Jesaja se siening van die eindtyd

Print Friendly, PDF & Email

Jesaja se siening van die eindtyd

Ek kan net noem dat hierdie gedeelte die oorspronklike gedeelte was van my skrywe oor Jesaja en hier slegs ‘n oorsig is van wat in die boek self beskryf word. Om meer inligting te kry en die boek self af te laai, kan u hier kyk.

Ons almal ken gedeeltes van die boek baie goed. Daar is gedeeltes wat ons altyd met Kersfees lees en gedeeltes wat met Nagmaal gelees word en dan is daar ook gedeeltes wat gelees word wanneer ’n nuwe dominee of pastoor in ’n gemeente bevestig word. Maar wat van die res van die boek?

Kom ons begin met hoofstuk een. Die hoofstuk begin sommer met ’n oordeel oor Israel, of soos ons dit eerder ken vandag, as die Kerk, met ander woorde almal wat deel is van die HERE se volk, deel in Sy verbond, maak nie saak aan watter groepering jy behoort nie. Jesaja beskryf hier wat is alles fout. Hierdie hele gedeelte is van toepassing op ons as Christene vandag.

“Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. ‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes. En die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd, soos ‘n slaapplekkie in ‘n komkommertuin, soos ‘n beleërde stad. As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. “(Isa 1:2-15)

Nogal ernstige woorde hier. Ons probeer almal altyd so mooi optree, gebedskettings maak en bid vir mekaar, onsself te offer vir die HERE, om te doen net wat ons glo Hy wil hê ons moet doen, na die dienste toe gaan met elke geleentheid, dae van verootmoediging aankondig, maar Hy sê Hy verdra dit nie, ons is ‘n oorlas vir Hom. Ons hande is vol bloed, want ons doen nie wat ons moet doen nie. Ons is deur Hom gekastei, van ons voetsole tot ons hoof is daar geen heel plek soos Hy ons slaan om ons op die regte pad te kry, maar ons luister nie. Dan volg die gedeelte oor wat ons moet doen. Vers 16 en 17 “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.” So ons almal kry die geleentheid om ons lewe te verander en dit beteken om by ‘n doen Christenskap uit te kom, ’n lewe waar ek begin om liefde aan my naaste te bewys. Johannes stel dit soos volg in 1 Johannes 4 : “20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” U sien die Vader het Sy beste, Sy enigste vir ons gegee sonder dat ons dit verdien het of daarvoor gevra het. En dit is wat die HERE van ons verwag, om onsself vir ons medemens te gee sonder dat hy dit verdien of vra. So ek moenie wag tot ek gevra word om mense te help nie, ek moet hulle gaan uitsoek en vir hulle help, al dink ek hulle verdien dit nie, of al het hulle nie gevra nie. Hierdie is die sleutel tot Christenskap. Ek moenie rondloop en vir mense vertel hoe die HERE my seën nie, nee ek moet dit wat ek van die HERE kry aanwend om ander te help.

Nou gaan Jesaja verder; “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.”(Isa 1:18-20) Dit is die gedeelte wat ons almal ken, maar dit beteken ek moet erken dat ek verkeerd optree, en dan sal Hy my vergewe. Indien nie, sal Sy swaard, die Bybel, ons veroordeel en, verder, is daar sommer met die intrap slag ‘n woord wat min mense wil glo. Vers 21 “Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars!” Nou wonder ons nog waar die hoer van Openbaring vandaan kom. Hier word dit vir ons uitgespel, dat indien ek my nie aan die HERE onderwerp nie en aangaan met my lewe waar ek nie omgee vir my mede gelowige nie, is ek deel van die hoer. As ek aanhou met my vorm godsdiens, is dit wat my lot gaan wees, deel van die hoër. Ek wil graag vra dat jy deur die boek van Amos sal werk om te sien wat die HERE van my gedrag en optrede as vorm Christen dink.

Maar is dit nie wat die gemeente moet doen om vir die weduwee en wese te sorg nie?. Wat sê Jesaja daarvan. “Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.” (Isa 1:23) Hoeveel keer het ek dit nie self in gemeentes ondervind nie. Sodra jy in ‘n leierskap posisie kom, word daar vir jou gesorg as leier, maar dan moet jy ook weet waar jou vleisie of jou kar of jou geld aan die einde van die maand vandaan kom. Nou sal jy maak soos hulle wil en nie meer soos die HERE wil nie, want hulle is die gesiene lede van die gemeenskap en gemeente. As hulle sê spring, dan moet jy spring. Maar die oomblik wat jy nie doen soos hulle wil nie, dan gaan jou gemeente ten gronde. So, die leiers moet optree soos die gemeente wil hê dat hulle optree. En dit is verseker nie om na die weduwee en wees om te sien nie, want die gebou moet betaal word, die leraars moet betaal word, ens.

