Verbond van geregtigheid

Print Friendly, PDF & Email

‘n Nuwe teologie bring ek vir julle

‘n Nuwe teologie bring ek vir julle. ‘n Eeu oue teologie van ‘n verbond met Abraham, van Jesus en van geregtigheid. Dit mag dalk vir u soos ‘n teenstrydigheid klink, maar ek wil graag die dilemma vir u verduidelik.

Ek het die afgelope twintig of meer jare spandeer om uit te vind wat die regte teologie is soos ek dit verstaan, en om uit te vind wat vir my die regte boodskap van hoop is wat die Bybel verkondig. Dit het my geneem van Calvinistiese gemeentes, na Pinksterkerke, Charismatiesekerke, huiskerke en alles tussen in. Party as lidmaat, ander as leraar, en ander as besoeker, en nog ander na hulle webtuistes.

Wat het ek gevind?

Ek glo aan ‘n HERE wat Sy woord gestand hou. Aan ‘n eeue ou verbond en belofte aan Abraham,  die vervulling deur Jesus Christus wat vir ons die baan weg na ‘n verbond van geregtigheid.

Die HERE het my op ‘n tog deur die Ou Testament geneem en daarom sal u ook agterkom dat ek baie van die Ou Testament gebruik om standpunte mee te verduidelik, maar daar is ‘n spesifieke rede daarvoor. Meeste kere wat Jesus met die mense gepraat het, en wat vir ons opgeteken is, het hy probeer verduidelik hoe die Koninkryk van God werk. Iets wat wel baie min van opgeteken is, is wat Jesus oor Homself gesê oor wat die profete en Moses oor Hom geleer het wanneer Hy en die dissipels alleen was. Tog vind ons in Lukas 24 drie gedeeltes, wat alles handel oor hierdie een waarheid wat ontsettend belangrik is, en waaruit ons baie kan leer.

Hier dan die drie gedeeltes: “En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het”. (Luk 24:24-27). “En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Luk 24:30-32). “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” (Luk 24:44-47)

Die laaste gedeelte wat ek graag aanhaal is wat Paulus vir ons hieroor geskryf het, en kom uit 2 Korintiërs 3: “Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie. Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2Co 3:12-17)

Wat behels hierdie verbond?

Vir my moet ons begin by Abraham, die vader van alle gelowiges. Ons moet onthou Abraham het agt seuns gehad. Die oudste was Ismael, daarna Isak, en daarna nog ses seuns. “En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar” . (Gen 25:1-2) Die Bybel leer ons oor een seun se toekoms waarmee die HERE ‘n spesiale verbond mee gesluit het, die van Isak. “Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.”(Gen 17:21) Ismael en die ander seuns leer ons nie van in die Bybel nie, maar tog was hulle uit die nageslag van Abraham.

Behoort net Israel as nasie dan aan die HERE? Nee. “Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.” (Gen 17:4-9)

In Efesiërs 2 leer ons die volgende: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees”. (Eph 2:11-22)

In Genesis 14 leer ons ook van iemand anders. “En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.” (Gen 14:18-20) So voor Isak was daar al ander nasies wat ook die HERE gedien het. Israel word vir ons as voorbeeld voorgehou soos in 1 Korintiërs 10 in die Bybel vir ons uitgelig word. “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”(1Kor 10:11)

Die eerste verbond met Abraham, is gevier met nagmaal tussen Abraham en Melgisedek, waar Melgisedek die wyn en die brood gebring het. Nou lees ons in Hebreërs die volgende: “So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op ‘n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs— Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek; (Heb 5:5-10)

Wat beteken dit? Melgisedek was ‘n priester van die HERE en deur die HERE self aangestel. Hy het nie uit ‘n stam gekom wat priesters was soos die Leviete nie, om die waarheid te sê was hy nie eers enigsins aan Abraham verwant nie. Nou kom Jesus en word hy weer aangestel volgens die orde van Melgisedek, met ander woorde, deur die HERE self aangestel. Daarom ook dat Jesus weer die Nagmaal instel met brood en wyn, soos dit gevier is deur Abraham en Melgisedek. Verder was Melgisedek ook koning, en so word Jesus dus ook as koning van God se volk aangestel.

