Die trein

Print Friendly, PDF & Email

Die trein as voorbeeld handel oor die verskillende keuses ek in my lewe saam met die HERE moet maak in verband met my Christenskap. Dit is nogal interessant dat ons baie keer iets kan raaksien in ons alledaagse lewens, en dan skielik sien ‘n mens ook dit as ‘n rigtingwyser raak oor hoe ons as Christene moet optree, asook die gevolge van keuses wat onsin die lewe kry.

Ek en Hettie het so ‘n ruk terug die oggend in die bed gelê en praat oor dinge wat ons in ons lewe al beleef het, en het ek vir haar gesê dat die dag toe ek skielik besef het wat die Bybel en Christus se betekenis vir my was, was dit soos om uit een vertrek na ‘n ander vertrek te stap. Alles was dadelik anders. Sy het toe gesê vir haar het dit haar herinner aan haar ritte saam met haar ouers op die trein elke jaar met vakansie. Dan het hulle altyd van Johannesburg na Port Elizabeth toe gegaan, maar haar grootste probleem was om van een wa na ‘n ander te gaan en te sien hoe die grond hier onder jou verby snel en kon jy nie wag om in die volgende wa te wees nie. So dit was hoe sy dit ervaar het dat jy die veiligheid van een wa verruil het en oorgegaan het na die volgende wa, en dan weer na die volgende een totdat jy by die eetsalon uitgekom het.

Toe sy die trein noem het ek skielik ervaar wat sy bedoel het, en het ons verder gegaan en bespreek hoe die trein eintlik as ‘n voorbeeld vir ons kan dien. Die trein het vir my die betekenis gehad dat die mense wat die HERE wil dien moet loskom van dit wat hulle vashou aan waar hulle huidiglik is. So ek weet nie hoe jou lewe huidiglik is nie, maar ons kan so maklik gemaklik raak op die plek waar ons is dat ons nie wil weg beweeg van waar ons nou is nie. Ek weet ‘n mens raak gemaklik op ‘n plek, en dan wil jy daar wortel skiet, maar ongelukkig is Christen wees nie ‘n bestemming nie, maar ‘n reis waar jy op moet gaan om jou te neem vanwaar jy nou is, tot op die plek waar die HERE jou eendag kom haal, en hopelik is jy nog op die trein.

U kan die volledige verhaal hier aflaai.