Gelukkig sluit die hoofstuk af met ‘n gedeelte wat die HERE sal doen in die tydperk hierna. “En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word.”(Isa 1:26) Dit is wat die HERE beplan in duisendjarige ryk wat voorlê.

En die was maar hoofstuk een.

Hoofstuk twee begin met ‘n baie interessante gedeelte. Dit verklaar vir ons dat aan die einde van die dae, met ander woorde in die duisendjarige vrederyk, sal die HERE se huis op Sion staan en sal die mense almal opgaan sodat Hy hulle kan leer van Sy weë en almal in Sy paaie kan wandel. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Nogal baie interessant dat ons dan sal leer hoe om Hom te eer en in Sy weë te wandel. Meeste van ons dink dat dit is wat ons op aarde moet doen, maar met soveel verskillende faksies, moet ons verseker almal leer sodat ons in eenheid Hom kan dien. Hoe anders gaan ons almal kan saamleef in die Nuwe Jerusalem as ons nie eers almal geleer het wat reg en verkeerd is aangaande ons lering nie?

Maar nou volg ‘n gedeelte wat my vir jare besig gehou het. “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Wanneer ek weer na die model van Israel kyk, sien ek dat ons dan in verskillende gedeeltes woonagtig sal wees volgens wat ons glo. Dit is wat vir ons hier duidelik gemaak word. Ons sal nie almal in dieselfde plek woonagtig wees in die duisendjarige vrederyk nie, maar sal bly in streke wat ooreenkom met hoe ons glo. Daarna, nadat ons geleer het wat ons moet, sal die HERE oordeel en reg spreek oor almal, en sal daar nie meer ‘n bakleiery wees oor wie is reg en wie is verkeerd nie.

Hoekom sal dit gebeur? Wat is dan fout met ons as Christene? Die volgende verse maak dit redelik duidelik. Onthou net die oordeel begin by die Kerk.

“Hulle is vol van wat die ooste aanbied”. Hoeveel gebruike vind ons nie vandag wat van ander gelowe oorgewaai het na Christenskap nie, soos New Age, joga, meditering om maar net ‘n paar te noem. Al hierdie Hindu en Boeddhistiese gewoontes het hul plek in Christenskap gekry en word aanvaar.

Die volgende gedeelte in dieselfde vers gaan oor goëlaars, met ander woorde mense wat vreemde goeters doen in die naam van Christenskap. Ek was eendag by ’n byeenkoms waar die persoon wat homself as ’n apostel uitgemaak het, vir mense gewys het hoe hy stoele op mekaar stapel sonder dat hy daaraan raak, en dit natuurlik uitgemaak as ‘n wonderwerk. Al wat hy gedoen het, is gebruik gemaak van psigiese kragte, wat afkomstig is van die Ooste. Ander weer wys hoe hulle hul hare skud en goud uitval en ander bring weer edelgesteentes voort.

Die laaste gedeelte van die vers sê dat die Christene met kinders van vreemdes handel dryf. So die gemeentes het die Woord van die HERE gebruik om mense wat nie deel is van die verbond in die gemeentes op te neem ter wille van geld.

Vêrder word daar ook vir hulle vertel dat hulle vol van silwer en goud is en dat daar geen einde is aan hulle skatte nie. Dit is mos hoe dit met ons gemeentes gaan. Daar moet altyd geld weggesit word en gespaar word, want ons moet mos voorsiening maak vir die maer jare, maar om dit uit te deel vir die wat vandag tekort kom, dit is nie die kerk se probleem nie. En dan aan die anderkant van die spektrum kry jy weer die wat glo dat net terwyl hulle hul tiende gee, moet die HERE hulle seën en indien jy nie geseën word nie, is die fout by jou, want die HERE sal jou ryk maak.

Dan volg ’n gedeelte waar nog verkeerde handelinge uitgelig word, soos die wins maak uit die Woord van die HERE en nog baie ander verkeerde gewoontes.

Van vers 9 af in die hoofstuk behandel die HERE dié een probleem wat alle mense raak, naamlik, hoogmoed. Jesaja stel voor dat die mense hulle gaan wegsteek in ’n rots sodat die HERE se oordeel hulle nie tref nie. Dit is dieselfde woorde wat in Openbaring 6 verse 15 -17 gebruik word. “en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Hoogmoed is seker die grootste probleem vandag, wat alle mense, oud en jonk, arm en ryk, mee sukkel. Dit is hoe Jesaja dit stel. “Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees. Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke. Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees”. (Isa 2:11-17) Hier beskryf Jesaja dieselfde wat Jesus in Matteus 24 bespreek. Om dit te verstaan, lees die gedeelte hier wat handel oor Mattheus 24 en 25.

