Boek vrystelling Die Verbond van Geregtigheid

Print Friendly

eBoek vrystelling: Die Verbond Van Geregtigheid

Uitgewers Shama Ministries

Skrywer Louwrens Erasmus

Watter sekerheid het ek nou in my lewe dat ek die ewige sal lewe beërf die dag wanneer ek my laaste dag op aarde voltooi het?

Dit was ‘n vraag wat ek so twintig jaar gelede self gevra het nadat ek die verdoemende woorde gehoor het van “Jy het kanker en ons kon nie alles verwyder nie. Indien ons dit nie per abuis opgespoor het nie sou jy hoogstens nog ‘n jaar gelewe het, maar nou sal ons dit beveg met chemoterapie, alhoewel daar nog nie bewyse is dat chemoterapie op jou soort kanker effektief is nie”. Niemand is reg om op 43 jarige ouderdom daardie verdoemende woorde te hoor nie, veral nie as jy nog die vorige dag springlewendig was nie.

Na afloop van besprekings wat ek met ons eie predikant gehad het oor die onderwerp, hy het darem ‘n doktorsgraad in teologie gehad, kon ek nogsteeds nie daardie sekerheid verkry nie. So het ek ook ander skrywers en teoloë se boeke bestudeer en ook self tyd met van die persone spandeer om ‘n antwoord te kry wat my kon oortuig dat ek nou reeds die sekerheid van die ewige lewe kan ervaar, en het ek nogsteeds nie daardie oortuiging gehad nie.

Aangesien ek toe alreeds 20+ jaar gewerk het in die rekenaarwêreld waar ek stelselontleding moes doen vir kliënte en dan rekenaarstelsels moes ontwikkel wat hulle spesifieke behoeftes aan voldoen het, het ek besluit dat ek maar dieselfde tipe ontleding van die Bybel moes doen om vir my die sekerheid te kry wat ek gesoek het.

Nou na ‘n verdere 20 jaar, het ek uiteindelik by die punt gekom waar ek hierdie sekerheid wat ek verkry het, met ander persone wil deel. Ek het een oggend in die Bybel die volgende vers gelees: “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;” (Jeremia 30:2). So ten spyte van die feit dat ek deesdae redelik swak is en nou al meer as drie jaar nie meer by magte is om te werk nie as gevolg van hierdie kanker nie, en waar ek verlede jaar ‘n lewensreddende operasie moes deurmaak, het ek tog tyd gekry om die opdrag te voltooi.

Die boek getiteld Die Verbond van Geregtigheid beskryf dan die pad wat die HERE met my gedeel het en beantwoord al die vrae wat ek gehad het. Verder beskryf die boek ook wat die gevolge is van die pad wat ek beskryf. Dit is gebaseer op die verbond wat die HERE met Abraham aangegaan het, dit wat Jesus kom doen het om die verbond te vervul, en hoe dit vir my as vreemdeling van Israel, die sekerheid kan gee wat ek so na gesoek het. Geen een van die boeke of skrywers waarmee ek kontak gehad het, het die pad vir my uitgelig nie. Dit is nie ‘n teologiese of filosofiese bespreking nie, maar ‘n boek wat by alle Christene aanklank sal vind.

Soos een leser dit uitgedruk het: “Hi Louwrens. Hierdie is ‘n baie interessante boekie van jou. Ek het voorwaar baie hieruit geleer. Gaan jy hom laat druk en publiseer? Of gaan jy hom op jou webwerf publiseer vir aflaai? Dit is tyd om opnuut weer na die verbond te gaan kyk deur terug te keer na die fundamentele wortels daarvan toe soos jy dit verstaan na al jou navorsing. Maar dit is ‘n baie goeie boekie wat jy hier saamgestel het en ek sal ook graag die eindproduk wil bekom! Jy sit dit goed uiteen en bou baie goed op jou verstaan. Ek is baie beindruk hiermee. Ons het sulke boeke nodig in Afrikaans.”

Ons beoog om afhangende van die aanvraag, die eerste 2,000 kopië van Die Verbond van Geregtigheid gratis aan lesers te verskaf. Al wat die leser verwag word is om na ons webtuiste gaan en die boek gratis af te laai. Die skakel na die boek is  HIER, en om meer van my te leer en ander boeke en DVD’s te sien wat alles as gevolg van die paadjie wat ek moes leef beskikbaar is, kan u ons webtuiste by http://www.shama.org.za besoek.

Daar is ook skakels na hierdie persverklaring in beide Engels en Afrikaans, en so is die boek “Die Verbond Van Geregtigheid”, ook in beide Afrikaans en Engels beskikbaar.

Vir meer inligting is my kontak besonderhede as volg:

Epos louwrens@shama.org.za

Selfoon 0732345665

###