Die Sabbat? Wat is dit en wat beteken dit vir ons as Christene?

Die Sabbat? Wat is dit en wat beteken dit vir ons as Christene onder die Nuwe Verbond?

Ek raak nie graag betrokke by gesprekke waar jy twee uiteenlopende standpunte het nie, want die een groep gaan saam met jou stem en die ander nie. En partykeer stem niemand saam met jou nie. Die Sabbat is nou een van daardie onderwerpe.

En nou sit ons met die situasie vandag waar alles gaan oor een verskil, naamlik die wet van Moses wat klokslag elke week gelees word in die Gereformeerde kerke, N.G., Hervormde, APK en Gereformeerd, maar eintlik is dit oor die Sabbatdag wat daar baie uiteenlopende gedagtes uitgespreek word, en natuurlik dadelik skeiding binne die kerk bring. Is dit nog geldig, of nie. Ek reken dit is hoekom ons dit nie juis hoor by pinkster of charismatiese gemeentes nie, want niemand weet hoe om verby die vierde gebod te kom nie. Hulle maak dit net af dat die gemeentes van vroeg al op die eerste dag van die week bymekaar gekom het.

Om eerlik te wees sien ek albei se standpunte raak, maar is die een kant hardnekkig, en die anderkant dink ek is dalk gebrekkig in hul siening van die probleem. Een wil dat daar geen verskil is tussen die tien gebooie voor en na Jesus is nie, so almal is nog van toepassing vandag, daaroor dat hulle die SDA siening volg, en die ander probeer deur die wet te skei sekere gedeeltes nog hou maar ander gedeeltes nie meer hou nie. So sien ons dat die samevatting van die wet geen iets bevat wat wys op die sabbat nie. Daar staan net: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Mat 22:37-40)

Nou hoe verduidelik ek dan die Bybel om seker te maak dat ek by die regte slotsom uitkom?

My standpunt is om die vraagstuk uit ‘n ander oogpunt te benader. Soos meeste mense weet is my hoof onderwerp maar oor geregtigheid. En dit is uit die oogpunt wat ek die bespreking ook benader. In die Ou Verbond sê Moses in Deuteronomium 6:25 die volgende: En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.” In die Nuwe verbond vind ons die volgende: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Rom 3:21-24)

Hebreërs sê die volgende: As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was—want met die oog daarop het die volk die wet ontvang—waarom was dit nog nodig dat ‘n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet; omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan ‘n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie.” (Heb 7:11-13)

Kom ons begin by wat die Ou Verbond oor geregtigheid te sê het. In Deuteronium staan dit as volg: “Dit is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou—jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word. Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer. Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie— want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie. Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie. Julle moet die gebooie van die HERE julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou. En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het, terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die HERE gespreek het. As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het. En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is. En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.(Deu 6:1-25)

Ons vind hier die konsep wat ek dink meeste Christene nie verstaan nie, en dit is geregtigheid. Paulus beskryf dit as volg: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. (Rom 10:3-10)

My definisie van geregtigheid is dus as volg: Die reg om voor God te staan sonder skuld, veroordeling en minderwaardigheid. Dit is om in die regte verhouding voor die Skepper te staan, skepsel teenoor Skepper. Dit kan ons slegs doen wanneer ons ‘n oorvloed van die gawe van geregtigheid ontvang. En dit is wat Jesus kom doen het en waarin ek moet glo. Want dit kan ek slegs deur geloof kry. Maar meer nog, ek is dan in ‘n volmaakte verhouding met die HERE. Mattheus 5 sluit af met ’n vers wat ek dink baie mense nie kan pyl nie, en dus nie verstaan nie. Mat 5:48  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is. Nou in die volgende gedeelte wat ek kwoteer, is daar ‘n gedeelte wat ek beklemtoon het, en dit sê “Laat ons almal dan wat volmaak is”. So ek kan volmaak wees wanneer ek glo dat Jesus alles gedoen het wat nodig is om my weer in die regte verhouding met die HERE te plaas.

Paulus skryf aan Filemon die volgende: “Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. Maar wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees. Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”(Fil 3:5-21)

So alles gaan oor geregtigheid. In Deuteronium 6 sien ons dit gaan oor wat ek doen, en in die gedeeltes uit die nuwe verbond soos hierbo gekwoteer oor geloof in Christus. So ek het gehoor gegee aan die gedeelte wat vir ons gegee word deur die HERE nadat Esau vir Abel gedood het. “Gén 4:7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” So ek kan en moet oor die sonde kan heers, so ek weet dat elke besluit wat ek elke oomblik van die dag gaan maak, ek na die resultaat daarvan moet kyk en besluit wat is reg en wat is verkeerd. Indien dit verkeerde gevolge gaan hê moet ek nee kan sê en wegloop daarvan, want die HERE sê self dat ons oor die sonde moet heers.