Die hele stuk tot aan die einde van hoofstuk vyf gaan daaroor dat omdat ons as mense nog steeds verkeerd doen, sal die HERE ons deur Sy oordele bring tot by die plek waar ons finaal ons voor Hom sal buig en Sy heerskappy aanvaar. Hierdie gedeelte sal oor die Kerk kom, nie oor die mense wat nie die HERE ken nie. Onthou net Israel en Juda was Sy volk en daarom sal dit met ons as Sy nuwe volk, ook gebeur.

’n Kort opsomming van sommige van die punte is as volg:

Hoofstuk 3. Hy sal alles waar ons op steun wegneem van ons af. Hy sal seuns ons vorste maak en kinders sal oor ons heers. Is dit nie wat al vandag die geval is nie? ’n Mens hoef maar net te luister en winkel toe te gaan op ’n Saterdag of Sondag en dan sal jy gou agterkom wie is in beheer van die situasie. Ouer of kind? Vers 12 gaan verder en sê die vroue heers oor die kinders en dit sien ons daagliks hoe vrouens hulle sin kry deur kinders as wapen te gebruik. Vêrder het die leiers, en dit sluit ons kerkleiers in, verleiers geword. Dit hoor ’n mens daagliks van die preekstoel of podium af, ’n boodskap sonder enige ware liefde, wat net jou gerus stel dat jy nie hoef te verander nie. Jesus het mos alles gedoen, maar van gehoorsaamheid is daar nie sprake nie.

Hoofstuk 4. Hier leer ons dat in die dag Jesus as sieraad sal wees in Sion en die wat oorgebly het in Sy Kerk, sal heiliges genoem word. Die HERE sal weer soos in die woestyn ’n wolk wees wat beskerm teen die son en ’n rookkolom met vuur in die nag, so Hy sal weer alleen ons beskerming wees. Niks van ons verkeerde leërings sal oorbly nie.

Hoofstuk 5. Hier gebruik die profeet vir ons ’n gelykenis, soos wat Jesus gedoen het. Dit gee ons die rede waarom daar oordele sal kom oor Sy kinders en wat met hulle sal gebeur. Vir meeste sal dit wees as gevolg van ’n gebrek aan kennis van hoe ons as Christene moet optree. “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring. Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu! Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is. In my ore het die HERE van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal ‘n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ‘n homer saad sal ‘n efa opbring. Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is”. (Isa 5:1-14) Hier vertel Jesaja ons hoe die HERE voel oor ons as Sy kinders. Hy het ons net die beste gegee, maar ons vrugte wat ons dra, pas nie by ons nie. Ons vat alles wat ons van Hom ontvang vir onsself en dink nie aan ons naaste nie. Dan gaan Jesaja verder: “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue; wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken! Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is. Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir ‘n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem”. (Isa 5:18-23) Hoeveel mense kan nie wag vir die einde van die wêreld nie, maar het nie ‘’n idee wat gaan dan gebeur nie? Dit is wat Jesaja probeer deurgee. Dit is ook die gedeelte waarna Jesus verwys het in Mattheus 21 om vir die Fariseers te wys hoekom Hy Israel verwerp het as Sy kinders, en hoekom ons as kerk vandag Sy kinders is. Die Joodse geloof moet ook by Christus uitkom, en Jesus gaan nie terug kom om dit te doen nie. Ek lees dit nêrens hier of in Mattheus dat Jesus weer die wingerd herstel nie.

Hoofstuk 6. Jesaja word as profeet geroep. Hier sien ons ’n beeld soos wat Esegiël gesien het. Johannes het ook na die beeld verwys as Jesus in Johannes 12: “En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het.” (Joh 12:37-41) Hoe lank gaan dit aanhou? Tot die einde toe. Hoeveel mense is afgestomp oor die Woord van die HERE. Ek lees daagliks van mense wat alles in die Bybel bevraagteken, want hulle kan hulle nie met so ’n God vereenselwig nie. Nee, hulle het ‘n keuse gedoen om nie te luister na dit wat hulle moes luister nie. Van die mense het hulle moeg gewerk vir hulle gemeente, maar het op die uit einde besluit hulle het nie die HERE gesien in dit wat hulle gedoen het nie. Dit is seker so, maar hulle het Hom gesoek in hulle manier van dien en nie Hom gesoek waar hulle hom sou vind nie, en dit is met ’n verslae gees, en ’n gebroke hart. (Ps 34:19, Ps 51:19)

