Hoe versprei ek die evangelie van Jesus Christus?

Print Friendly, PDF & Email

Hoe versprei ek die evangelie van Jesus Christus?

Dit is vandag vir my ‘n baie relatiewe vraag aangesien daar seker meer antwoorde is as wat daar verskillende Christelike Kerke is.

Maar ek wil graag net ‘n bietjie agtergrond gee van die persoon aan wie ek die evangelie moet verkondig. In die eerste plek weet die persoon niks van enige leerstellings nie. Hy weet ook nie van verskillende gelowe nie, so hy is volgens almal se definisies ‘n persoon sonder enige geloof. Hy het nog nooit blootstelling gehad aan enige geloofsdenke of iets nie. So al wat hy weet is dat die son opkom en ondergaan, en dat plante doodgaan en nuwe saad opkom, en sy mense sterf en nuwes word gebore. Dit is al wat die persoon van weet. So daar is geen wetenskaplike kwessie wat die persoon aan blootgestel is nie, asook geen filisofiese denkrigtings is aan hom bekend nie.

Nou moet jy die persoon oortuig dat hy Jesus nodig het om seker te maak dat hy nie as ‘n vreemdeling van die HERE sal sterf nie.

Waar begin ek en hoe gaan ek nou die persoon kry om as kind van die HERE te leef en die ewige lewe te beërf. Dit is ‘n saak wat my na aan die hart lê aangesien ek sovele “Christenne” sien wat oop oë op pad is na die verdoemenis. Maar ek het al hoeveel keer probeer om met die sulkes te praat, maar gewoonlik sonder sukses.

So het ek gevind dat daar basies vier soorte moderne mense is. Eerstens is daar die wat lees om die werking van iets te leer en te verstaan. So hulle sal ek as die uitvinders beskryf, of die wat indien die antwoord alreeds ten volle gedefinieër is, tog die antwoord sal ondersoek of dit sin maak en dan sal hulle die antwoord kan toepas in hulle lewe. Nou het ons nie hier net te doen met mense wat kan lees nie, maar mense wat kan oorleef. Hulle sal saam met ander uitgaan, kyk hoe word goed gedoen, en dan dit wat hulle gesien het kan toepas in hulle eie lewe. Dit is hoe die Boesmans en vele ander nasies vir duisende jare al oorleef. Die swakkeres onder die mense sal uitsterf aangesien hulle nie kan oorleef nie, en is dit maar ook wat ons selfs onder diere vind. Hulle word geleer deur die voorbeeld van andere te volg, en dit dan kan toepas.

Die volgende groep is die wat sal lees, glo wat hulle gelees het, en dit hulle standpunt maak. So hulle is die volgelinge. Hulle is redelik maklik om te kan opspoor want indien jy met hulle redeneer, gaan hulle vinnig na hulle “oplossing” gryp, en jou probeer oortuig dat hulle standpunt die enigste oplossing is, so hulle is reg en jy is verkeerd. Die groep maak seker die grootste groep mense uit wat ons van dag tot dag mee te doen het.

Dan vind jy diegene wat geen standpunt het nie, maar hulle sal wel lees, sien, of wat ookal, maar dit wat hulle gesien het of dit wat hulle gelees het, nie kan gebruik nie. Die persone sal jou nogal verbaas partykeer in die sin dat hulle woordeliks alles sal kan weergee, maar geen insig het hoe om iets toe te pas nie. So hulle kennis is net “boeke” kennis, en hulle kan net mense oortuig deur ander persone te kwoteer, sonder om te vertaan dit wat hulle kwytraak.