Nou kom ek eers by die Sabbat wat eintlik die onderwerp is waarvan almal probeer wegskram. En ons moet onthou die Sabbat is nie skielik Sondag nie, want Sondag is die eerste dag van die week. In Genesis lees ons die volgende: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” (Gén 2:2-3) Iets wat my dadelik hier opval is dat daar nie na hierdie gebeure weer staan dat dit aand en môre was, die agste dag nie. So indien ek dit reg het, lewe ons vandag nogsteeds in die sewende dag aangesien die HERE nêrens later beskryf dat Hy nog iets gemaak het nie, maar slegs dat Hy rus. So ons is aangestel om te heers oor die skepping, en die HERE rus nou nog aangesien dit nogsteeds die sewende dag is, en Hy klaar is met die skepping. Daar word nie nog nuwe goed geskep deur die HERE nie, alles is klaar gedoen voor die rusdag. Net ter interessantheid kan ek noem dat die boek van Henog ‘n gedeelte by het by sy skeppings verhaal wat as volg is: “Henog 11:61 Ek het ook die agtste dag aangewys, dat the agtste dag die eersgeskapene sal wees nadat ek my werk voltooi het, en dat die eerste sewe sal draai in die vorm van die sewende duisend, 62 en dat aan die begin van die agtste duisend daar ‘n tyd sal wees van nie-telling, eindeloos, met, nóg  jare, nóg maande, nóg weke, nóg dae, nóg ure.” So ons is dus nogsteeds in die sewende dag.

Maar nou kom ons by Hebreërs uit waar ons die volgende lees: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”(Heb 4:1-13) Ek wil net graag die slotvers van hoofstuk 3 byvoeg: “Heb 3:19  En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” Israel het deur ongeloof nie die beloofde land ingegaan toe hulle moes nie, want hulle het nie geglo nie.

So nou vind ons uit wat die Sabbatdag beteken, en dit is om in die HERE se rus in te gaan. So indien ek in hierdie rus ingaan, het ek nie nodig om te werk om in die hemel te kom nie, en gaan ek die Sabbatdag se rus in deur geloof in Jesus Christus. Nou besit ek Sy geregtigheid. Dit beteken ek kan met vrymoedigheid na die troonkamer gaan om op die regte tyd gehelp te word. Heb 4:16  “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

So die Sabbatdag van die Nuwe Verbond is dat ek glo dat Jesus die Christus is, en dat ek niks kan doen behalwe om te glo in alles wat Jesus kom doen het om my in die regte verhouding te plaas, so die geregtigheid wat nie uit die wet is nie maar slegs in Jesus gevind kan word, en dan sal ek in Sy Sabbatsrus ingaan. Nou is daar nie rede om te baklei oor watter dag is watter dag nie. Ons kalender is in elk geval eers in Oktober 1582 ingestel deur pous  Gregory XIII. “Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.” (Gal 4:8-11)

So ons kan ons nie beroep op die wet van Moses nie, want ons geregtigheid is nie uit onderhouding van die wet nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus, en daardeur verkry ek Sy geregtigheid, en dit is die volmaaktheid wat vandag vir ons belangrik is om in Sy rus in te gaan. So geen onderhouding van ‘n spesifieke dag gaan bepaal of ek reg of verkeerd is nie, maar slegs geloof in Jesus as die Christus. So die Ou Verbond se wet soos saamgevat in Deuteronomium gaan geen iets aan my as Nuwe Verbonds kind doen nie, want dit is vervul in Jesus Christus.

Die wet waarna hier verwys word is soos saamgevat in Deuteronomium 6 wat ek reeds vroeër volledig aangehaal het, en Mat 22:37-40. “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Dit is die wet wat ons moet gehoorsaam.

Vir verdere leesstof kan ons kyk na 1 Johannes 2, 3, 4 en 5 wat ek nie ook nog gaan insit nie, maar hiermee volstaan. Dit beskryf hoe ek moet liefhê. In kort moet ek my naaste liefhê want deur dit te doen bewys ek my liefde aan die Vader. En dít maak dat ek volmaak is.