Hoofstuk 7. In die hoofstuk moet Jesaja sy seun saamvat na die koning Agas. Hier is van die min gevalle waar die koning nie die profeet laat kom het nie, want hy het nie sy vertroue in die HERE gestel nie. Hy het ook nie tempel toe gegaan nie, maar by die water om uit te werk hoe hulle kan verseker dat indien die vyand hulle aanval of beleer, dat hulle steeds water binne die stad sou hê. Die HERE gee wel aan Agas die versekering dat dit waarvoor hy bang is nie sal gebeur nie. Maar nou volg ’n gedeelte wat ons baie hoor. Die HERE vra dat hy ’n teken moet vra van die Hom, maar hy wil nie, want dan verklaar hy dat hy sy vertroue in die HERE stel. So eintlik is dit ‘n klap in die gesig van die HERE. Maar die HERE sê Hy sal ’n teken gee. “Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem”. (Isa 7:14) Wat beteken Immánuel? Dit beteken dat die HERE saam met ons is elke dag, iets wat Agas nie wou hoor nie. Dan volg ’n gedeelte waar die HERE weer vir Agas laat weet dat daar dae sal kom wat hulle nie wil hê nie, want die HERE sal hulle oordeel omdat hulle nie op die HERE vertrou nie. So is dit ook met ons. Ons moet vashou aan Sy beloftes en weet Hy is altyd met ons.

Hoofstuk 8. Die hoofstuk bevat vêrdere oordele oor Jerusalem. Dit spel ook uit dat dit skielik sal gebeur, nog voordat sy seun wat hy moes saamvat na Agas kan Vader of Moeder sal sê, sal Jerusalem besoek word deur die HERE. Dit het ook so gebeur. Vêrder hou die mense ook nie van die rustigheid van die HERE se ryk nie, want hulle verag die waters van Siloam. Die waters van die stroom het rustig gevloei, terwyl die van die Eufraat met fors vorentoe gegaan het en dit is wat hulle in hul koninkryk gesoek het. Nou sê die HERE Hy sal hulle oordeel deur die water oor hulle te laat spoel. So omdat hulle nie tevrede was met ’n klein koninkryk nie, maar ’n magtige koninkryk wou hê, sal Hy hulle oordeel. Dan volg woorde wat my nog altyd na aan die hart lê. “Julle mag nie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die HERE van die leërskare—Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem. En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word. Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge. En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop. Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon. En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”(Isa 8:12-20) Die gedeelte lig vir ons uit dat indien ons leer nie dit is wat in die Bybel voorkom nie, ons in die duisternis.” Die laaste vers sê dat hulle nie meer in duisternis sal wandel nie. Dan begin hoofstuk 9.

Hoofstuk 9. Ek hoop u sal nou verstaan waaroor die Lig gaan wat Jesaja hiervan praat. Want omdat hulle in die duisternis was, sal ’n Lig vir hulle opkom. “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn”. (Isa 9:1) Hier begin die gedeelte wat ons almal ken, waar die koms en doel van Jesus verduidelik word. Nou word daar aan ons meegedeel dat Sy koninkryk ’n ewige een sal wees. “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Hier word die duisendjarige vrederyk se begin aangekondig en bevestig dit dat die wat die tweede dood nie sien nie sal vir ewig saam met Jesus in Sy ryk wees. Maar voordat dit gebeur, sal daar eers afrekening van die volk se sondes moet kom. So daar sal na ons lewens gekyk word en alles wat verkeerd is uitgeroei woord. (9:12) Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie.” Lees maar die res van die hoofstuk, want dit is nie goeie woorde nie. As voorbeeld net twee verse: “Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert; en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ‘n dwaalweg gebring.”(Isa 9:15-16) Dit is wat ons vandag elke dag in baie gemeentes ervaar.

Hoofstuk 10. Die hoofstuk vervolg van hoofstuk 9 oor dit verkeerde wat gedoen word. Dit begin sommer met dit wat baie mense na aan die hart lê, al die moets en moenies van Christene. “Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe, om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder. Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre? Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.(Isa 10:1-4)” Hier hoor ons presies waaroor Christenskap gaan vandag. Jy mag nie dit doen nie, jy mag nie so optree nie, nee, jy moet so optree want dit is hoe ‘’n Christen maak. Maar om te kyk na wat regtig saak maak, is daar nie sprake nie. Dit is die einde van die oordele oor Israel vir nou.