Maar wat is die verbond wat die Bybel van praat wat die HERE met Abraham aangegaan het? Kom ons kyk na ‘n opsomming van die verbond. Die eerste punt wat ek wil maak is dat daar voordele en nadele in ‘n verbond is. ‘n Verbond het altyd twee kante, die een kant leer ons wat sal gebeur indien ons by die verbond hou, en dan die anderkant wat sal gebeur indien ons dit nie doen nie. Ek wil dit graag verduidelik aan die hand van Deuteronomium 30 vanaf vers 15: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien, dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee. (Deu 30:15-20)

Die laaste gedeelte is vir my ontsettend belangrik. Ek moet kies om my kant van die verbond te hou, dan sal die HERE Sy kant hou. Die vermoë om te kies is al aan ons gegee in Genesis 3:22 “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.” Indien jou Bybel nie so sê nie, is dit omdat die vertalers dit verander het in die nuwe vertaling om by hulle dogma in te pas. En verder is dit die enigste vertaling wat dit so stel. Geen van die Engelse of ander vertalings stel dit soos dit in die nuwe verdwaling gestel is nie. Die mens het as deel van die sondeval die vermoê verkry om te weet wat is goed en wat is kwaad. So my hele lewe gaan dus oor keuses, keuses wat of goeie gevolge gaan hê, of wat kwade gevolge gaan hê.

Stappe van verbond

Nou, met die tweede punt wil ek graag kyk wat die stappe van ‘n verbond is. Dit word volledig vir ons beskryf met die uittog van Israel uit Egipte na die land Kanaän. Dit is immers wat die HERE vir Abraham beloof het waar sy nageslag hulle sal vestig. Dit is dan ook my rigtingwyser vir vandag, aangesien ek ook in Kanaän wil uitkom. Die enigste verskil is Israel het die fisiese tog gemaak, terwyl ons vandag die geestelike tog kan meemaak om by ons Kanaän uit te kom. Dit is die plek wat die HERE vir my bestem het. Ek sal eers beskryf wat Israel moes doen, en dan volg wat dit vir ons as Nuwe Verbondsgenote moet doen en wat dit beteken.

Maar hoekom het die HERE hulle uit Egipte laat trek? “En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken. (Exo 2:23-25) “En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete. En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.”(Exo 3:7-9)

  1. Besnydenis

Verbond voor Christus: Besnydenis van die voorhuid. Dit moes hulle herinner dat hulle deel is van God se uitverkore volk. “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef”. (Exo 12:43-49)

Verbond met Christus as Lam: Besnydenis van die hart. Alle mense word in Egipte gebore, ‘n lewe sonder die HERE, ‘n lewe waar ek onder die gesag van Satan(Farao) staan. Soos Israel moet ek uitroep na die HERE om my te bevry van Egipte. So my optrede moet verander. Ek moet besef dat ek niks kan doen om myself te red nie. Ek moet glo dat Jesus alles gedoen het om die verhouding tussen my en die Vader te herstel. Ek moet besef dat ek ‘n sondaar is en dat ek verlore sal gaan as ek volhou om my eie lewe te lei. Ek moet tot bekering kom. Ek moet soos ‘n kind van die HERE optree. Ek moet die liefde van die HERE volgens 1 Johannes 3 begin uitleef op aarde. My optrede moet die bewys wees dat ek kind van God is. Geen uitwendige besnydenis is nodig nie. Maleagi 3:18: “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie”. Jer 31:33:  “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

“En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Maar hulle wie se hart agter die hart van hulle verfoeisels en hulle gruwels aan loop—hulle wandel laat Ek op hul hoof neerkom, spreek die Here HERE.” (Eze 11:19-21)

Kolossense 2:9 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 10 en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; 11 in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, 12 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het”.

Wat sê Paulus oor ons as onbesnedenis na die vlees: “Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom 3:29-31) maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.” (Rom 2:29)

  1. Brood

Verbond voor Christus: Brood sonder suurdeeg moes geëet word. Suurdeeg was ‘n teken dat jy opgepof was en dat jy sonde gehad het. So hulle brood moes wys dat daar nie sonde was nie.