Die laaste groep is die mense wat uit hulle self leef. Hulle sal vir jou al die antwoorde wat hulle het op almal sal wil afdwing, en kan nie redeneer nie. Hulle is soos die wat jy elke dag oor dieselfde onderwerp mee kan praat, maar dit wat hulle in “glo” is die waarheid. Hulle sal jy vind is seker die moeilikste mense om mee oor die weg te kom want hulle volg net hulle eie kop. Om ‘n voorbeeld te gee van so ‘n persoon sal ek ‘n voorbeeld gebruik wat ek mee moes sukkel terwyl ek in 2009 vir ‘n jaar onderwys gegee het. In die vak tegnologie, is gevra waarvan sekere stowwe gemaak word, en dan is daar ‘n rede voor gegee hoekom dit die beste stof daarvoor is. Ons het gepraat oor wat die beste stof is om ‘n reënjas van te maak, wat natuurlik PVC is, aangesien dit waterbestand is. Een van die leerlinge het vir my gesê sy broer is altyd reg en hy het ‘n leerbaadjie wat hy aantrek. In elke toets of eksamen wat ons die vraag gevra het was sy antwoord ‘n leerbaadjie. So dit het nie eers gehelp nie eers te wys wat die beste is nie, wat ek wel gedemonstreer het, maar ek kon hom nie laat afsien het van sy standpunt nie. Hierdie mense is ‘n verlore saak om mee te probeer om in gesprek mee te tree.

Hoe begin ek om met enige persoon dan te praat oor hoekom hy by Jesus moet uitkom en wat is die voordele vir die persoon indien hy dit doen.

Eerstens, soos ek die saak benader, is my standpunt dat ek slegs iemand ‘n dissipel kan maak van dit waaraan ek glo. Indien ek nie weet hoe om vuur te maak nie, kan ek dit nie vir iemand anders leer nie. So nou wil ek begin met my opdrag om die persoon te lei dat hy eendag die ewige lewe sal beërwe, maar ek het geen hulpmiddels tot my beskikking nie. So ek het geen Bybel om die persoon te gee om deur te lees sodat die persoon ‘n agtergrond kan kry van wat en waaroor die Christelike geloof gaan, en geen traktatjies nie. Nou hoe gemaak?

Eerstens moet ek uitvind hoe die persoon se lewe huidiglik is. Ek moet uitvind of hulle weet wat reg is en weet wat verkeerd is. Ek moet onthou dat dit heel moontlik vir hulle reg gaan wees om indringers dood te maak, want hulle beskerm hulle grondgebied. So om ‘n lewe te neem is nie verkeerd in die persoon se kultuur nie. Maar nou weet ek dat die Bybel sê dat moordenaars nie in die hemel gaan kom nie. Maar is dit in alle gevalle die waarheid? Ek glo nie so nie, want wanneer ek kyk na wat in die laaste drie hoofstukke van Rigters opgeteken is, gee die HERE die ander stamme die opdrag om teen Benjamin se nasate op te trek en hulle dood te maak. Met Israel se trek uit Egipte na die beloofde land en dan die gedeelte kon op eis in Kanaän vir hulself, moes hulle al die huidige bewoners gedood het voordat dit hulle erfdeel kon word.

Nou hoe kan ek dus die vraag beantwoord? In Benjamin se geval is dit maklik. Persone in Benjamin se stam het ‘n priester se vrou verkrag en haar dood voor die priester se oornag plek gelos. So hulle het gesondig, en hulle straf was omdat hulle nie die skuldiges wou uitwys nie, hulle hele stam amper uitgewis is. Om die waarheid te sê indien ons die getalle optel wat ons in die hoofstukke kry, is daar oor die drie dae 90,000 mans van Benjamin se stam gedood. Dan lees ons verder dat daar nie vroue was vir die mans wat na die oorlog terug huis toe gegaan het nie, en moes Israel hulle help om vroue te kry, alhoewel nie een vrou uit enige van die stamme gegee is om met die Benjaminiete te trou nie. Hulle het 10,000 vroue van Jabes uit Gilead aan hulle gegee, en die res moes vir hulle vroue gaan steel uit die koordansers wat elke jaar opgetree het met die jaarlikse byeenkoms by die tempel.