Hierna skuif die oordele na Assur. Maar hoekom Assur, en wie is die Assiriërs van vandag? In my soeke het ek gevind dat die Assiriërs afstammelinge van Kus was, Noag se seun, en het Kus en sy afstammelinge Babel en Nineve as stede aangelê. Daar is baie oor sy seun Nimrod geskryf, veral buite die Bybel. Wat ek wel weet is dat dit is waar die moeder en kind afbeelding vandaan kom. En dit vind ons by die Roomse Katolieke kerk van vandag, asook by meeste van die Ortodokse kerke van Europa. So dit is my antwoord van vandag. Die oordeel sal oor die mense van die RKK en die Ortodokse kerke van Europa sal kom. Een aspek wat ek hier duidelik wil stel, is dat ek nie die of enige van die ander nasies wat ek nog sal bespreek, as heidene beskou nie, maar ons is almal kinders van die HERE, al bly ons in verskillende lande. Al wat gaan verskil, is die oordele wat ons sal ontvang en die oordele is gebaseer op die manier wat ons glo in die HERE. Ons kan nie verwag dat ons almal dieselfde oordele moet ontvang as ons nie dieselfde foute gemaak het met die manier van glo nie. Nou kan ons aangaan met die hoofstuk. So kan ons dus hoofstuk na hoofstuk behandel om uit te vind wat daar werklik staan en wat die verskillende oordele sal wees.

Ek gaan hier eers ophou, totdat ek weer reg is om verder met die oefening te gaan. Ek glo dat dit nog een of ander tyd hierdie jaar sal wees, maar wie weet, dalk is dit eers oor vyf jaar, of dalk glad nie. Ek weet net dat ek nou eers moet ophou, so dit is wat ek doen.
Seën vir u op u paadjie vorentoe in die lewe.

Ek kan net byvoeg dat daardie dag aangebreek het en ek tans besig is met ‘n volledige verklaring van Jesaja vir ons as Kerk. Dit is besig om ‘n boek van sy eie te word, so hierdie is maar net die raamwerk van dit waarmee ek tans besig is. (Julie 2017) So ek kyk nie na die fisiese nie, maar na dit wat Jesaja vir ons as Christenne inhou. Daar is soveel hoofstukke wat nog moet volbring word, maar almal verwag mos dit sal eers na die wegraping gebeur. Ongelukkig is daar nie ‘n wegraping nie, en so het die Jode van vandag Christendom binne gedring en ons heeltemal blind gemaak vir dit wat besig is om af te speel vandag. Lees maar die ander gedeeltes om te verstaan uit watter hoek ek die Bybel benader. My hele benadering is mooi saamgevat deur Paulus in 1 Korintiërs 10: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens. Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê: die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie? Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy? ”
(1 Kor 10:1-22)

Ander boeke is ook beskikbaar hier

Die boek van Moses. Die boek neem u stap vir stap deur die hele proses wat ek hier in kort verduidelik het. Verder beantwoord dit ook baie ander vrae wat ek as Christen elke dag het. So is die boek ingedeel in hoofde wat handel oor die beginsels waarop ons geloof gebaseer is, wat beteken bekering, geloof, doop, liefde ens. Verder kyk ek ook na meer algemene vrae soos hoe maak ek my kinders volgens die Bybel se standaarde en riglyne groot, oor my finansies en die Kerk, oor seksualisme, Vigs ens. Dan is daar ook ‘n gedeelte wat ek kyk na wie of wat Kerk is, hoe ek as lidmaat ‘n leraar kan beoordeel en sommer nog baie ander vrae. Die laaste gedeelte kyk ek na hoe die hemel daarna uitsien, gebaseer op dit wat ek in die boek vinnig aangeraak het.

Is Egipte in die Hemel? Die boek is gebaseer op my lewe, wat ek ervaar het die eerste keer wat ek ‘n baie groot operasie gehad het om kanker te verwyder, en is deels waar, en dan so ‘n bietjie fiksie om te verduidelik wat ons in die hemel kan verwag.

Ontwaak jy wat slaap. Die boek kyk na die uitverkiesingsleer, en dan wat die gevolge daarvan is. Dit is ook die ingesluit in die Boek van Moses as ‘n aparte gedeelte, maar is ook afsonderlik te koop.

Kenmerke van ‘n Christen. Hoe moet my optrede as Christen wees. Moet die wêreld kan sien dat ek ‘n Christen is? Wat is die invloed van die HERE op my daaglikse lewens wandel.

DVD’s Daar is ook ‘n hele paar van die boeke wat ek as DVD opgeneem het, en wat gebaseer is op die eboek met dieselfde naam, maar waar addisionele inligting ook beskikbaar is. Die DVD’s is self opgeneem en is beskikbaar in volledige HD (high definition) formaat.