Verbond met Christus as Lam: Jesus is die brood van die lewe. Hy kon geen sonde hê nie, want Hy is ook God. “Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”(Joh 6:49-51) “En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.” (Mat 26:26)

  1. Lam slag

Verbond voor Christus: Hulle moes ‘n lam slag en eet. “Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin. Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.” (Exo 12:3-6)

Verbond met Christus as Lam: “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. (Open 5:6-10)

  1. Bloed van die Lam

Verbond voor Christus: Hulle moes die bloed aan die deurposte smeer. Dit het beteken dat die dood by die huis verby gegaan het. Exo 12:12-13: “Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.”

Verbond met Christus as Lam: Ons moet onder die bloed van Jesus kom. “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. (Mat 26:27-28) So indien ek nagmaal gebruik sal die doodsengel my nie kan aanraak nie, en verkry ek die ewige lewe.

  1. Waar was die wet?

Verbond voor Christus: Wet op kliptafels geskryf soos opgeskrywe in Eksodus 20. Moses beskryf die gevolge ook daarvan verder: “En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het. En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is. En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.” (Deu 6:22-25) So hul geregtigheid was uit onderhouding van die wet.

Verbond met Christus as Lam: Wet op die hart geskryf. Jer 31:33:  “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Die Hebreërs skrywer druk dit as volg uit: “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (Heb 8:10) “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. (Jer 23:5-6) So ons geregtigheid is Jesus as verlosser.

  1. Op wie was dit van toepassing?

Verbond voor Christus: Beide Israel en buitelanders. Eks 12:49 “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef”. Eks 12:38  “En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee.”  So selfs in Moses se tyd was vreemdelinge deel van die verbondsvolk. Dit bevestig ook wat die HERE vir Abraham beloof het. “Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies”.

Verbond met Christus as Lam: Daar is geen verandering nie. Want dit is nie nodig nie. Daar was reeds vir ons voorsiening gemaak. Jesus het net dit kom volbring wat nodig was sodat Hy dit wat op Hom gewys het gedoen het en alle sonde op Hom kon neem en ons in die regte verhouding met die Vader geplaas. Dit geld vir elke persoon wat glo dat Jesus die Lam is, Israel en vreemdeling. Nou kan ons in die geregtigheid van Jesus lewe, want Hy is ons geregtigheid. Soos Jeremia dit stel: “In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Jer 33:16 Wanneer ons Sy geregtigheid besit dan kan ons met vrymoedigheid na die HERE gaan : Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” Heb 4:16.

Geregtigheid

Paulus beskryf Jesus se geregtigheid as volg: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Rom 10:3-10)

Wanneer word ek dus deel van die Verbond met Christus as Lam? Met Nagmaal, soos in Israel se tyd met die pasga. So dit beteken ook dat geen onbesnedene mag deel hê aan die nagmaal nie, aangesien die nagmaal die bewys is dat ek my lewe prys gegee het, en ‘n lewe kies wat ek in gehoorsaamheid aan die Vader sal leef.

Wat sê die Nuwe Testament daaroor? Wanneer sal ek oorwin en hoe oorwin ons? “En hulle het hom(Satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie”. Openbaring 12 vers 11.

Wat is die ooreenkoms met die verbond voor Christus?

Met die bloed van die Lam (Bloed aan die deurposte)

Woord van hulle getuienis (Besnyding)

En hulle het tot die dood hulle lewe nie liefgehad nie. Ons moet ons kruis elke dag opneem en sterf aan ons eie wil. “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red” (Luk 9:23-24)

So is dit met ons as kinders van die HERE. Ons almal word deel van die verbond wanneer ons besluit om Hom te volg en ons lewe neer te lê. Ons almal wat die Bybel ken volg Israel en die pad wat hulle moes neem tot in Kanaän, omdat dit die voorbeeld is wat vir ons opgeskrywe is en wat ons stap vir stap kan navolg. Dit is ook die land wat aan Abraham as ‘n ewige besitting gegee is. Na ons dood gaan ons almal, al Abraham se nageslag, leer om die HERE te dien vir wie Hy is, en om eendag saam in die Nuwe Jerusalem te kan woon. “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”(Jes 2:3, Miga 4:2)

Dit is ook die eerste stap wat die Heilige Gees in elke persoon op aarde kom doen. “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” (Joh 16:7-11)

So alle persone het die vermoë om te kies aangesien die Bybel onomwonde bevestig dat die Heilige Gees gekom het om die wêreld te oortuig van sonde, en te leer wat geregtigheid is. So sal almal wat die lewe kies, gered word. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie”(Joh 3:16-18)

Ons moet dus glo dat Jesus die volmaakte offer vir sonde was, en dat ons slegs deur dit wat Hy gedoen het vir ons, die reg het om kinders van God genoem te word.

