Hoe tree jy as Christen op?

Print Friendly, PDF & Email

Dit is nogal moeilik om die onderwerp aan te raak, aangesien dit soos meeste van my skrywes, redelik kontroversieël is.

Hoekom wil ek dan skryf oor iets as ek weet is nogal kontroversieël? Omdat dit nie net my raak nie, maar ‘n menigte mense wat daar buite dieselfde probleme mee sit as wat ek ook mee gesit het. En net om mense attend daarop te maak dat Christenskap nie net iets is waaroor ons maar net praat nie, maar ook iets is wat by ‘n doen moet uitkom.

So ‘n rukkie gelede het ek op ‘n internasionale Christelike forum waar ek so nou en dan aan deelneem, afgekom op ‘n draad waar een persoon gevra het waar is die Kerk in sulke tye. Hy het genoem dat hy ‘n stuk raak gelees het van ‘n wêreld bekende Christelike sanger, wat maar soos ek ook met kanker sukkel. Die probleem by hom was dat dit nie dieselfde soort was as myne nie, so syne moes met alle mag teen baklei word.

Hy was baie bekend in die laat 80’s, in die vroeë 90’s en tree vandag weer op na sy kanker oorwin is, maar soos dit maar gaan as jy nie aanpas by dit wat die mense wil hoor nie, neem jou gewildheid ook maar af, en vir iemand wat dit as loopbaan gekies het, beteken dit ook dat jou inkomste afneem, en jy later maar in jou spaarvarkie moet begin krap om kostes te dek.

Dit is toe maar ook wat hy moes doen, en het hy besluit dat daar tog baie mense en gemeentes is waar hy opgetree het en na sy musiek geluister het. So het hy vir so net oor die 600 gemeentes ‘n briefie uitgestuur om te vra of hulle hom kon finansieël help om al hierdie kostes te dek. Die terugvoer was baie min. Om die waarheid te sê nie een van die gemeentes het eers hulle verwerdig om vir hom net ‘n briefie te stuur en te laat weet dat hulle nie kan ondersteun nie. Nie een het eers op hul webtuistes of Facebook rekeninge sy toestand gemeld en gevra dat die mense vir hom sou bid nie. Hy het toe sy eie insameling begin en ‘n redelike bedrag daardeur bymekaar gemaak.

‘n Paar dae later, sien ek toe op ‘n Facebook groep waaraan ek behoort as vryskut skrywer, wat ‘n geslote groep is wat slegs Bybel gefundeerde skrywers, film makers en musici aan behoort, ‘n boodskap van ‘n persoon wat in Denemarke sit en besluit het om homself te onttrek uit die Christelike mark aangesien almal wil hê hy moet vir hulle musiek komponeer vir hul films wat hulle maak, maar niemand bereid is om te betaal nie. Die laaste strooi was waar ‘n bekende Christelike filmmaatskappy hom gevra het om vir ses weke hulle te kom bystaan sonder vergoeding.

Ek het toe op dié pos en die van Carman, die sanger, gereageer met basies dieselfde pos. Wat ek gevind het is toe ek nog voltyds kon werk het ek al my boeke gratis op my webtuiste uitgegee. Met die dat ek vir die afgelope drie jaar nie meer kon werk nie, het ek my webtuiste verander en gevra dat mense ‘n bedrag sou betaal voor hulle die boeke kon af laai, of net ‘n donasie te gee en dan sou ek vir hulle die boeke aanstuur indien hulle nie die vol prys betaal het nie, maat tog ‘n boek wou lees. Indien hulle die volle prys betaal kon hulle die boek direk afgelaai het, so die donasie opsie was daar vir mense wat gevoel het dat my prys dalk te hoog was vir hulle.

Gedurende die tyd wat ek dit as betalend gehad het, het nie een persoon ‘n boek gekoop nie, maar die oomblik toe ek weer die skakel insit dat mense die boeke gratis kon aflaai, het die mense weer boeke afgelaai teen so gemiddeld van ‘n 100+ per maand. Ek het die week gekyk en ons staan so by die 26,000 boeke wat gratis afgelaai is. Die afgelope maand is dit seker hier by die 250 boeke.

Selfs op Kindle is dit dieselfde. Die oomblik wat ek ‘n promosie van ‘n boek doen waar mense ‘n boek gratis kan aflaai, word daar sommer baie afgelaai. Ek dink ons staan so net oor die 1200 boeke wat daar afgelaai is tydens promosies, en ek het daar darem 2 boeke verkoop.

Nou weer terug na die Facebook groep.

Net na my pos het ‘n persoon in Amerika wat kort Christelike films maak, sy storie vertel. Hy is genomineer vir die beste kort, onder 15 minute, Christelike film die jaar. Al wat hy vra is dat mense hom sal ondersteun om die films te maak sodat hy dit op Youtube en Vimeo kan laai om gratis na gekyk te word. Sy storie was dat nie eers ‘n handvol mense bereid is om hom te help nie, al is hy ook ‘n tydelike prediker wat basies voltyds werk om hom en sy familie te onderhou, maar het ook nogsteeds geen donasies ontvang nie.