Met die oorname van Kanaän het die HERE hulle beveel om almal dood te maak omdat Hy geweet het die vreemde vrouens sal die mans verlei agter afgode aan indien hulle die inwoners nie doodmaak nie. Ons vind dit is presies wat gebeur het met die Filistyne en is Israel altyd in oorlog met die ander nasies gewees omdat hulle nie gedoen het wat die HERE van hulle verwag het om te doen nie.

So ek kan nie die gesprek begin om te vra of die persoon al ‘n ander se lewe geneem het nie, want die doodmaak van ‘n persoon is nie in alle gevalle moord nie. Wanneer dit gaan oor selfverdediging is dit tot vandag toe selfs in Suid Afrika nie moord as ‘n persoon ‘n ander persoon doodmaak uit selfverdediging nie, of indien jy as lid van die weermag teen ander magte oorlog maak nie.

So hoe begin ek dan die gesprek? Ek dink die maklikste is om te begin by die grootheid van die HERE. Dit beteken my gesprek begin by hoe die natuur werk, hoe plante voortplant, diere voorplant en mense voorplant. Dit gee vir my die geleentheid om te verduidelik dat dit is hoe die mense ook gemaak is. Dit kan dan gebruik word om te verduidelik hoe die wêreld lyk, waarheen die son verdwyn en waar die maan heen gaan. So alles wat ek mee begin dui aan hoe groot is die HERE dat Hy alles geskape het, ook ons as mens en dat ons as mens net soos die diere kon leef, sonder dat daar struweling onderling plaasvind of dat ek hoef te werk vir my kos.

Maar nou kom ons by die grootste vraag: Hoe verduidelik ek die val van die mens? Nogal maklik. Ek moet weereens uitvind wat is prooi en wat is aanvalsdiere in hul omgewing. Nou kan ek kom en verduidelik dat dit wat ons as kinders van die HERE ken as die satan, in hulle lewe sal dit heel moontlik ook maar ‘n slang wees wat die mense die bangste voor is, vir Eva gekry het om van die boom van goed en kwaad te eet, en hoe sy en Adam as eerste mense in die wêreld, geval het vir die verleiding van die satan. So in plaas daarvan dat die mens moes heers oor die skepping, moes hulle nou begin werk. Soos diere nie sade plant en oes nie maar die HERE vir hulle kos voorsien, so was ons lewe voor die sondeval, maar as straf moet ons nou soek vir kos. Verder het ‘n groot ding fisies gebeur. Waar ons vroeër direkte toegang tot hierdie groot God gehad het en Hy elke dag saam met hulle vertoef het terwyl hulle in die tuin geloop het, het ons dit deur Adam en Eva se val verloor.

So nou moet ek elke dag besluit om of goed te doen, of kwaad te doen, want dit was die resultaat van hulle handeling. Ongelukkig in die nuwe vertaling is die vers verkeerd vertaal aangesien dit sê dat ons alles weet, terwyl al die ander Bybels in al die ander tale wys dat die mense toe kon onderskei tussen goed en kwaad. Daar is regtig legio voorbeelde wat ‘n persoon hier kan gebruik. Soos ons nou met mense maak wat nie in staat is om vir hulleself te sorg nie, soos kinders en ou mense, moet ons nou vir die mense sorg. Terwyl ek dit doen, doen ek alreeds alles wat die HERE wil hê ek moet doen, en dit is om my naaste lief te hê. En dan bewys ek alreeds dat die goedheid wat ek aan ander bewys, wys dat ek Hom, die HERE alreeds liefhet. (vgl 1 Joh 3). Ons sal heel moontlik vind dat dit alreeds iets is waaraan hulle uit hulle eie al aandag gegee het, want hulle weet daar kom ‘n dag wat jy nie meer kan voorsien nie, en kinders kan ook nog nie self voorsien in hulle eie behoeftes nie. So dit sal heel moontlik ‘n maklike verduideliking wees.En dit is wat die Bybel ook telkemale vir ons uitwys as die werke wat ons as gelowiges moet doen. (Sien maar Jesaja 58, Matteus 25 en al die verwysings na die gedeeltes).