Indien u nie die HERE kies in hierdie lewe nie, so u glo nie dat die enigste weg na die Vader Jesus is nie, sal u skuldig staan by die wit troon oordeel. “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”(Open 20:5). “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”(Open 20:11-15)

Wat beteken Jesus se verbond van geregtigheid dus?

Die definisie wat ek daaraan wil gee is as volg:

Die reg om voor God te staan sonder skuld, veroordeling en minderwaardigheid. Dit is om in die regte verhouding voor die Skepper te staan, skepsel teenoor Skepper. Dit kan ons slegs doen wanneer ons ‘n oorvloed van die gawe van geregtigheid ontvang. En dit is wat Jesus kom doen het.

Watter stappe volg dan na die verbond?

Ons moet uit Egipte trek, deur gedoop te word. Dit is waar die krag van Satan, in Israel se tyd, die Farao, gebreek word in jou lewe, en jy jou onder die heerskappy van die Vader plaas. Hier verlaat jy die gebied waaroor die Satan heers, en hoef jy nie meer bakstene te maak om Satan se koninkryk uit te brei nie. Na die doop het die sonde nie meer mag oor jou nie. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Rom 6:11-16)

Soos Israel moet ons ook die doping in die Heilige Gees ontvang. “Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie. Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus—hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie—en hulle het in die laer geprofeteer. Toe hardloop ‘n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit! Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee!” (Num 11:25-29)

Hoe het Jesus dit gestel: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” (Joh 7:37-39)

By Sinai gaan ons tyd spandeer om die wet van die HERE in ons harte te ontvang. Hierdie is die leer gedeelte van ons lewe waar ons sal uitvind wat is reg en wat is verkeerd vir die HERE, en dit is wat ons plaaslike leraar moet doen. Dit is wat met Israel by Sinai gebeur het. Gedurende die tyd sal die HERE Homself openbaar vir wie Hy is. Hy sal vir ons bonatuurlik sorg soos vir Israel van ouds met brood en vleis, kwartels en manna.

Sodra ons opleiding verby is, sal ons ‘n roeping ervaar om in Kanaan te gaan. Dit is die tyd wanneer ons oorgaan van die sesde dag na die sewende dag van die HERE, wanneer ons besef dat niks wat ons kan doen ooit sal maak dat ons in die Koninkryk van God sal kan ingaan nie, maar slegs geloof in Jesus Christus. Dit is waarvan ons in die Hebreërs boek lees in hoofstuk drie en vier: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.” (Heb 4:1-11)

Onthou net dat ‘n persoon nie moet wag om in die HERE se rus in te gaan nie, want elke dag is vandag. Ek kan nie uitstel en sê ek sal dit more doen nie, want die Bybel sê duidelik vandag as jy My stem hoor. Ons almal het ‘n roeping, en dit is om mense dissipels te maak, om Jesus se beeld uit te straal. Sommige persone sal die oproep aanvaar en Kanaan ingaan, terwyl die res sal sterf in die woestyn. Dit is die verskil, die sesde dag is in die woestyn alhoewel jy gedoop is, maar die sewende dag is die rusdag en Kanaan, dit waar die HERE wil hê dat ek en jy moet ingaan.

Die meeste mense wat in Kanaan ingaan sal glo dat hulle ‘n koning moet dien soos Israel. (‘n Koning is iemand wat oor jou sal heers en mag ‘n geestelike vader wees of selfs jou kerkverband.) Die eerste boek van Samuel doen verslag as volg: “Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie. Soos al die werke wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het—so doen hulle ook met jou. Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer.” (1Sa 8:7-9)

Meeste van die mense wat in Kanaan ingaan, sal sterf terwyl hulle hierdie koning dien, terwyl ‘n oorblyfsel geroep sal word om in ballingskap te gaan. “En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood: hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n buit wees.”(Jer 21:8-9)

