anders om die Woord vir my oop te breek nie, maar dat ek weet dat die HERE dit sal doen op Sy tyd. My getuienis is dat Hy jou op ‘n pad sal vat wat jou nader na Hom sal bring, en jou elke dag sal bystaan. Dit word so gestel in Hebreërs 13 verse 5 tot 9 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen? Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.”

Is ek seker van my feite? As ek in die Bybel gaan kyk hoe Hy met al die helde van die Bybel opgetree het vind ek maar dieselfde geskiedenis as my eie. Israel word verlos van die Egiptenare, maar vind hulself in ‘n woestyn, waar die HERE vir hulle moet sorg. Dawid, seker die persoon wat vir meeste mense die voorbeeld was van iemand wat die HERE geken het, moes in spelonke wegkruip vir Saul, voor Natan die profeet smeek vir vergifnis, en vir sy eie seun wegkruip omdat die hom wou doodmaak. Al die profete in die Ou Testament het soortgelyke ondervindings gehad en is Sagaria selfs in die tempel gedood. Mattues 23 vers 35 Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.”

Soos ons hierbo kan sien, verklaar Jesus dat ons as Christene gehaat sal word ter wille van Hom. Petrus en Johannes is hoeveel keer vervolg, soveel so dat Petrus ook gekruisig is oor sy geloof, terwyl Paulus wat ook as goeie mens onder Gamaliël gestudeer het en goed gekwalifiseer was as Fariseer, in die tronke moes tyd spandeer, in boeie moes wees, en later gedood is vir sy getuienis as Christen.

Die skrywer van die Hebreërsboek skryf as volg: Heb12:5-8 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Wat is die slotsom wat ek tot gekom het? Die meeste getuienisse wat ek gehoor het van mense, het geen verwysing na ‘n totale oorgawe of ‘n totale neerlegging van hulle lewe nie. Nee, dit lui gewoonlik “toe ek besluit het om die HERE te dien” of iets soortgelyks. Om die HERE te dien is nie ‘n besluit van myself nie, want dan is ek nog in beheer, maar ‘n totale oorgawe aan Hom wat by magte is om my lewe te neem, en my Sy lewe te gee. Ek moet by die Kruis van Jesus uitkom en my lewe daar gaan neerlê, en Sy lewe te kry, dit wat Hy vir my wil gee. Indien jy wil lewe sal dit jou dood by die kruis beteken, maar indien jy nie daar kom nie sal jy sterf sonder om Sy lewe te kry. Mat 16:25  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Dit is my getuienis.