Nou kan ek kom en sê dat ek is seker dat die persoon ook maar in die verlede of selfs nou huidiglik goed doen wat hy weet nie altyd reg is nie. Hoe weet ek en jy dat dit nie reg is nie. Die Gees van die HERE is deel van elke mens op aarde, en Hy gaan ons oortuig om vir ons te sê wanneer ons verkeerd optree. Dit is immers Sy eerste werk wat Hy moet doen in mense se lewens, is om ons te oortuig van sonde. (Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is”.(Joh 16:7-11).

Maar dit help nie dat ek net heeltyd weet dat ek hierdie verkeerde goed doen nie. So ek moet kom by die punt waar ek weet ek wil graag ophou met hierdie verkeerde gedrag en vra dat hierdie Gees van die HERE wat in my is, my sal wys wanneer ek verkeerd doen, maar ook dat Hy my sal help om nie meer verkeerd te doen nie.

So binne enkele begrippe het die persoon klaar besef dat hy deel het aan die sondeval, maar dat die Heilige Gees hom kan help om weer die verhouding wat die satan gesteel het, reg te maak. Nou hoe doen ek die tweede gedeelte? In die tyd voor Jesus Christus moes mense elke jaar ‘n bok of skaap slag om vir die HERE te vra om die verhouding te herstel. Maar, toe het God gekom met die ontsettende groot oplossing. Hy het Sy Seun aarde toe gestuur sodat Hy vir die mense kan wys hoe ons moet lewe, en toe het die mense so kwaad geword vir Hom want hulle wou nie dat Hy vir hulle wys wat reg was nie, en Hom doodgemaak.

Maar, toe het hierdie groot God, Jesus Christus weer lewend gemaak sodat Hy die eerste een was wat kon sterf, maar tog weer lewe. En indien Hy weer lewe, kan niks of niemand Hom weer doodmaak nie. So ek en jy kan ook deel word van daardie groep wat kan weet dat al kom maak iemand my vanaand dood of steel alles, daardie groot God altyd by ons sal wees en ons troos dat ons nie moedeloos word wanneer slegte dinge met ons gebeur nie. Dit beteken ook dat wanneer ek wel sterf, dit weer sal wees soos in die dae van Adam voor die sondeval. Nou na my dood op aarde, sal ek saam met Jesus in die hemel lewe en sal daar altyd kos wees om te eet. (Open 22)

Maar hoe kan ek dit regkry? Eerstens moet ek weet dat ek goed doen wat nie reg is nie. Ek moet weet dat ek dit nie self kan regstel nie, maar dat deur te glo in dit wat Jesus alreeds toe Hy dood is meer as 2000 jaar gelede, vir al my sonde ook betaal het, kan ek die ewige lewe beërwe. So indien ek glo dat Jesus dit vir my kan doen, moet ek gedoop word. Hoekom? Want ons weet dat indien ons in die water gaan daardie slegte een wat maak dat ek verkeerd optree, moet ek doodmaak in die doopwater. So wanneer ek opstaan uit die doopwater is die mag wat satan gehad het oor my, ook dood. Nou kan ek die verhaal gebruik van hoe die HERE met Israel opgetree het toe hulle Hom gevra het om uit Egipteland te kom. Nou kan ek hom daarop wys dat Paulus vir ons in 1 Korintiërs 10 geskryf het dat ons kan kyk hoe die HERE met Israel opgetree het, sodat ons kan leer uit hulle foute en ons nie dieselfde foute as hulle maak nie.

Die tyd is nou eers reg dat ek hom kan vra of hy glo wat ek hom vertel het, en ook graag wil lewe soos die HERE wil hê ons moet lewe. Ons moet nogsteeds besef dat nie alle mense hierdie lewe al het nie, maar indien ek hulle wys hoe my lewe verander het, hulle ook hulle lewe sal wil verander en dan kan hy hulle weer wys hoe om dit te doen. Indien die persoon nog ‘n ander taal gebruik sal mense hom eerder verstaan as wanneer ek deur ‘n tolk met so ‘n persoon moet deel.