Ballingskap

Wat is dit dan met ballingskap? Kom ons kyk na ‘n paar verse en verklarings oor ballingskap. Die eerste is die fisiese ballingskap. In die Bybelse tyd is die verloorder in ‘n oorlog altyd in ballingskap weggevoer na die oorwinnaar se land toe. Die verloorder het al sy roerende bates verloor en moes die oorwinnaar se slaaf word. Wanneer iemand dus in ballingskap gegaan het, is sy hele huis se meubels, sy skoene, sy staf ensovoorts, na buite gedra en dan het die persoon vertrek. Al wat agter gebly het was sy huis. Wat is die betekenis vir ons vandag? Ek moet die oorlog teen die HERE verloor, sodat ek Sy slaaf kan word, en weggevoer kan word na Sy land, Sy Kanaän. Ek moet my hele vertroue in Hom plaas sodat ek soos ‘n slaaf ten volle van Hom afhanklik moet wees vir dit wat ek moet doen en dit wat ek nodig het om te oorleef. Hy moet soos in die tye van ouds vir my sorg vir huisvesting en vir die daaglikse voedsel. Hy het duur betaal vir my, met Sy bloed. U sien Hy het die dood wat vir my bestem was, oorwin, maar dit het Sy lewe gekos. So vir my beteken dit dat ek fisies my lewe by die kruis moet gaan neerlê, en my onderdanig aan Hom stel, sodat Hy vir my kan sorg. So sal ek dan tot die besef kom dat alles wat ek het, en alles wat ek is, net genade is en van die HERE afkomstig is.

Die tweede gedeelte, oor ons geestelike ballingskap, kom uit Jeremia 48 vanaf vers 11 : “Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.”  Hierdie gedeelte het my vir maande gepla, aangesien ek dit regtig nie kon uitpluis nie. Wat die HERE egter hier vir ons wil leer, is dat ons die mense probeer beïndruk met hoe skoon ons is, maar sodra iemand aan ons karring, kom al die onreinheid skielik te voorskyn. Ek moet dus toelaat dat die HERE eers nadat ek Sy slaaf geword het, my van vat na vat sal skei van dit wat vuil is in my lewe. Indien ek dit nie doen nie, verander my geur aanhoudend aangesien ek die afsaksel se geur aanneem. Ek moet my dus self ledig van alles wat my lewe vuil maak en my besmet.

Hierdie skoonmaak proses is ook nie iets wat skielik kan plaasvind nie, aangesien ek tyd moet toelaat vir die afsaksel om weer op die bodem te gaan lê voordat ek weer afgegooi kan word. Dit is ook nie ‘n proses wat op jou afgedwing word nie. Jy moet self besluit om deur hierdie proses te gaan om introspeksie te hou in jou lewe sodat alles wat nie reg is in jou lewe, verwyder kan word.

Daar was wel van die Israeliete wat gesê dat hulle in Jerusalem wou bly, want dit help nie om weg te hardloop nie, al was hulle beleër. Die antwoord wat die HERE vir hulle gehad het, was dat die wat in Jerusalem sou bly, sou sterf, of deur die hongersnood, of deur die pes, of deur die swaard. So as u wil weet of u in die groep val, is daar ‘n paar vrae wat vir u ‘n antwoord sal verskaf. Die eerste vraag is of u nog iets by u gemeente leer? Kan u ‘n nuwe bekeerling  leer aangaande al die vereistes wat daar is om te verseker dat hy ‘n kind van die HERE is? Weet u presies wat die leerstelling van handoplegging behels, hoe dit gebruik moet  word en of dit nog van pas is? Dit is wat gebeur wanneer ons tevrede raak met ons stand as Christene. Ons hou op om te leer, en sodoende sal ons sterf aan hongersnood. Wat het u die afgelope jaar geleer?

Die tweede vraag, en dit is die rede wat Jeremia vir die mense gee, is dat hulle sal sterf aan die pes. Hoe weet ek of ek die pes het? Die pes hier beteken vir ons dat ons verklaar dat ons groep alles reg doen en dat ons seker is dat almal wat aan ons groep behoort, die ewige lewe sal beërwe. U sien ons hou nie van introspeksie nie, want dit beteken dat ek die goed wat ek nie mee tevrede is in my lewe, weer in die oog moet kyk. Dit beteken ook dat ek die vraag moet vra of elke beginsel wat ek aan vashou, Bybels is.Hoeveel gewoontes en beginsels het u wat dalk nie in die Bybel gevind kan word nie? Ek besit ook die pes as ek verklaar dat die mense maar kan aangaan met al hulle waarskuwings en debatte, want hulle sal ook eendag “bykom”. My lewe is mos heel goed, en ons moet ook nie ‘n “te” by alles sit nie. Dit is die groep wat Jeremia verklaar sal sterf van die pes.

