Die Jode in Handelinge

Print Friendly, PDF & Email

Die Jode in Handelinge

In hierdie kwotasies uit die boek van Handelinge, lig ek net gedeeltes uit om te wys waar Paulus en Barnabas die evangelie van Jesus verkondig het. Daar is soveel mense wat glo dat die Jode weer ‘n geleentheid moet kry om Jesus te sien vir wie Hy is, maar wanneer ek deur Handelinge werk sien ek dat hulle juis die eerstes was wat die Evangelie van Jesus gehoor het. Paulus en Barnabas het altyd na die sinagoges toe gegaan en daar geleer, en in Antiogië is die gelowiges die eerste keer as Christene na verwys.

Maar ons vind vandag dat die mense nie die Bybel wil hoor nie, maar hulle “Brand” van geloof. Jy moet tog net nie hulle manier van glo met feite kom omkrap nie, want dan is jy verkeerd.

Ek het ‘n gedeelte opgestel uit die Handelinge van die Apostels sonder om enige woorde by te voeg, maar net gedeeltes beklemtoon. Ek het al die gedeeltes vir u ingesluit, of lees dit gerus hier, en sien vir uself dat die Jode geen tweede of selfs derde kans gaan kry nie, maar dat dit my en jou plig is om Jesus aan hulle te verkondig.

Maar, ongelukkig gee Paulus reeds vir ons die antwoord in een van die gedeeltes wat ek aanhaal in Handelinge 28: “Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”

So moet nie verwag dat jy sukses gaan behaal nie, want die HERE verander nie Sy woorde of pas dit aan vir ons nie. Hulle is verworpe en het 4000 jaar gehad om te leer van die HERE, maar het nie.

Sien ook my skrywe oor die Kerk en Jode, of daar ‘n verskil is.

Hier dan al die gedeeltes:

En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. (Hand 2:5-24)

“En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is. En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord. En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, ‘n Jodegenoot uit Antiochíë, wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê. En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” (Hand 6:1-7)

Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het. En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer. En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly; want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring. En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem. (Hand 11:19-26)

“En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode. Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring.” (Hand 12:1-4)

“En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad. En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ‘n towenaar gevind, ‘n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus. Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, ‘n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor. Maar Élimas die towenaar—want so word sy naam vertaal—het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof. Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo. En Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit. En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ‘n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan! Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met ‘n hoë arm hulle daaruit gelei. En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra. En sewe nasies het Hy in die land Kanaän uitgeroei en hulle land deur die lot aan hulle uitgedeel. En daarna omtrent vier honderd en vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet. En van toe af het hulle ‘n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ‘n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen. Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek, nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie. Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word. En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word. En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ‘n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dode opgewek. En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk. En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. Daarom sê Hy ook op ‘n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie. Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie. Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie. En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly. En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. En die woord van die Here is deur die hele land verbrei. Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf. Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan. En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.” (Hand 13:3-52)

En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het. Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter. Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. En daar het hulle die evangelie verkondig.” (Hand 14:1-7)

“Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek. En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë,” (Hand 14:19-21)

En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ‘n Griek was. En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou.” (Hand 16:1-4)

Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus. En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue. Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ‘n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring. Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom, en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus. En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het. Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat. Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne. Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep. Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly. En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek. En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.” (Hand 17:1-17)

“En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan; en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag. En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig. En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is. Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan. En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. En hy het daar gebly ‘n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer. En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie. En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen. En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.” (Hand 18:1-19)

“En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan. Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ‘n sekere Tiránnus samesprekinge gehou. En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.” (Hand 19:8-10)

“Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word. En hulle het vir hom ‘n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus. En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly. En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister. En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan. En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” (Hand 28:22-31)