Die volgende stap is om te begin en te wys dat omdat ons glo dat hierdie God en HERE ons wil plaas in die regte verhouding, ons nou nagmaal kan vier. Wat is nagmaal? Dit is ‘n bewys dat ek my lewe aflê en Sy lewe aanneem. Ek eet die Brood van die lewe, Sy liggaam, en drink van die wyn, Sy bloed. Dan het ek een met Hom geword en ontvang ek Sy lewe. Een voorwaarde van hierdie feesmaal wat ek saam met Jesus kan vier is dat ek oud genoeg moet wees om te kan besef wat ek verkeerd gedoen het en nogsteeds doen, en dat ek weet dat ek nie weer kan terug keer na my lewe voor ek nagmaal gevier het nie, want dan soos met Israel wat baie jare later terug Egipte toe is om weg te vlug van Nebukatneser, ek nooit weer nagmaal sal kan vier vir vergifnis nie, want dan maak ek Jesus Christus weer dood om te betaal vir my sonde. Ek kan nou die persoon verduidelik wat gebed is aangesien ons nou weer in die regte verhouding met die HERE is, Hy soos in die dae van Adam en Eva voor die sondeval, Hy altyd, elke oomblik van die dag by my is en ek dus met Hom kan praat asof Hy sigbaar by my is. Die volgende wat ek moet doen is om uit Egipte te trek deur gedoop te word. Daar word soos in Israel se dae, die Farao en sy soldate, so die duiwel en sy soldate (demone), in die see gedood sodat hulle my nie kan agtervolg nie. Ek moet weet dat ek nogsteeds verkeerde besluite sal neem, maar nou moet ek net vra in gebed dat my sonde vergewe moet word. (vgl 1 Joh 1:8 en 9). Ek weet die Heilige Gees sal altyd by my wees om my te help en te sê waar ek verkeerd optree, en my help om teen my vlees te veg. So nou kan ek vra dat die Gees van die HERE my sal lei dat ek hierdie verkeerde goeters, wat in Christen taal bekend staan as sonde, kan oorwin. Ek kan nou vir die persoon hande oplê en bid dat soos Moses ook gevra het dat die HERE van die Gees wat op Moses was, ook op die ander mense sal laat kom.

Noudat hy weet dat hy lewe, kan ek hom wys daarop dat soos elke saak daar altyd twee kante is, en dat hy nou die keuse gemaak het om ewig te lewe. Indien hy besluit het om dit nie te doen nie, sal hy die ewige dood sterf wanneer die ewige oordeel oor alle mense sal kom.

Die persoon sal nou kan begin lewe om ander te wys dat hy die HERE liefhet, deur die mense om hom lief te hê. Dit is wat ons die hele Bybel van lees, dat ons moet goed doen aan die weduwee, so iemand waat nie ‘n broodwinner in hul huis het nie, wees kinders, so kinders wie se ouers albei dood is, en die vreemdeling, die persoon wat nie die middele het om sy eie grond te kan besit nie. En dit begin met die mense naaste aan my sodat hulle daardeur kan vra dat hulle ook hierdie gawe van die ewige lewe kan ontvang..