Die derde rede hoekom hulle sal sterf is deur die swaard. Wie is die groep dan? Dit is die groep wat besluit dat hulle nie in die eerste twee pas nie, en hulle dus onttrek van hulle gemeente en mede Christene. Hulle wil soos in Jeremia se tyd uit Jerusalem gaan en in die naburige dele gaan woon. Maar Esegiël het ook verklaar dat hulle sal sterf deur die swaard as hulle uit die stad uitgaan. Weet u ons kan nie sonder mede Christene klaar kom nie? Indien ons dit probeer doen is dit dan dat ons na die Bybel gryp en allerhande snaakse leerstellings mee kom, wat uiteindelik ons dood beteken. Die Woord van God is die swaard wat ons sal oordeel.

Dan is daar ook die mense wat aangedring het om na Egipte terug te keer. In die geskiedenis het hulle Jeremia saam met hulle terug geneem, maar weet u, hulle het nooit weer die geleentheid gekry om terug te keer na Jerusalem nie. “Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei. En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle sterwe; en hulle sal ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking en smaad word. En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon, soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en die pes; sodat daar geeneen sal wees wat ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie.”(Jer 44:11-14) Die enkele vlugtelinge wat wel kon terugkeer was Jeremia en Barug se mense aangesien hulle gedwing was om na Egipte te gaan. Hulle is later deur Nebukadnésar na Babilon geneem toe hy Egipte beset het. So ek kan nie terugkeer na my vorige lewe van Egipte nie, want dan sal ek die tweede dood van Openbaring sterf. Dit is hoe ons dit in Hebreërs lees: “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Heb 6:4-6)

U sien die HERE vra ons om uit te kom onder die heerskappy van ons aardse “koning”, of in ons geval ons gemeente of kerk groep, en dat ons nie moet vertrou op ons lidmaatskap van ‘n gemeente om sodoende die ewige lewe te beërf nie. Nee, ons moet ons losmaak van die gedagte dat lidmaatskap ons kan red, en ons skaar by die Kerk wat Jesus bou. U sien Hy is nie besig om ‘n klomp bruide voor te berei nie, nee Hy wil een bruid hê, maar sy moet skoon en heilig voor Hom kan staan. Dit beteken nie dat ek my lidmaatskap van my gemeente moet opsê en nou kerkloos rond te loop nie. Nee, ek moet my vertroue alleen op die HERE stel, dit is wat gevra word. Verder word van ons verwag om soos ‘n Daniël en sy vriende die regering tee te staan as hulle allerhande verkeerde norme op ons wil afdwing. Daniël het nie gehuiwer om in die openbaar te bid nie. Hy het geweet dat die aardse gesag nie die opperste gesag is nie, maar dat slegs die HERE enige gesag mag afdwing.

Die gelowiges van die groep verwag nie net herlewing nie, maar ware hervorming, of ballingskap. Wat is die verskil tussen die twee begrippe? Herlewing vir my beteken dat ek net moet gaan soek na dit wat lewe bring, en dit dan verkondig. Indien daar lewe was by iemand, sal dit weer die lewe laat vlam vat. Hervorming aan die ander kant beteken dat ek ontslae raak van dit wat nie van die HERE is nie, en ‘n nuwe lewe begin. Dit is dan ook hoekom die HERE die term van ballingskap gebruik, want ek moet van my afsaksel geskei word.

Hoe weet ek dit is waar? Dieselfde vraag as die een in Jeremia word in Openbaring gevra. Openbaring 18:4 “En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”.

U sien as u nie in ballingskap gaan nie, is u besig met godsdiens. En godsdiens is dieselfde as hoerery, en dan is ons deel van die hoer van Openbaring 18. Ek weet ek wil, en ek is seker u wil, deel wees van die Bruid van Christus, daarom moet ek in ballingskap gaan.

Sodra die mense hulle tyd in ballingskap volbring het, sal hulle terugkeer na Jerusalem, die gelowiges, en die ware tempel van die HERE (die Kerk) herstel.

Dit dan ‘n kort oorsig van die eeu oue verbond en wat dit vir ons vandag beteken.