Nou het ek berusting gekry dat ek nie alleen staan nie, maar dat dit wêreldwyd die geval is dat Christene en uitgewers slegs die mense sal help wat “naam” het. Dit gaan nie oor of die boodskap reg is nie, maar gaan die boek, lied of film vir hulle geld maak. En dit het my ook geleer om nie terug te kyk nie, maar om vorentoe te kyk, en te sien hoe die HERE elke dag vir ons voorsien. Somtyds op maniere wat ons nie eers gedink het moontlik is nie. Soos die een dag wat iemand in Nieu Seeland my Paypal details gesoek het en ek toe Su-Hannie s’n vir hom kon gee en sy die volgende dag vir my sê die ou speel nie, hy het sommer R2,500 oorbetaal sonder dat hy eers weet wie ek is. Gelukkig is ons in die posisie waar ons nie afhanklik is van die verkope van my boeke nie aangesien daar wel elke maand vir ons hulp en ondersteuning is, waarvoor ons baie dankbaar is. Maar dit sou verseker lekker gewees het as ek R40 vir elke boek gekry het. Dan kon ek saam met oorle Lukas Maree gesing het, “Ek sal kan doen met ‘n miljoen”.

Al die Christen tydskrifte in Suid Afrika sal slegs ‘n artikel plaas indien jy ‘n intekenaar van die tydskrif is, en dit polities korrek geskryf is. Jy mag geen persoon aanspreek nie, want dan beland jou skrywe in die snippermandjie. My eerste boek wat ek geskryf het, het ek in 2003 na seker die grootste uitgewer gestuur en alhoewel die persoon wat dit gelees het en my regtig wou ondersteun om die boek uit te gee, my laat weet het dat die direksie gevoel het dat dit kan lei tot gevoelens tussen hulle lesers en daarom sal hulle dit nie publiseer nie.

So wie word vandag ondersteun deur Christene? Mense wat net “mooi” dagstukkies elke jaar uitgee, wat al reeds op ander vlakke in die lewe sukses behaal het, wat net die mense se eie ego streel, mense wat alreeds boeke gepubliseer het wat ook nie veel vrae vra nie, en dan die wat Christelike fiksie skryf. Ek wonder of die mense besef dat die storie agter die Left Behind reeks, deur ‘n Roomse priester (Lacunza) ontwikkel was in die tyd van die reformasie van Luther en Calvyn. Hy wou seker maak dat die mense nie vingers kon wys na die Roomse Kerk nie, en dat alles eers teen die einde van die tyd sal openbaar word.

Die storie is toe deur ‘n baie ryk en invloedryke Britse prokureur wat toe ook as teoloog opgetree het, weer aangepas. Hy het ‘n baie groot gevolg gehad want sy pa was immers Lord Nelson. Die storie van John Nelson Darby is toe verder geneem deur Cyrus Schöfield wat groot borge gekry het om sy notas en Bybel aan elke bekende biblioteek en Universiteit wêreldwyd gratis verskaf en word vandag as die dispensasionele leer deur die kerke geleer. Die feit dat dit van Roomse afkoms is, en op fiksie gebaseer is, weet meeste van die lesers nie. Die skrywers is aangewys as die beste Christen fiksie skrywers van die eeu in die laat 90’s.

So kan ek aangaan en nog voorbeelde gebruik, soos die waar 300,000 mans by ‘n byeenkoms was wat elkeen R500 uit die sak gejaag het vir die naweek. Ek moet byvoeg dat nie alles na die persoon gegaan het nie. Ek sou nie omgee om skielik R 150 miljoen vir die naweek te kry nie, want ek is seker die kostes was nie eers 1% nie. G’n wonder dit is gratis deesdae nie, maar daar word tog vrywillige bydraes gevra.

So dit is waar die mense hulle geld spandeer. Maar, dit is nie wat ek in die Bybel leer nie. Jakobus stel dit so: Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.” (Jas 2:14-17) Die gedeelte wat ek in vetdruk uitgelig het, was by verre die antwoord wat die meeste op al die verskillende situasies wat ek vroeër bespreek het, gebruik is.

Ek het ook ‘n fondsinsameling bladsy in my winkel waar mense kan help om my geveg te ondersteun. Ek is maar aangewys op staatshospitale, maar moet ook maar na ander dokters gaan vir ander sake, en vir verwysings. Dit kan gedoen word by:

http://www.shamaministries.org.za/wp/product/carcinoid-cancer-project/

Dit laat my maar net dink.

Ek het ‘n skakel hier na twee van Carman, die sanger wat ek vroeër genoem het, se mooiste liedere (vir my) wat hy gesing het. Hierdie liedere het al soveel keer my deur moeilike tye gedra, en weer rigting gegee om te weet wat my doel op aarde is.

https://www.youtube.com/watch?v=wlITI74NCz4

https://www.youtube.com/watch?v=q6T96RQjW8k&list=PLXVk9AFFmfxinCkXyNoA0yyOedWxCHl_-&index=8

This entry was posted in Uncategorized by admin. Bookmark the permalink.