Na hierdie stap kan ek hande op die persoon lê en vra dat hy die doping in die Heilige Gees sal ervaar, en dat die HERE die gawes wat Hy vir die persoon bestem het, sal uitdeel en wakker maak in die persoon. Vir die wat wonder, dit is nou alles wat ons leer in 1 Korintiërs 12. Nou eers kan ek vir die persoon ‘n Bybel gee, en vir hom vra om te lees oor Adam en Eva, oor die sondeval, hoe die HERE Israel uitgehelp het uit Egipte, wat hulle verkeerd gedoen het, hoe Jesus gekom het om die verbond of eensydige ooreenkoms wat die HERE met Israel gesluit het toe hulle uit Egipte is, volbring het, en hoe ons nou in oorwinning kan leef. Ek kan ook vir die persoon wys uit Esegiël 18 dat elkeen vir homself  rekenskap sal moet gee, en dat ek nie kan dink dat iemand anders vir my gaan betaal nie. So die wat nie hierdie pad volg van Jesus nie, dat hulle nogsteeds sondig is en daaroor nie die ewige lewe sal kan beërf nie. Nou kan jy as nuwe bekeerling saam met die mense wat ook hierdie boodskap aanvaar het, bymekaar kom om mekaar te ondersteun en vir mekaar te kan bid wanneer dit voel of die hele wêreld teen jou gekant is. Verder moet jy ook jou kinders leer totdat hulle groot genoeg is om die boodskap te verstaan, en dan moet jy hulle kan lei om hierdie besluit vir hulleself te kan neem. Jy is tog immers hul voorbeeld, en soos alle mense weet, is jou lyftaal 80% van wat jy sê. So jy moet besef dat die mense na jou gaan opkyk om te sien of jy nog reg lewe, en of jy nog die regte voorbeeld is vir mense.En moenie te haastig wees nie. Die HERE het al die kinders van twintig jaar en jonger nie gestraf en laat sterwe in die woestyn nie. So jou plig as ouer sal eers op jou kinders oorgaan by hul mondigwording.

Ek kan hierdie persoon agterlaat en verdere sendingwerk doen en opvolg werk met hom en die ander wat hy gekry het doen om deel van die HERE se volk te word, om dele van die Bybel wat hulle nie verstaan nie, vir hulle duidelik te maak. Maar soos ek in die begin gesê het is daar vier tipes mense. So nie elke persoon sal glo wat ek vir hom vertel nie, maar dit maak nie saak nie, want die HERE sal die persone wat wel ‘n oop gemoed het, laat verstaan waaroor Christenskap gaan. En dit is waar ons vandag nog is, met mense wat die eenvoudige boodskap van die Bybel in glo, en ander wat hulle eie besluite wil volg. Die mense het nog nooit geleer dat ek eers moet sterf in die doopwater voordat ek ewig kan lewe nie. Maar dit is net my werk om soos die landbouer die saad te plant, en die HERE sal dit laat ontkiem en laat groei, maar tog sal baie van die sade deur hul eie toedoen, nie ontkiem nie, en sal hulle nooit die ewige lewe beërf nie. Jesus het juis vir ons vertel wat met verskillende sade gebeur in Mattheus 13. Ek kan net bid dat die HERE in dié mense se lewe sal ingryp, en hulle laat besef dat hulle moet sterf voordat hulle vir ewig kan lewe.

So dit is my manier om kinders van die HERE te maak. Alles wat nie hier ingesluit is nie, gaan geen verskil aan my lewe maak nie. Dit help nie dat ek al hierdie ander leerstellings aanhang as ek nie eers in die eerste leerstellings ken nie. Dit is waarvan die Hebreërs skrywer geskryf het in Hebreërs 6 verse 1 en 2: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.” (Heb 6:1-2)

En die was maar net die eerste vier leerstellings. Dan is daar nog die leerstellings van ewige lewe en ewige dood, wat ek nie in detail eers bespreek het nie, maar die persoon sal wel bewus wees daarvan aangesien hy ‘n keuse moes maak voordat ons nagmaal gebruik het.

Amen.

Ns.

Ek weet daar is verskillende maniere van glo of geloofsbelydenisse, maar ek dink dit maak dit juis moeilik om die evangelie met mense te deel. Goed soos uitverkiesing het ek nie nodig om te verduidelik nie, ek moet net die saad saai. Baie sal nou sê dat dit nou van die mens afhang of hy gered gaan word, dit is ook nie my saak nie, want die Helige Gees sal die oortuigings werk doen. Dit hang maar af van die ingesteldheid van die individu, en daaroor het ek geen beheer nie. Daar weet net die HERE van.